Leesplan inligting

Die Bybel: 'n VerduidelikingVoorbeeld

The Bible: Explained

DAG 5 VAN 7

Hoe verstaan ek die Bybel?



Ons het baie gedek van wat die Bybel is, maar hoe kan jy dit vandag werklik prakties verstaan? 



Miskien het jy geprobeer om dit te lees en gevind jy is verlore, deurmekaar, of onseker hoe om dit te verstaan. Miskien weet jy nie hoe of waar om te begin nie. Geen probleem nie! 



Eerstens moet jy weet dat daar nie 'n regte of verkeerde manier is om die Woord van God te begin lees nie. Hy praat met elkeen van ons op 'n ander manier. Dit is bevrydend om te eksperimenteer met hoe jy die Skrif lees; dit mag dalk 'n rukkie neem om uit te vind wat vir jou werk. Hier is 'n paar wenke om jou te help om die Woord van God te begin lees. 




  1. Sluit gebed in. Ons tyd met God is nie eensydig nie. Hy is 'n persoonlike God wat met ons praat wanneer ons wag om van Hom te hoor. God gebruik dikwels sy Woord om ons rigting te gee, om 'n paar antwoorde te gee, of ons te help om Hom te verstaan. Nooi dus vir God in jou stiltetyd in. Dit hoef nie uitvoerig te wees nie. Oorweeg om te bid voor jy begin lees en vra om hulp as jy vashaak. Jy kan so bid: "Vader, onthul vandag iets nuuts aan my." Of "Vader, kan U my help om hierdie deel te verstaan?" Of selfs: "Vader, hoe moet ek dit wat ek vandag geleer het uitleef?" 

  2. Weet wat die doel is. God sal vir ons dinge onthul deur die Heilige Gees, maar jy mag dalk nie 'n groot openbaring hê elke keer as jy die Skrif lees nie. Dis reg so! Dit beteken nie jy doen iets verkeerd nie. Die doel van Bybellees is nie om dit van 'n lysie af te merk nie, God te probeer dwing om jou lief te hê nie, om 'n goeie Christen te wees nie, of om 'n antwoord op elke vraag in jou lewe te kry nie. Die doel van Bybellees is om God te leer ken. Moet dus nie te veel verwagtinge op jou stiltetyd plaas nie. Dink net daaraan as 'n manier om God vandag 'n bietjie beter as gister te leer ken. 

  3. Leef dit uit. God wil nie net hê ons moet sy Woord net lees nie, ons moet dit ook in sy wêreld toepas. Moet dus nie net die Bybel lees nie — gee aandag hoe jy dit elke dag 'n bietjie meer in jou lewe kan toepas! Laat die waarheid, genade en liefde wat in sy Woord onthul word, jou gedagtegang verander, wat op sy beurt weer jou woorde, aksies en jou verhoudings sal verander.

  4. Praat met ander daaroor. God praat met ons deur sy Woord, maar ook deur sy mense. Wanneer ons met sy mense oor sy Woord praat, mag ons dalk iets vind wat ons nie op ons eie sou ontdek het nie. Kerke was nog altyd voorstanders daarvan om die Skrif saam met ander te lees. Kom ons volg die voorbeeld van die vroeë kerk en praat met ander oor die Bybel. As jy vrae het, vra! Die slotsom? Moenie voel jy moet alles op jou eie uitwerk nie. 

  5. Lees dit binne verband. Ons sal môre meer hieroor praat, maar voordat jy een vers jou leuse vir die lewe maak — maak eers seker jy verstaan dit in die verband waar dit voorkom. Soms is die doel van 'n vers om ons iets te leer — nie om uit te leef nie — dus moet jy versigtig wees om dit nie te laat sê wat jy wil hê nie, maar eerder wat dit werklik sê.

  6. Moenie alles op een slag probeer aanpak nie. Moenie voel jy moet die hele Bybel op een slag lees nie. Jy kan klein begin! Probeer om meer leesplanne soos hierdie een deur te werk om jou in die Skrif in te lei. Probeer as 'n begin, om een korter boek in die Bybel te lees, of 'n hoofstuk op 'n dag. Dit is beter om 'n kort Skrifgedeelte te lees en te verstaan as om deur 'n lang stuk te ploeg wat jy dadelik vergeet of niks mee doen nie.


Dis net 'n paar idees om jou te help om mee te begin, maar pas al die wenke toe en geniet dit! Jy kan ook probeer om verse te memoriseer, 'n joernaal daaroor by te hou, versbeelde daarvan te maak, na klankbybels te luister, ens. Daar is so baie wonderlike maniere om die Skrif te verstaan, vra God dus vir wysheid, vra ander om hulp as jy dit nodig het, en wees geduldig met die proses.  



Bid: Vader, dankie dat U u Woord vir ons gee om ons te help en te leer hoe om te leef. Help my vandag om dit beter te verstaan. Wys my hoe om dit te lees en hoe om dit uit te leef. Praat vandag met my deur u Woord, en wys my hoe om dit uit te leef sodat ek meer soos U kan word. 


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

The Bible: Explained

Die Bybel is een van die invloedrykste boeke van alle tye, maar dit kan oorweldigend voorkom om te weet hoe om dit te verstaan en wat om daarmee te doen. Hierdie 7-dag leesplan sal jou help om te ontsluit wat die Bybel i...

More

Hierdie leesplan is geskep in vennootskap met Life.Church en illumiNations vir die Share Light veldtog. Vir meer inligting, besoek asseblief www.life.church en www.sharelight2033.com.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid