Leesplan inligting

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 21 VAN 21

 JY MOET JOU EIE DROME HÊ VIR DIE TOEKOMS 


Aan die begin van elke nuwe jaar het ons almal Nuwejaarsvoornemens. Die meeste mense het elke jaar dieselfde lysie. In die vakansie het jy gewig opgetel, so heel eerste op die lysie is die paar kilogram wat jy wil verloor. Dan wil jy ook weer begin oefen. Jy wil dinge ’n bietjie rustiger vat en nie so baie stres nie. Jy wil meer by vriende en familie uitkom, want die lewe is kort. Het jy al ooit gewonder hoekom is jou lysie elke jaar dieselfde? Want jy doen gewoonlik nie die dinge wat jy jou voorneem om te doen nie! Daar is te veel ander verpligtinge wat jou aandag en tyd vereis. 


Kom ons wees so ’n klein bietjie negatief en sê: Wat as hierdie jaar dalk jou laaste is? Waaraan sou jy die tyd wat jy oorhet, wou spandeer? Wat sou jou hoogste prioriteit wees? Die Woord gee vir jou goeie raad hoe jy hierdie jaar jou beste een kan maak. In die Ou Vertaling staan daar: “Maar soek eers die koninkryk ...” “Soek” beteken om agter iets aan te gaan, daarvoor te grou, dit oop te maak en daaroor te dink. Met ander woorde, jy wil die koninkryk soek en verstaan. Hierdie opdrag het ook ’n mooi belofte: “ ...al die ander dinge sal vir jou bygevoeg word”. 


’n Mens raak partykeer mismoedig en wonder: Wat is die sin van die lewe? Wat is my doel hier op aarde? Jy het die voorreg om die geheim te weet. Die geheime van die koninkryk, wat dit beteken en kan doen, is reeds aan jou gegee. Jy kan dit gaan leer! 


Nou wonder jy dalk, maar wat is die koninkryk nou eintlik? Dis die koningsheerskappy van God. Met ander woorde, as jy dit wat vir Hom reg en belangrik is, eerste stel, volg die res vanself reg. So, as jy reg fokus, sal jou finansies, jou verhoudings, jou gesondheid, alles, in plek val. Hoe beter jy die koninkryk verstaan, hoe meer sal die ander dinge in jou lewe ook uitwerk. 


In Markus 4 lees ons: “Aan julle is die insig in die geheime van die koninkryk ... gegee.” Kom ek gee jou agtergrond oor Markus 4. Die mense het nou net die gelykenis van die saaier gehoor. Toe wonder die dissipels, sjoe, wat beteken al hierdie goed? Hulle verstaan nie wat is die big deal nie. 


Onthou jy nog die dissipels was gewone vissermanne? In daardie dae was dit een van die algemeenste beroepe. As jy ryk was, het jou pa grond besit en dan het jy ’n boer geword. As jy die een of ander ambag kon beoefen, kon jy iets maak en dit verkoop. Maar as jy niks anders kon word nie, dan het jy maar ’n visserman geword. Jy moes net ’n bootjie en nette kry, dan kon jy vis vang om self te eet. As jy gelukkig was, kan jy dit ook verkoop. 


Jy het dalk al baiekeer gedink jy is te doodgewoon. Jy het nie ’n graad nie en jy is nie ryk of gesofistikeerd nie. Jy is net nie een van daardie supermense wat in alles uitblink nie. Maar daar staan juis in Matteus 11 dat gewone mense insig kan hê in die koninkryk! Dis ’n voorreg wat jy het om dit te kan verstaan. 


Jy weet mos ons soek almal die geheim tot ware sukses. Partykeer kry jy iemand wat ’n geheime strategie het om geld te maak; ander kere is daar iemand anders wat die perfekte resep het om gelukkig te wees. As jy glo, kan jy maar ophou soek – jy het al klaar die geheime resep. 


Wat het Jesus op die aarde kom preek? Nie: “Kyk na My, ek is alles” nie. Hy het gepreek oor die heerskappy, die koninkryk en die mooi drome vir ons. Hy droom groot dinge vir jou en vir ons land. Met ander woorde, jy moet heel eerste soek na dáárdie drome in jou lewe. Jy moet dink hoe sal dit lyk wanneer jy nie meer alleen oor alles in jou lewe heers nie. As jy vir Hom die beheer gee oor jou lewe sal dit mos amazing wees! Dit sal vir jou nuwe krag, energie en passie gee. Onthou, daar word die mooiste gedagtes oor jou gedink en vir jou net voorspoed beplan. 


My motor is my koninkryk. Daar mag niemand mors nie en die kinders weet hulle moet stilsit en hulle gedra. My vrou se koninkryk is weer die kombuis. Niemand mag daar inmeng nie. Jou baas se kantoor is dalk jou koninkryk. Jy is baiekeer die baas van jou eie klein koninkrykie; van jou sukses en jou besittings. 


Ons moet leer om vir God die baas te maak van ons lewens. Sy wil moet geskied – by die huis, by die werk, tussen jou vriende, oral. Gaan jou lysie vir die nuwe jaar dalk ’n bietjie anders lyk as verlede jaar? 


Hierdie leesplan is geneem uit DIT HET JESUS NOOIT GESÊ NIE deur Andries Enslin, CARPE DIEM MEDIA.

Dag 20

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid