Leesplan inligting

Begin Hier | Eerste Treë Saam Met JesusVoorbeeld

Start Here | First Steps With Jesus

DAG 12 VAN 15

Kolossense 2 | Hou Koers


Welkom terug, my vriende. Vandag is daar 'n waarskuwing oor misleiding. Ons lees Kolossense 2. Vers vier sê: 


"Ek beklemtoon dit, sodat niemand julle met vals redenasies mislei nie."  

Ek haat dit as iemand vir my lieg. Tog is daar misleidings — valse leraars of misleidende leraars — en hulle argumente mag dalk reg klink. Moenie mislei word nie. Misleiding kan jou in die verkeerde rigting stuur. Het jy al ooit op 'n bus geklim net om uit te vind dit ry nie waarnatoe jy wil gaan nie? Of nog erger; op skool het jy die verkeerde pad gekies in die 5 km resies en weg van die wenstreep af gehardloop. Op daardie stadium maak spoed nie saak nie — ek hardloop in die verkeerde rigting! Dieselfde kan geestelik gebeur.


Wanneer ons Jesus volg, moet ons op die pad bly — die regte rigting inslaan. Die regte manier om Jesus te volg, is om Jesus te volg. Hy is die weg. Dit klink ooglopend, maar soms raak ons afgelei. Of erger nog — mislei. Om dus koers te hou, moet ons met die Woord begin. Kolossense 2:6:

"Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe." 

Ek hou daarvan. Begin met Jesus — bly by Jesus. Die valse leraars trek gelowiges weg van die eenvoud om Jesus te volg. Bly dus in Hom, soos vers 7 sê: 

" ... in Hom gewortel en op Hom gebou." 

Dink daaroor na. As jy 'n boom plant, steek jy 'n stut langs die boom in die grond, om dit te help groei. Sommige mense sien Jesus as so 'n stut. Hulle groei en vergeet van Hom. Moet dit nie doen nie. Jesus is ons wortels. Hy is die wingerd en ons is die lote. Wortels voorsien voedingstowwe vir groei en hou ons geanker in 'n storm. Ons is "gewortel en opgebou" in Jesus. Paulus waarsku ons weer: moenie vasgevang word deur "leë en misleidende filosofieë" wat nie in Jesus gewortel is nie — vers 9: 

"In Hom is die volle wese van God beliggaam."

Sjoe. Die volheid van God in 'n menslike liggaam. Dit is Jesus. Volheid — nie net 'n klein bietjie nie, maar eenhonderd persent. En vers 10: 


"... en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid."

Met ander woorde, Jesus is vol van God en wanneer jy in Hom gewortel is, word jy ten volle jy — die persoon wat jy veronderstel is om te wees.


Die valse leraars wou die Christene van die spoor af bring deur te verkondig dat Jesus net 'n deel van God was. In plaas daarvan om Jesus te volg, het hulle daarop gefokus om reëls na te kom. Hulle het gesê hulle moes hierdie dinge doen om hemel toe te gaan. Dinge uit die Ou Testament, soos besnydenis. 


Jy kan maar ophou lag. Besnydenis was 'n fisieke beeld met 'n geestelike betekenis. Dit het getoon hoe ons vlees — ons sondige natuur — deur die Here verwyder word. Fisieke besnydenis was net vir die Jode, dit was nooit 'n opdrag vir Christene nie. Tog het die vals leraars daarop aangedring dat Christen mans besny word en hulle het 'n klomp moets en moenies bygevoeg om Jesus te volg, werke om goed te wees. Tog het Paulus gesê dat Jesus die werk gedoen het — Hy het die vlees weggevat — geestelik, nie fisiek nie. 


En vers 12 bring ons by die doop. As jy aan Jesus behoort, vra Hy dat jy gedoop word. Die doop is nie 'n werk om jou te red nie, dit is iets wat jy doen omdat Jesus jou gered het. Met die doop identifiseer ons met Jesus: my ou lewe het saam met Jesus aan die kruis gesterf en sy opstanding het vir my nuwe lewe gebring. Die doop stel dus 'n begrafnis voor — in die water in, en dan opstanding — op uit die water uit. 


Daardie nuwe lewe is hoe ons Jesus nou volg. Die oue is verby. Ons werk nie om al ons sondes te betaal nie. Vers 13 sê dat: 


"Hy ons al ons sondes vergewe het." 

Hy het ons skuld gedelg — daar is niks meer om te betaal nie. Jou sonde het nie 'n houvas op jou nie. 


Dis hoekom daar nie 'n stel reëls is om Jesus te volg nie. In vers 16 gaan dit nie oor "wat jy eet of drink," of oor "geestelike feeste" of die Sabbatdag nie. Daardie dinge was in die Ou Verbond en hulle was belangrik, maar vers 17 verduidelik dat hulle almal 'n

"... skaduwee was van die dinge wat sou kom." 

Skaduwees is nuttig — hulle gee vir jou 'n aanduiding van wat kom. Paulus sê egter dat die realiteit — die ware beeld "... in Christus gevind word."


Jesus is die ware Jakob. Die reëls en tradisies was net 'n skaduwee. 


As ons vasgevang word in die reëls — soos: "Jy moet aanbid, jy moet bid" — maak ons aanbidding 'n skuldgevoel. Dan voeg ons nog reëls by, soos vers 21: 


"Moenie vat nie! Moenie proe nie! Moenie aanraak nie!" 

Paulus sê daardie reëls het 'n "skyn van wysheid," maar hulle werk nie. Jy kan jouself nie goed maak met streng reëls en geforseerde aanbidding nie. Die lewe is nie 'n houer met moenies nie. 


Hoor hier. As ons Jesus volg is daar baie dinge wat ons gedoen het wat ons nie meer doen nie. Maar nie as gevolg van reëls nie. Ons verander, omdat ons nuut gemaak is. Ons is in Jesus gewortel en gevul met die Heilige Gees, wat ons help om sonde te laat staan en regverdig te leef. Dit is nie 'n skaduwee nie — dit is realiteit.


Om reëls te volg laat jou skuldig voel. Om Jesus te volg is 'n reis van genade. Lees Kolossense 2 en maak seker dat jy in die regte rigting op pad is.


Vir Oordenking en Bespreking



  • Paulus sê dat ons moet aanhou om Jesus te volg, net soos toe ons begin het. Watter gevare en misleidings sien jy wat jou aandag kan aftrek om Jesus te volg? 

  • Wat is die verskil tussen om Jesus te volg en om reëls te volg? (Lees Kolossense 2:16-17)

  • Voel jy skuldig of genadig in jou ervaring om Jesus te volg? Deel jou verhaal.

Dag 11Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

Start Here | First Steps With Jesus

As jy onlangs tot bekering gekom het, nie die Bybel ken nie, of 'n vriend help — Begin Hier. Vir die volgende 15 dae sal hierdie 5-minute klankgidse jou stap-vir-stap deur twee fundamentele Bybelboeke neem: Markus en Kol...

More

Ons sê baie dankie aan "Through The Word" wat hierdie leesplan verskaf het. Besoek asseblief http://throughtheword.org vir meer inligting

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid