Leesplan inligting

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 14 VAN 40

GEDAGTES


“. . . neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” – 2 Korintiërs 10:5


'n Broeder het na Abba Pastor toe gekom en gesê: Baie gedagtes het by my opgekom, wat my aandag afgelei het, en hulle is 'n gevaar vir my. Die oudste het hom buitentoe gestuur en gesê: "Maak die klere op jou bors oop en vang die wind daarin vas." Maar hy sê toe: "Ek kan dit nie doen nie." Die oudstes sê toe vir hom: "As jy nie die wind kan vang nie, sal jy ook nie die gedagtes wat jou aandag aflei kan keer nie. Dis jou werk om vir hulle NEE te sê."


Hoekom is dit so moeilik om stil te raak? Wanneer jy probeer stil word is dit asof ’n vloed gedagtes jou wil oorweldig, soos ’n oorlog wat in jou kop uitbreek en ons voel dikwels magteloos daarteen. Dit lyk asof die sentrale metafoor vir die lewe vir die woestynvaders dié van ’n oorlogsveld was. Volgens hulle is die oorlogsveld in ons gedagtes. Dit is hier in ons kop waar ons met demone in die vorm van gedagtes te doen kry. Henri Nouwen sê dit is te verwagte: “Aan die begin hoor ons dikwels ons eie warboel van gedagtes harder praat as God se stem.” Daarom is dit belangrik om eerstens bewus te word van die inhoud van jou gedagtes; jy moet jou gedagtes kan waarneem en oorweeg. Die manier waarop ons op hierdie gedagte-oorlog reageer, is nie om dit te beveg nie, waar wel om stelling te kan inneem, sê Abba Pastor vir ons; om nee te sê vir al hierdie gedagtes en hulle te laat vaar. Dit is makliker gesê as gedaan, maar die oomblik wanneer ons nee sê vir ’n gedagte wat ons aandag probeer aflei, is dit asof ons teruggeroep word na ons ware noord, ons diep innerlike stilte. Volgens die raad van Thomas Keating kan ons die volgende toepas wanneer ons in ons stilte deur gedagtes geteister word: “Moenie enige gedagte weerstaan nie, koester geen gedagte nie, moenie emosioneel reageer op enige gedagte nie . . . keer net sagkens terug.” Ons word herhaaldelik geroep om aandag te skenk aan dié dieper, stiller lewe van Christus binne ons en terug te kom na die hier-en-nou. Nog ’n belangrike aspek is om nie volgens jou gedagtes op te tree of elke gedagte uit te leef nie. Dit is dalk die definisie van duiwelsbesetenheid: om totaal te identifiseer met jou gedagtes en te dink dat jou gedagtes jy is. Ons kan besluit. Dit is juis hier in ons gedagtes waar ons mag en krag moet inkom om NEE te sê. Nog ’n praktiese manier waarop ons hierdie innerlike fokus kan behou en ons gedagtes wat ons aandag aflei kan laat vaar, is deur herhaaldelik die Jesusgebed (Here Jesus Christus, Seun van God, wees my genadig) te bid. Op dié manier keer ons terug na ons fokuspunt: Jesus.


“... die ware probleem van die Christelike lewe kom elke oggend, die oomblik as jy wakker word. Al jou wense en hoop vir die dag, kom na jou toe aangehardloop soos wilde diere.  Jou eerste taak elke oggend is om hulle terug te dwing; jy moet na die ander stem luister, 'n ander uitkyk hê, daardie ander, sterker, stiller lewe laat invloei.” – C.S. Lewis


GEDAGTE VIR DIE DAG


Ek is nie my gedagtes nie. Ek hoef nie my gedagtes te beveg nie, ek kan my gedagtes laat vaar en op God fokus.


VIR NADENKE


Bring jou gedagtes van hierdie dag voor God. Waarheen het jou gedagtes jou vandag gelei? Vra God om sy lig op jou gedagtes te skyn. Identifiseer die gedagtes wat jou vandag ontstel of geteister het en gee dit vir God. Identifiseer die gedagtes wat jou rustig en gelukkig laat voel het en dank God daarvoor. As ’n sekere gedagte vandag herhaaldelik by jou opgekom het, praat met God daaroor en vra vir sy perspektief daaroor.

Dag 13Dag 15

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskeppin...

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid