Leesplan inligting

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 7 VAN 21

JOU DROME IS NIE BELANGRIK NIE


Daar is baie mense in ons land wat loop en vertel, toemaar, een van die dae is hierdie moeilike tye verby. Alles sal binnekort verander. Dis mos wat ons graag wil hoor! 


Dis wat die Israeliete ook graag daardie tyd wou hoor. Hier is hulle in ballingskap. Hulle sit in die middel van Babel, ’n stad met baie goddelose mense. Dis nie hulle regering nie, dis nie hulle godsdiens nie, dis nie hulle land nie. Dan kom die valse profete en sê hulle moenie grond koop en hulle daar vestig nie, want hulle gaan weer terug Jerusalem toe. 


Jy kan dink hoe opgewonde hulle was toe hulle dit hoor! Nog net ’n rukkie, dan kan hulle weer by hulle eie mense wees. Maar Jeremia skryf vir die volk ’n brief waarin hy vir hulle die slegte nuus gee dat hulle nie nou dadelik verlos gaan word nie. Hulle moet in Babel vir hulle huise bou, tuinmaak, trou en kinders kry. Hulle het ’n doel, nét daar, terwyl hulle in ballingskap is. 


Jeremia kon maklik vir sy mense die boodskap so ’n bietjie verdraai het en gesê het wat hulle graag wou hoor: Toemaar julle, die swaarkry is amper verby, julle gaan binnekort terug na julle land toe. Droom solank drome en beplan vir julle toekoms. 


Maar hy is eerlik met hulle. Nee, sê hy, julle gaan eers oor 70 jaar weer terug. Julle moet eers ’n paar lesse leer. Die vrede en liefde wat in julle is, moet eers die mense van Babel beïnvloed; die evangelie moet in hierdie land verkondig word en ’n verskil maak. 


Die volk was seker baie mismoedig toe hulle hierdie nuus kry. Hulle moes gewonder het of hulle gebede dan nie verhoor is nie. Jy sien, ons het mos ’n prentjie in ons koppe van hoe dit is as God vir ons sorg. Daar is elke maand ’n salaris, genoeg en lekker kos, mooi klere en warm komberse. Alles werk net reg uit. Maar Sy prentjie lyk anders. Dit moet goed gaan met jou, maar vir ’n ander rede: Sodat jy vir die armes kan kos en klere gee, ’n werk kan skep, ’n verskil kan maak en die evangelie kan verkondig. Jy sien, dis asof ons nie altyd dieselfde taal praat nie. 


Ons bid almal vir verandering in ons land. Maar ons verandering het eerder te doen met gemak en sekuriteit; alles moet maklik wees. Dit moet net reg uitwerk vir jou en jou kinders. Daar moet darem vir hulle ’n toekoms wees. Terwyl die eintlike verandering eerder iets behoort te wees dat mense se harte verander. 


Dink ’n bietjie hoe negatief jy voel as die kerk begin praat oor: Kom ons bou ons land op; kom ons gee iets vir die armes; kom ons hou ’n biddag. Dit pas miskien nie in jou boks nie. Soos die Israeliete soek jy dalk ook mense wat sê wat jy wil hoor. Iets soos: Toemaar, julle, hier kom ’n quick fix. Binnekort gaan alles verander. 


Ek het ’n vriend wat baie geld maak. Maar hy sê hy glo nie dis vir God belangrik hoeveel geld hy maak nie. Hy bid nooit vir hulp met sy transaksies nie, want hy glo as hy sy werk reg en eerlik doen, sal die transaksie deurgaan. Wat wel belangrik is, is wat hy met sy geld doen na die tyd. Hier stem ek definitief met hom saam. 


Wat die eerste deel betref, verskil ek van hom. Jy ken seker die Santam-advertensie waar een man met al sy besittings verbykom en alles is onder die sambreel? Dan kom ’n ander een verby met sy yskas op sy rug, want 


dit is nie verseker nie. Hy moet dit nou self beskerm, want dis nie onder die sambreel nie. Alles in jou lewe is onder hemelse genade en beskerming – jou huwelik, jou finansies, jou gesondheid, die politiek, alles. 


Wat wel gebeur is, partykeer maak jy sekere goed wat vir jou belangrik is, vir Hom ook belangrik, en andersom. Jy weet presies wat alles op jóú wenslysie is. Maar weet jy wat is op Syne? Die aantal mense wat hel toe gaan; wat sterf sonder dat hulle ooit die evangelie gehoor het – dís op daardie lysie. Dis sommer heel bo, want dis die belangrikste prioriteit. 


Jou behoeftes en jou drome is natúúrlik belangrik. Maar nie sodat jy jou sukses vir jouself moet hou nie. Dit gaan oor hoe jy die wêreld gaan verander. Suid- Afrika is belangrik, maar dis belangriker hoe jy ’n verskil gaan maak in die land. Jou kinders is belangrik, maar eerder hoe jy hulle grootmaak om ander te dien. 


Jy droom baiekeer oor iets wat jóú pas, maar dis nie die hemelse droom vir jou nie. Jy mag voorspoedig wees in jou lewe, maar sodat jy ’n verskil kan maak. Dit kan dalk ’n bietjie seer wees, dit kan opofferings vra, dit kan tyd neem en ’n commitment vereis. Maar uiteindelik sal dit dubbel en dwars die moeite werd wees! 

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid