MATTEUS 2:7-16

MATTEUS 2:7-16 Bybel vir almal (ABA)

Toe het koning Herodes die sterrekykers laat roep. Hy het gesê hulle moet na hom toe kom maar hulle moet vir niemand daarvan sê nie. Hy het lank met hulle gepraat om presies uit te vind wanneer hulle die eerste maal die ster gesien het. Herodes het die sterrekykers na Betlehem gestuur en gesê: “Gaan vind alles uit oor hierdie Kindjie en soek Hom. As julle Hom kry, dan moet julle vir my kom sê. Ek wil ook gaan en voor Hom kniel en Hom aanbid.” Nadat die sterrekykers gehoor het wat die koning gesê het, het hulle weggegaan. Die ster wat hulle in die ooste gesien het, het hulle gelei tot by die plek waar die Kindjie was. Toe het die ster gestop. Toe die sterrekykers sien die ster is daar, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan, en daar het hulle die Kindjie by Maria, sy ma, gesien. Toe het hulle gebuig en voor Hom gekniel en Hom aanbid. Daarna het die sterrekykers hulle sakke oopgemaak en hulle het presente uitgehaal en vir die Kindjie gegee. Dit was goud, wierook en mirre. God het die sterrekykers in 'n droom gewaarsku en gesê hulle moenie weer na Herodes toe gaan nie. Daarom het die sterrekykers op 'n ander pad teruggegaan na hulle land. Nadat die sterrekykers weggegaan het, het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en vir hom gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy ma saam en vlug na Egipte. Bly daar totdat Ek vir jou sê om terug te kom, want koning Herodes wil die Kindjie doodmaak.” Josef het toe opgestaan. Hy het die Kindjie en sy ma in die nag saam met hom geneem en hulle het na Egipte gegaan. Hulle het in Egipte gebly totdat Herodes gesterf het. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het geskryf: “Die Here het gesê: Ek het my Seun uit Egipte geroep.” Koning Herodes het uitgevind dat die sterrekykers hom gekul het, hulle het nie gedoen wat hy vir hulle gesê het nie. Hy was toe baie kwaad. Hy het soldate gestuur om al die seuntjies in Betlehem dood te maak, al die seuntjies wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was. Hulle het ook die seuntjies doodgemaak wat naby Betlehem gewoon het. Hy het die seuntjies laat doodmaak wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was, omdat die sterrekykers vir hom gesê het wanneer hulle die ster gesien opkom het.

MATTEUS 2:7-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra; en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys. En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug. En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre. En omdat hulle in 'n droom 'n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad na hul land teruggegaan. EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep. Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.

MATTEUS 2:7-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.” Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hulle land toe teruggegaan. Nadat hulle vertrek het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur 'n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het.

MATTEUS 2:7-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.” Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, het hulle 'n onbeskryflike groot vreugde ervaar. Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. En omdat hulle in 'n droom 'n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad langs na hulle land teruggegaan. Die sterrekenners het teruggekeer, en kyk, daar het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” Josef het toe gereedgemaak en gedurende die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte vertrek. Hy het daar gebly tot Herodes se dood, sodat die woorde vervul sou word wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat hy deur die sterrekenners om die bos gelei is, was hy briesend. En hy het in Betlehem en die hele omliggende gebied al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe laat bring, in ooreenstemming met die tyd wat hy noukeurig van die sterrekenners verneem het.

MATTEUS 2:7-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe Herodes, toe hy die wyse manne in die geheim geroep het, ywerig by hulle gevra het hoe laat die ster verskyn het. En hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan soek noukeurig na die seuntjie; en as julle Hom kry, bring dit vir my terug, dat ek ook kan kom en Hom aanbid. Toe hulle die koning hoor, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle in die ooste gesien het, het voor hulle uit gegaan totdat hy gekom het en gaan staan oor die plek waar die kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle met groot blydskap verheug. En toe hulle in die huis kom, sien hulle die kindjie saam met Maria, sy moeder, en val neer en aanbid hom; en nadat hulle hul skatte oopgemaak het, het hulle geskenke aan hom gegee; goud en wierook en mirre. En toe hulle in 'n droom van God gewaarsku is dat hulle nie na Herodes sou terugkeer nie, het hulle op 'n ander pad na hul eie land getrek. En toe hulle weggegaan het, verskyn die engel van die Here aan Josef in 'n droom en sê: Staan op en neem die seuntjie en sy moeder en vlug na Egipte, en wees jy daar totdat Ek jou woord bring; want Herodes sal die jong kind soek om hom te vernietig. Toe hy opstaan, het hy die kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En was daar tot die dood van Herodes, sodat vervul sou word wat deur die profeet van die Here gespreek is deur te sê: Uit Egipte het Ek my seun geroep. Toe Herodes toe sien dat hy met die wyse manne bespot word, het hy baie kwaad geword en uitgestuur en al die kinders wat in Betlehem en in al die gebiede daarvan was, van twee jaar oud en onder, gedood volgens die tyd wat hy ywerig by die wyse manne navraag gedoen het.

MATTEUS 2:7-16 Die Boodskap (DB)

Herodes het toe ’n geheime ontmoeting met die sterrekenners uit die ooste gereël. Hy het vir hulle gevra wanneer hulle die ster vir die eerste keer gesien het. Daarna sê hy vir hulle: “Julle moet na Betlehem toe gaan. Gaan soek die kind daar tot julle hom kry! Laat weet my ook waar hy is, want ek wil hom gaan besoek om eer aan hom te bewys.” Hierna is die geleerdes reguit Betlehem toe. Toe dit donker word, het hulle dieselfde ster wat hulle vroeër in die ooste gesien het, in die lug bokant hulle opgemerk. Daaroor was hulle baie bly. Dit het stadig voor hulle uitbeweeg. Uiteindelik het die ster tot stilstand gekom bokant die plek waar Jesus en sy ouers was. Die sterrekenners het toe daar ingegaan. Toe hulle Jesus sien, het hulle dadelik op hulle knieë neergeval. Uit respek het hulle laag op die grond voor Hom gebuig. Toe maak hulle hulle bagasie oop en haal ’n klompie geskenke uit wat hulle vir Hom saamgebring het: goud, wierook en mirre. Later het die geleerdes weer ’n droom gehad. ’n Engel het hulle gewaarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie. Hulle het toe met ’n ander pad na hulle eie land teruggegaan. Nadat die geleerdes terug is na hulle land toe, het ’n engel van die Here in ’n droom vir Josef kom sê: “Word wakker! Vat die Kindjie en sy ma en vlug dadelik Egipte toe. Bly daar totdat jy weer van My hoor. Herodes is op soek na Jesus. Hy wil Hom doodmaak.” Josef het dadelik opgestaan, vir Maria wakker gemaak en inderhaas met haar en Jesus in die middel van die nag uit die dorp padgegee. Hulle het na Egipte toe gegaan. Daar het hulle gebly tot na Herodes se dood. Op hierdie manier het ’n belangrike uitspraak van Hosea waar geword. Die Here het vroeër deur hom gesê: “Uit Egipte het Ek my Seun laat haal.” Intussen het Herodes agtergekom dat die geleerdes uit die ooste hom in die steek gelaat het. Hy was baie kwaad daaroor. Hy het dadelik sy soldate na Betlehem toe gestuur. Hulle moes alle seuntjies jonger as twee jaar vang en hulle doodmaak. (Herodes het die ouderdom van die seuntjies bereken aan die hand van die inligting wat hy vroeër van die geleerdes uit die ooste gekry het.)

MATTEUS 2:7-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarop het Herodes ’n geheime boodskap na die sterrekundiges gestuur om hulle na hom te ontbied. Hy het toe noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster oorspronklik verskyn het. Daarna laat hy hulle na Betlehem gaan met die opdrag: “Gaan vind alles noukeurig oor die Kindjie uit. As julle Hom kry, kom sê vir my dat ek Hom ook kan gaan aanbid.” Nadat hulle die koning aangehoor het, het die sterrekundiges vertrek. En, werklikwaar, die ster wat hulle in die ooste sien verskyn het, is weer daar en dit beweeg voor hulle uit totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was. Met dié dat hulle die ster sien, het ’n wonderlike blydskap oor hulle gekom. Toe hulle in die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hulle kissies met kosbaarhede oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre. Maar omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie weer na Herodes terug te gaan nie, het hulle met ’n ander roete huis toe vertrek. Ná die vertrek van die sterrekundiges verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: “Staan op en vlug met die Kindjie en sy ma na Egipte toe. Bly daar tot ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes gaan die Kindjie probeer doodmaak.” Josef het toe opgestaan en nog daardie selfde nag met die Kindjie en sy ma na Egipte toe vertrek. En hulle het daar gebly tot Herodes se dood. So is vervul wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat die sterrekundiges hom uitoorlê het, was hy siedend van woede. Hy het soldate gestuur om in en rondom Betlehem al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe te bring. Hy het die twee jaar bereken volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid