Leesplan inligting

OorlogvoeringVoorbeeld

Warfare

DAG 1 VAN 5

Dae na die tragedie van 9/11 die siel van die Amerikaanse nasie getref het, is lede van die spesiale magte, bekend as die Green Beret, gevra om hul tasse te pak, gesinne te groet en reguit in die hart van die oorlogvoering in te beweeg. Terwyl mense probeer het om sin te maak uit die tragedie, het hierdie manne iets daaraan gaan doen. 


Hulle het soontoe gevlieg met net een doel voor oë: Keer die vyand voor hulle weer 'n aanval op onskuldige lewens uitvoer.


 Die spesiale magte het geweet as hulle in 'n beperkte tyd by die kern van die aanval kon kom, kon hulle die onmiddellike oorlog wen om burgers op Amerikaanse grondgebied te beskerm. Hulle kon individue, gesinne, kerke en gemeenskappe beskerm, slegs deur van konvensionele oorlogvoering af te wyk, en 'n nuwe strategie toe te pas wat sou werk.


 Een man, Mark Nutsch, is gekies om die twaalf manne in die geveg te lei. Ondanks die feit dat hy geen gevegservaring gehad het nie, maar oor selfvertroue en die vermoë om buite die gewone benaderings te dink beskik het, is hy gedurende die keuringsproses vir hierdie opdrag gekies. Min het die militêre leiers geweet toe hulle hom kies, dat die ervaring wat Mark opgedoen het terwyl hy op sy familieplaas grootgeword, gewerk en perd gery het, en ook op universiteit aan rodeos deelgeneem het, van sy beste bates sou wees.


 Per slot van rekening is hierdie oorlog nie geveg deur magte wat teenoor mekaar opgestel is nie. Dit was ook nie 'n oorlog wat in loopgrawe gevoer is nie. Inteendeel, om in hierdie oorlog uit te blink, moes vegters die elemente weerstaan, perde oor ruwe en gevaarlike terrein kon ry, en opponente uitoorlê wat die landskap soos die palms van hul hande geken het. 


 Om hierdie oorlog te wen, moes Mark en sy span elf dapper manne volgens die reëls van die vyand self veg. 


 Hulle veldtog was aanvanklik veronderstel om ses weke te duur, maar weens weersomstandighede het hulle beplan om dit binne drie weke af te handel. Die veronderstelling was ook dat verskeie spanne van Green Beret moes deelneem, maar as gevolg van die weer, die ligging van die landskap en 'n tekort aan toegangsroetes, het slegs een span van twaalf mans deelgeneem. Die verwagting was dat weens die risiko's, daar heelwat ongevalle aan die Amerikaanse kant sou wees, tog het almal ongeskonde teruggekom. 


 Omdat hierdie manne gekies het om by die omgewing en bondgenote wat hulle omring het, aan te pas en ook binne die beskikbare strategieë te werk, kon hulle bereik wat min, indien enige, gedink het hulle sou regkry. Hulle het te perd oorlog gevoer teen gewapende magte met missiele. 


En hulle het gewen.


Miskien het Mark se gebrek aan gevegservaring veroorsaak dat hy oop was om sy strategie vir die huidige geveg aan te pas, veel meer as 'n ervare soldaat sou. Ons sal nooit seker wees nie. Ons weet egter dat sy bereidwilligheid om verby logika, gewone gebruike en wat voorheen opgeteken is, te kyk, hom in staat gestel het om hierdie geveg op 'n ander manier te benader as wat nog ooit in die Amerikaanse geskiedenis gedoen is. 


 Dit het hom ook in staat gestel om sy 12-man span in die vinnigste en mees beslissende oorwinning in die Amerikaanse nasie se geskiedenis te lei. 


Twee duisend jaar gelede, het 'n ander 12-man span 'n onkonvensionele leier gevolg. Hy het nie op 'n perd nie, maar op 'n donkie gery. Dit het Hom nie drie weke geneem nie, maar drie jaar. Hy het nie vir 'n nasie geveg nie, maar vir 'n koninkryk. 


En Hy het gewen.


Deur dit te doen, het Hy vir ons elkeen die oorwinning verseker wat daar is vir ons om op te eis.


Tog, net as ons gewillig is om Hom te volg as ons ons eie logika, siening, benadering en begrip hoe om in hierdie oorlog te veg, agterlaat, sal ons die volheid en gevolge van daardie oorwinning in elke deel van ons lewens ontdek. 


Slegs deur Christus as ons Kaptein te volg, sal ons hierdie oorlog wen. Deur sy gevegsplan te bestudeer, kan ons verstaan hoe om ons eie uit te voer. Dit lê daarin om ons harte aan te pas en ons denke te herskep soos Syne, sodat ons die nodige strategiese insig kan verkry om die oorwinning uit te leef wat Hy reeds vir ons behaal het.


Jy sien, hierdie geveg is anders as enige vorige gevegte. Hierdie geveg is reeds beslis. Die uitslag is reeds verseker. Jesus Christus het die oorwinning deur sy dood, begrafnis en opstanding behaal. Vir ons om daardie oorwinning in ons eie lewens te ervaar, moet ons leer hoe om ons pad te vind tussen die landmyne wat deur die vyand gestel is; die vyand wat daarop ingestel is om ons lewenspad so onaangenaam as moontlik te maak. 


Kom ons kyk oor die volgende paar dae van hierdie leesplan, na 'n paar nuttige wenke. 


Was hierdie leesplan vir jou van waarde? Ons wil jou help om jou geestelike spiere verder te ontwikkel deur hierdie preek van Tony Evans af te laai. Klik op hierdie skakel. 


 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Warfare

In geestelike oorlogvoering veg jy nie vir die oorwinning nie — jy veg vanaf oorwinning. Verkry nuttige insigte oor die geestelike stryd waarmee ons almal gekonfronteer word: Oorlogvoering. Hierdie insiggewende leesplan ...

More

Baie dankie aan Moody Uitgewers wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek: https://www.amazon.com/Warfare-Winning-Spiritual-Tony-Evans/dp/0802418171/ref=sr_1_1?ie=UTF8&qid=1531756625&sr=8-1&keywords=warfare+Tony+evans

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid