Leesplan inligting

Hoop vir die Mamma met Nageboortelike DepressieVoorbeeld

Hope for the Postpartum Mom

DAG 3 VAN 5

Die Belangrikheid van Rus 


Slaap is 'n belangrike deel van selfversorging en is onontbeerlik in die helingsproses. God wil hê dat ons goeie rentmeesters van ons liggame moet wees en tog sukkel baie van ons om ons behoeftes tot selfversorging te herken en toe te pas. Voldoende slaap is noodsaaklik vir ons welstand en 'n tekort aan slaap laat ons broos en kwesbaar voel — wat ideale teelaarde vir negatiewe gevoelens en valse oortuigings is. Nageboortelike depressie kan betekenisvolle ontwrigtings in ons slaappatrone veroorsaak, byvoorbeeld slapeloosheid, oormatige slaap of gereelde slaap onderbrekings. As 'n mens hierdie simptome kombineer met die slaappatrone van 'n pasgeborene, is dit duidelik dat dit dan onmoontlik is om enige goeie gehalte rus in te kry. God wil hê dat ons in Hom moet vertoef en die Hebreeuse vertaling van vertoef, is "om te rus". 



In plaas daarvan om te rus, voel die meeste ma's deesdae, na my mening, dat ons superma's moet wees. In hierdie opsig doen sosiale media ons geen gunste nie. Jy skenk geboorte aan jou baba. Kom tuis. Jy pas dadelik weer in jou stywepyp langbroeke. Sonder om te skroom is jy terug in jou normale roetine om inkopies te doen, maatjies oor te nooi, die ander kinders by die skool af te laai en op te tel, ensovoorts. 



Weet jy wat egter heeltemal aanvaarbaar sal wees? Jy skenk geboorte aan jou baba. Kom tuis. Dra nog 'n rukkie daardie reklangbroek. Laat jou kruideniersware aflewer. Vra dalk jou man of 'n vriendin om jou ander kind(ers) by die skool te gaan oplaai. Dan lê jy 'n rukkie langer in die bed en jy rus. 



Weet jy wat die Bybel sê? Dit praat ook oor die belangrikheid van rus. Ons sal by die Allerhoogste rus vind (Psalm 91:1). Ons God sê in Psalm 46:11 (AFR83): "Bedaar en erken dat Ek God is". God, die Skepper van die heelal, het al die delikate, verborge dele van jou baba geskep. Hy het hom/haar in jou aanmekaargeweef. God het hom/haar wonderbaarlik ingewikkeld gemaak (Psalm 139:15 AFR83). Dieselfde God wat jou volmaakte baba geskep het, sal aanhou om na jou in hierdie nageboortelike tydperk om te sien terwyl jy rus. 



Een van my vriendinne sê dat sy 'n "interne sneller" het wat haar waarsku wanneer sy slaap nodig het. Wanneer sy irrasionele gedagtes oor haar baba begin dink, vra sy om hulp sodat sy kan rus, 'n kort rukkie kan slaap, of meer ononderbroke slaap in die nag kan kry. Wanneer jy vind dat jy geïrriteerd of meer emosioneel as gewoonlik is, of begin skree, huil of woedend word of selfs wanneer jy meer afgestomp en belangeloos raak, is dit waarskynlik tyd om meer te rus. Ek weet dat jy dalk dink: " in teorie klink dit wonderlik, maar my omstandighede sal dit nooit toelaat nie". My raad aan jou is dat jou geestelike en emosionele gesondheid te belangrik is om nié 'n plan te maak om meer te rus en/of te slaap nie. 



Ek hou so baie daarvan wat Eksodus 14:14 sê: "Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg". Natuurlik is die konteks 'n bietjie anders. Om van die Egiptenare verlos te word is 'n bietjie verskillend as om aan 'n baba geboorte te skenk, maar dieselfde waarheid is ook op ons van toepassing. Die Israeliete moes 'n hele klomp emosies hanteer. Hulle was vreesbevange oor wat aan die gebeur was. Vers 10 sê hulle het "baie bang geword en benoud na die Here geroep". Hulle het gemor en gesê: "Dit is vir ons beter om vir [die Egiptenare] te werk as om hier in die woestyn om te kom" (vers 12b). Die Here het hulle verlos van die omstandighede waarin hulle hulle bevind het. Hulle kon op Hom vertrou. 



In hierdie nageboortelike tydperk is dieselfde vir jou waar. Dit maak mens soms vreesbevange. Idees kan jou gedagtes sommer onverwags binnedring. Jy weet dalk nie hoe om jou pasgeborene te hanteer nie. Dalk het jy tweetjies onder tweejarige ouderdom. Of selfs twee klein kindertjies en nog 'n baba op die koop toe. Ons kan mor en kla oor die situasie: "dit is so moeilik", "ek kan hierdie situasie nie hanteer nie", "alles voel so moeilik op hierdie oomblik", ensovoorts. Tussen al hierdie emosies, is die waarheid eenvoudig dít: die Here SAL by jou wees. Hy is met jou in hierdie tydperk en Hy sal altyd met jou wees. Jy kan maar slaap. Jy kan maar rus. Jy kan vertrou dat Hy in beheer is. 



Vandag se Aksieplan:



Ons wil jou elke dag bemoedig met die waarheid en ook met 'n aksieplan. 



Vandag se aksieplan is seker vanselfsprekend: RUS. Slaap 'n rukkie. Vra vir jou man om een van die voedings in die middel van die nag te hanteer sodat jy ses ure kan slaap, in plaas van drie. Skakel 'n vriendin of familielid en vra of hulle dalk na jou baba of kinders kan omsien terwyl jy slaap. Slaap is lewensnoodsaaklik en 'n mens moet doelbewus goeie slaapgewoontes aanleer en dit volhou. Maak van gehalte rus 'n prioriteit en, as dit nodig is, gesels met jou huisdokter oor jou slaappatrone, hoeveel kafeïen jy inneem en ander faktore wat 'n rol mag speel. 



Gebed vir die Mamma met Nageboortelike Depressie



Here, dankie dat U nie net die Skepper van die wêreld is nie, maar ook van my kosbare nuwe baba. U het hom/haar volmaak gevorm. Ek loof U daarvoor. Dankie dat U rus voorsien. Ek vra dat U altyd vir ons sal sorg. Verskaf aan ons rus. Verskaf aan ons slaap. Verskaf aan my kort tydjies wanneer ek net myself kan wees. Ek kies vandag om by die Allerhoogste rus te vind. Dinge kan later gedoen word. Nou wil ek net stil wees en U deur hierdie uitputtende tydperk van my lewe vertrou. U sal my nooit versaak nie. Amen.


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Hope for the Postpartum Mom

Die Bybel verwys nie spesifiek na die tydperk na die geboorte van 'n baba nie, maar daar is verskeie verhale oor mense wat deur moeilike tye gaan, wat vir ons wys dat daar in elke lewenstydperk hoop is. Hierdie 5-dag lee...

More

Ons wil graag vir Awesome Marriage bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting kan jy hulle besoek by: https://awesomemarriage.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid