Leesplan inligting

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 4 VAN 21

VERSOEKINGS IS DAAR OM JOU GELOOF TE TOETS


Dink ’n bietjie hoeveel keer het jy al in die oggend opgestaan en vir jouself gesê: Vandag gaan ek nie knorrig wees met almal om my nie. Skaars ’n halfuur later moet jy jou kleuter aantrek vir skool. Hy kerm, want hy is nog vaak. Hy wil nie aantrek wat jy reggesit het nie, en hy wil nie sy pap eet nie. Net daar vlieg al jou beste voornemens by die deur uit. Jy gil sommer op hom, want nou is julle alwéér laat. 


Jy het miskien die besluit geneem om nooit weer ’n affair te hê nie, of jy wil ophou om op ’n oneerlike manier geld te maak. Dalk het jy vir jouself gesê jy wil nooit weer ’n leuen vertel nie. En tog, as jy weer kyk, is dit te laat, en het jy dit maar weer gedoen. 


Die duiwel neem altyd sy kans waar en kom fluister in jou oor: Jy sal tog altyd misluk. Jou pa het ook so gou kwaad geword en dis oorerflik, so jy kan tog nie anders wees nie. Later begin jy dink jy sál altyd jou humeur verloor, jy kan net sowel ophou probeer. Jy begin hierdie leuens glo en dit word jou identiteit, dit word deel van wie jy is. Die een wat gou kwaad word. Jy dink jou gesin en kollegas moet jou maar so aanvaar, want dis nou eenmaal hoe jy is. 


Jy wonder miskien nou: Hoe klink hierdie stem wat so vir my jok? Klink dit soos ’n bose stem of een uit ’n rillerfliek? Hoe kan ek dit herken? Hier is nuus vir jou – dit is jou eie stem! Dis jou binneste wat met jou praat. 


Ons almal kry oomblikke wanneer ons so ’n bietjie perspektief verloor. Jy gaan deur ’n moeilike tyd by die werk of daar is hartseer in jou lewe. Jy is moedeloos en raak ongeduldig met jouself. Dan begin jy daardie stem al hoe makliker glo en jy voel al hoe swakker, want jy het nie krag om daarteen te baklei nie. 


Gelukkig het ’n leuen nie ’n lang raklewe nie. Goed, jy glo dalk al hierdie leuens oor jouself. Maar een of ander tyd sál die waarheid seëvier. Die waarheid is dat jy die Gees in jou het. Jy hoef nie ’n slaaf van sonde te wees nie. Jy hoef nie altyd almal om jou seer te maak nie, jy kán verander. 


Is dit dan nie God wat ’n mens toets om te kyk hoe sterk jou geloof is nie? Jakobus sê dit baie duidelik – dit is nié Hy wat jou vertel om deur die duiwel versoek te word nie. Dit het by Adam en Eva begin. Die slang het versoeking gebring en dis nou deel van ons menswees. 


Elke dag sien jy dinge, jy hoor goed en dit alles het ’n effek op jou, want jy is ’n sensitiewe wese. Jy het begeertes en allerhande versoekings spruit voort uit hierdie begeertes. Versoeking gebeur met almal en dis nie jou skuld nie. Dit is nie ’n teken dat jy klaar verloor het en maar net sowel kan handdoek ingooi nie. Jy kan nie altyd sulke situasies vermy nie, maar jy kan probeer om nie daaraan toe te gee nie. 


Gelukkig is daar ’n goeie plan om jou uit ’n versoeking te kry. Hierdie plan is tweeledig. Kom ons vat eers die een deel van die plan. Hier is ’n loophole ingebou. Dit werk so: selfs al swig jy voor ’n versoeking, is alles nog nie verby nie. Jesus het gesterf vir jou fout. 


Selfs al dink jy, ag nee wat, jy’t weer die verkeerde pad gevat, is daar hoop. Elke keer. Party mense redeneer: “Ja, maar onthou, dit was voor jou bekering. Nou werk dit nie meer so nie.” 


Verkeerd. Dit geld steeds. Die ander deel van die plan is natuurlik dat jy voor die tyd sterk genoeg sal wees om nie toe te gee nie. Jy kán krag en wysheid kry om “nee” te sê. 


Dit hang alles af van wie jy gaan glo. As jy die negatiewe stem in jou gedagtes glo, dan sal jy val. As jy God se beloftes glo, dan sal jy sterk staan. Dit maak gelukkig nie saak wat gebeur nie, jy is klaar gered! Onthou, jy ís nie jou sonde nie. 


Later in Jakobus lees ons dat ons moet bly wees oor versoekings. Interessant, nè? Dit beteken maar net as so iets oor jou pad kom, moet jy nie sommer dadelik moedeloos raak nie. Daar moet eintlik ’n tintelende blydskap in jou opkom. 


As die versoeking volgende keer kom, kan jy dus kies watter emosies jy wil ervaar. Jy kan die leuens in jou gedagtes glo en dink jy is te swak om weerstand te bied. Of jy kan positief daaroor dink. Jy het mos nou ’n kans om te wys vir watter “span” jy speel – met die beste Afrigter natuurlik! 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid