Leesplan inligting

Hoop vir die Mamma met Nageboortelike DepressieVoorbeeld

Hope for the Postpartum Mom

DAG 4 VAN 5

Wees Versigtig Waaraan Jy Dink


Ons het gister gepraat oor die Israeliete en hul gemor en gekla in die woestyn. Die Here was daar bý hulle, gereed om hulle van die Egiptenare te verlos. In die vorige hoofstukke van Eksodus lees ons hoe God manna aan hulle voorsien het. God het in elke behoefte van hulle voorsien, maar al wat hulle kon doen, was kla. Hoe vinnig het hulle nie vergeet nie! Ongelukkig kan ons net so vinnig vergeet. 



Dit sou darem lekker gewees het as ons in Eksodus 14:10-11 gelees het: "Die Israeliete was vreesbevange, maar hulle het onthou hoe die Here in die verlede altyd vir hulle gesorg het en daarom het hulle vol vertroue die pad in die woestyn saam met Hom gestap en hulle was vol afwagting om te sien hoe Hy hulle sou verlos". In plaas daarvan het hulle egter op hul negatiewe gedagtes gefokus en alles vergeet wat God al vir hulle gedoen het. Hul gedagtes het nie die waarheid weerspieël nie. Hul gedagtes was negatief en deurtrek van leuens. Hulle het vir Moses gesê dat dit beter sou wees om in Egipte te sterf eerder as om hulle in hul huidige situasie te bevind. 



Dit lei ons na hierdie gedagte: hoe belangrik ons ingesteldheid (veral ten opsigte van ons gedagtes) tydens die nageboortelike tydperk is. Ons lewens beweeg in die rigting van ons mees prominente gedagtes. Ons gedagtes rig ons gevoelens, oortuigings en optrede. Wanneer ons in 'n toestand van depressie verkeer, moet ons ons gedagtes voer met die kragtige waarhede oor wie God is en wie óns in Christus is. Jy is 'n pragtige, gesalfde skepping van die Allerhoogste. Hy het jou lief. Hy sal jou nooit in hierdie donker diepte alleen los nie. 



Ek gaan 100% eerlik wees en erken dat dit vir my baie moeilik was — en soms nog steeds is. Tydens my nageboortelike depressie was my gedagtes baie negatief en het soms heeltemal buite beheer geraak. Dit was vir my moeilik om my gedagtes na al die waarhede van God terug te bring. Ek het egter daarvoor baklei. Ek het waarhede gevind en daaraan vasgeklou. Ek het Skrifgedeeltes by my wasbak vasgeplak sodat, wanneer ek vir die miljoenste keer gestaan en bottels was het, ek aan sy waarhede kon vasklou. Ek het Skrifgedeeltes teen my kamer se spieël opgeplak sodat, wanneer ek myself gereed kry vir die dag, ek aan die waarhede kon vasklou. 



Romeine 12:2b sê: " ... laat God julle verander deur julle denke te vernuwe". Hoe vernuwe 'n mens jou denke? Deur versigtig te wees waaraan jy dink. Is jou gedagtes waar of is dit leuens? As dit leuens is, vervang hulle met waarhede. Mettertyd sal daardie waarhede help om jou gedagtes vry te maak van die leuens wat dit geïnfiltreer het. 



Leuens wat ek geglo het tydens my nageboortelike tydperk: 



“Ek is 'n mislukking.”



“Ek is nie 'n goeie ma nie.”



“Ek kan dit nie hanteer nie.”



“Dis te moeilik.”



“Dinge gaan nooit beter word nie.”



“Ek is uitgeput.”



Ensovoorts. 



Een leuen sou lei na 'n volgende en dan 'n volgende en skielik het ek begin glo dat ek die wêreld se slegste ma is. 



Ek het Romeine 12:2 ter harte geneem en daarop gefokus om my gedagtes met die waarheid te vernuwe:



“Ek is nie 'n mislukking nie. Ek doen die beste wat ek kan. God rus my toe" (Hebreërs 13:21).



“Ek is 'n goeie ma. God help my wanneer ek swak is" (2 Korintiërs 12:9).



“Ek kan dit hanteer" (Filippense 4:13).



“Dit is moeilik, maar God is met my midde-in die moeilike omstandighede" (Psalm 34:18).



“Dinge sal beter raak. Hy sal jou weer oprig" (1 Petrus 5:7-10).



“God gee die vermoeides krag en versterk dié wat nie meer kan nie" (Jesaja 40:29-31).



Jou gedagtes voel dalk op die oomblik vir jou soos 'n vyand, maar dit is belangrik om te onthou dat ons breine 'n wonderlike vermoë het om aan te pas. Danksy neuroplastisiteit, wat ons toelaat om nuwe gedagtepatrone te ontwikkel, kan ons ons gedagtes heeltemal verander. 



Vandag se Aksieplan:



Ons wil jou elke dag aanmoedig met die waarheid en ook met 'n aksieplan. 



Vandag se aksieplan: Wees versigtig waaraan jy dink. Gryp 'n joernaal en skryf 'n paar van jou onlangse gedagtes neer. As hulle negatief is en nie veel waarheid bevat nie, gryp jou Bybel en kyk wat God sê. Plak 'n teksvers iewers naby jou wasbak vas. Plak 'n teksvers aan jou badkamerspieël vas. Oordink die Skrif. Die Skrif sal jou siel genees, selfs wanneer dit te midde van jou nageboortelike siekte vir jou sinneloos voorkom. 



Nog 'n tree om te gee, is bewustelikheid en daaglikse bevestigings. Erken jou gevoelens, maar besef ook dat hulle altyd aan die verander is, nooit permanent nie. Gevoelens is nie altyd gegrond op waarheid of werklikheid nie. Jy voel dalk asof God jou in hierdie donker tydperk verlaat of vergeet het, maar hierdie gevoelens is nie die waarheid nie. Die waarheid is dat God jou nooit sal verlaat of verwerp nie. 1 Johannes 3:20 (DB) sê dat God groter as ons skuldgevoelens of onsekerhede is en dat Hy meer van ons weet as onsself. Moenie toelaat dat jou gevoelens jou waarheid word nie. 



Gebed vir die Mamma met Nageboortelike Depressie



Here, dankie dat U my uitgeputte siel bemoedig. Dankie vir u waarheid wat al die leuens in my gedagtes ver oortref. Help my om my gedagtes te vernuwe. Help my om aan die waarheid vas te klou wanneer my gedagtes met my op loop sit. Help my om op U staat te maak op die dae wanneer ek uitgeput is. Ek wil vandag op my swakheid roem. Wanneer ek op my swakheid roem, kom u krag op my rus. U genade is vir my genoeg. U krag kom tot volle werking wanneer ek swak is. Dankie dat U my in hierdie tydperk toerus om die ma te wees wat U my geskep het om te wees. U waarheid verkwik my siel en ek dank U daarvoor. Amen.


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Hope for the Postpartum Mom

Die Bybel verwys nie spesifiek na die tydperk na die geboorte van 'n baba nie, maar daar is verskeie verhale oor mense wat deur moeilike tye gaan, wat vir ons wys dat daar in elke lewenstydperk hoop is. Hierdie 5-dag lee...

More

Ons wil graag vir Awesome Marriage bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting kan jy hulle besoek by: https://awesomemarriage.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid