Leesplan inligting

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 1 VAN 21

JY MAG NIE VIR DIESELFDE PROBLEEM BID NIE


Dalk het jy ook al ervaar dat dit met jou op sekere terreine van jou lewe goed gaan, maar op ander gebiede regtig sleg. Jy was miskien al bo-op die berg én onder in die put – soos om daardie bestuurspos te kry terwyl jou huwelik uitmekaarval. 


Dis presies wat met Hanna se lewe aan die gang was. Uiterlik het dit gelyk asof sy slaag, maar innerlik was sy besig om uitmekaar te val. Hanna was eintlik ’n baie geseënde vrou. Sy het ’n man gehad wat goed vir haar gesorg het en lief was vir haar. Maar tog was daar iets wat haar vreeslik gepla het – sy was onvrugbaar. Sy wou verskriklik graag ’n baba hê, maar sy kon net nie swanger raak nie. En dít terwyl Peninna haar die hele tyd daaroor gespot en verneder het. 


Hanna het uit ’n baie godsdienstige Joodse familie gekom wat elke jaar Israel toe gegaan het vir Paasfees. Daardie jaar, nes die vorige jare, het sy weer in die tempel gesmeek vir ’n kind. Sy het nooit ophou bid nie. Haar gebed was baie eerlik – sy stort haar hart en al haar seer uit. 


Wanneer laas het jy só gebid en niks teruggehou nie? Was jy al so hartseer dat mense gedink het daar is iets fout, want jy lyk nie goed nie? Deesdae is mense nie meer desperaat genoeg nie. Hulle sien kans om met die pyn te leef. Hulle is bereid om net te bestaan en doelloos voort te ploeter. 


Daniël het driemaal per dag hardop gebid, en Moses het met sy hele liggaam en alles in hom gebid. Maar Hanna se desperate gebed was net ’n fluistering, sy het saggies geprewel. Jy bid miskien ook in jou gedagtes terwyl jy ry of sommer so deur die dag. Daar is niks fout daarmee as jy met hart en siel bid, sonder om dit hardop te doen nie. Dis oukei om nie ’n groot bohaai van jou gebede te maak nie. 


Daar is eintlik nie een regte manier om te bid nie. Daar is geen towerformule waar jy ’n vers opsê en drie keer om jou huis moet draf voor jou gebed verhoor word nie. God kan ’n “sagte” gebed hoor én Hy kan ’n “harde” gebed hoor. 


Terwyl Hanna besig was om te bid, konfronteer Eli, die priester, haar. Hy dink sy is dronk toe hy haar so sien fluister. Maar sy gaan kruip nie weg nie. Sy verdedig haarself en sê dis omdat sy so hartseer is dat sy so lank gebid het. Hanna was onkeerbaar. Sy het na ’n oplossing gesoek – niks anders sou goed genoeg wees nie. Sy het geweier om nié gehoor te word nie. 


Sy gaan selfs ’n stappie verder – sy onderhandel met die Here. Sy belowe as sy ’n seun kry, sal sy hom teruggee om sy lewe lank in die tempel te werk. Later lees ons dat sy toe vir Samuel as klein seuntjie na die tempel toe geneem het, net soos sy beloof het. 


Hier het baie mense al die toets gedruip – miskien jy ook. Jy vra maklik dat jy die werk moet kry of jou kind gesond moet word, dan sal jy dit of dat doen of geld vir die kerk gee. Maar as dit weer beter gaan, dan het jy skuld om af te betaal of daar is nie nou tyd nie, en jy vergeet van jou belofte. Dis nie verkeerd om so te onderhandel nie, Gideon het dit ook gedoen. Solank jy nie vergeet om te doen wat jy gesê het jy gaan doen nie. 


Hanna se antwoord kom deur Eli toe hy vir haar sê: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” Sy het nie daarna gaan sit en wag dat ’n wonderwerk moet gebeur nie. Sy het haar trane afgedroog en gaan eet. Sy het vertrou dat sy ’n oplossing vir haar probleem sou kry. Sy het gedóén. 


Hanna kon haar omstandighede gelate aanvaar het en berus het by die feit dat sy kinderloos is. Maar dan sou Samuel nooit daar gewees het nie. Dink net ’n bietjie hoe sou die geskiedenis verander het as Hanna nie gedoen het wat sy belowe het nie! As sy nie vir Samuel teruggevat het tempel toe nie. 


Weet jy dat agter jóú gehoorsaamheid sit daar ’n gesin, ’n man, kinders of ’n familie? As jy gehoorsaam wil wees, móét jy teruggee. 


As jy die goeie nuus wil oordra van een geslag na die volgende, moet jy ook getrou bly. Jy moet die goeie dinge wat jy kry, teruggee, sodat die volgende geslag ook daaruit kan leer. Jy mág aanhou om te bid en te smeek, tót jy ’n antwoord of ’n oplossing vir jou probleem kry. 

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid