Leesplan inligting

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 3 VAN 21

DIE WAARHEID MAAK NOOIT SEER NIE 


“Onthou, dis omdat ek lief is vir jou dat ek jou straf.” Dis wat jou ouers seker ook kleintyd vir jou gesê het, maar jy kon dit nooit verstaan nie. As hulle dan so lief was vir jou, hoekom jou nie maar oorsien nie? Tot jy jou eie kinders gekry het. Toe weet jy skielik dat jy nie net jou oë kan toedruk en anderpad kyk as hulle stout is nie. Dis soms nodig om die waarheid te praat júis omdat jy lief is vir iemand. 


Liefde en waarheid kan nie geskei word nie – die twee loop saam. 


In teorie klink dit so maklik, maar in die praktyk is dit ’n heel ander storie. Jy ken seker ook mense wat sê: “Ek is nie iemand wat doekies omdraai nie.” En dan maak die persoon ander mense baie seer met sy of haar woorde. Eintlik rig hulle meer skade aan as wat hulle goed doen, want hulle doen dit nie uit liefde nie. 


Ons het soms die verkeerde idee oor hoe ’n ontmoeting met Jesus lyk. Ons dink dit gaan ’n wow- oomblik wees. Jy gaan hoendervleis kry en die voëltjies hoor sing en dit gaan net ongelooflik wees. Dis miskien die verwagting waarmee jy kerk toe gaan, Bybelstudie doen of na geestelike musiek luister. Jy wag dat vrede oor jou sal kom en jy daardie lekker gevoel sal kry. 


As jy egter Matteus, Markus, Lukas en Johannes gaan lees, sal jy sien hoe lyk ontmoetings met die waarheid régtig. Baie min van daardie ontmoetings is net aangenaam. Goed en wel, lewens word verander, mense word gesond gemaak en wonderwerke gebeur. Maar daar is altyd ’n klein bietjie bitter saam met die soet. Die wond moet eers oopgemaak en skoongemaak word voor dit kan genees. 


Daar is baie sulke stories in die evangelies, maar kom ons gebruik sommer hierdie een van die ma van Jakobus en Johannes. Sy kom vra ’n guns – baie mooi op haar knieë. Daar is tog niks daarmee verkeerd nie, is daar? Watter ma het nie al ’n gunsie gevra vir haar kind nie? Baie ma’s bid so opreg – gee vir Jannie die kapteinskap, gee vir my kind ’n werk, of wat ook al. Maar as jou hartsmotiewe oneerlikheid of materialisme is om jou kind te bevoordeel, is dit ’n heel ander storie. 


Hierdie ma het ook gedink sy kan maar ’n ou gunsie vra. En sy vra dit dan so mooi. Maar dit is selfsugtig van haar. Hoe durf sy vra dat haar twee seuns op die troon sal sit? Sy dink sowaar nie eers aan die ander dissipels nie. Hulle was tog seker net so belangrik soos haar kinders! Die ergste van alles is, die twee seuns keer nie hulle ma nie. Hulle kon mos gesê het: “Ma, wag, ons en hierdie ouens toer al vir amper drie jaar saam. Hulle is ons vriende. Moet asseblief nie inmeng nie.” Maar hulle doen dit nie. Hulle is net so skuldig. Hulle is geleer om ook selfsugtig te wees. 


Ken jy die woorde net voor hierdie vers? Jesus sê dat Hy vermoor gaan word en weer sal opstaan uit die dood. Maar dis asof hierdie vrou nie eers die skokkende woorde hoor nie, asof dit nie by haar insink nie. Sy sê eintlik: “O, goed, dis reg so, en terloops, kan my twee seuns dan ook op die troon sit?” In ons tyd sou die reaksie dalk gewees het: “Hallo-o-o, hoor jy nie wat ek sê nie?” 


So, wat gebeur? Hulle kry die antwoord: “Julle weet nie wat julle vra nie.” Dit sê: “Aikôna, Tannie, jy het nie ’n idee wat jy vra nie!” Dink ’n bietjie hoe jy jou sou vererg as iemand vir jou sê jy het nie ’n idee van iets nie. Dit moes seker nie vir die ma lekker gewees het om hierdie woorde te hoor nie. Die waarheid maak mos seer. 


Maar wag, die storie is nog nie klaar nie. Op die vraag of hulle ook die lydensbeker sal drink, antwoord die seuns: “Ons kan.” Maar hulle het nie geweet waarvoor hulle hulle inlaat nie, want ons lees dat hulle later nogal klippe gekou het. Hulle het gekry wat hulle gevra het – maar beslis nie soos hulle verwag het nie! 


Wanneer jy vandag stiltetyd hou en vra vir die waarheid, moet jy nie hoendervleis verwag nie. Verwag eerder ’n bietjie bloed, ’n bietjie eina. Die waarheid sal ’n bietjie krap en jou ongemaklik laat voel. Jou hart moet eers geopereer word voor jy kan verander. Jy moet die waarheid van jou selfsug en materialisme kan sien. Sien ook die effek wat sonde op jou lewe het, vir wie dit seermaak en hoe ver verwyderd dit van die groter plan vir jou is. 


Dan kom die lekker deel! Jy kry ’n roeping en ’n doel en jy het weer iets om voor te lewe. Dit gaan nie altyd maanskyn en rose wees nie, maar God wil jou gebruik – by jou huis, by die werk en in jou gemeenskap. Hy is by jou, al die pad! 

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid