Matteus 2:7-16

Matteus 2:7-16 DB

Herodes het toe ’n geheime ontmoeting met die sterrekenners uit die ooste gereël. Hy het vir hulle gevra wanneer hulle die ster vir die eerste keer gesien het. Daarna sê hy vir hulle: “Julle moet na Betlehem toe gaan. Gaan soek die kind daar tot julle hom kry! Laat weet my ook waar hy is, want ek wil hom gaan besoek om eer aan hom te bewys.” Hierna is die geleerdes reguit Betlehem toe. Toe dit donker word, het hulle dieselfde ster wat hulle vroeër in die ooste gesien het, in die lug bokant hulle opgemerk. Daaroor was hulle baie bly. Dit het stadig voor hulle uitbeweeg. Uiteindelik het die ster tot stilstand gekom bokant die plek waar Jesus en sy ouers was. Die sterrekenners het toe daar ingegaan. Toe hulle Jesus sien, het hulle dadelik op hulle knieë neergeval. Uit respek het hulle laag op die grond voor Hom gebuig. Toe maak hulle hulle bagasie oop en haal ’n klompie geskenke uit wat hulle vir Hom saamgebring het: goud, wierook en mirre. Later het die geleerdes weer ’n droom gehad. ’n Engel het hulle gewaarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie. Hulle het toe met ’n ander pad na hulle eie land teruggegaan. Nadat die geleerdes terug is na hulle land toe, het ’n engel van die Here in ’n droom vir Josef kom sê: “Word wakker! Vat die Kindjie en sy ma en vlug dadelik Egipte toe. Bly daar totdat jy weer van My hoor. Herodes is op soek na Jesus. Hy wil Hom doodmaak.” Josef het dadelik opgestaan, vir Maria wakker gemaak en inderhaas met haar en Jesus in die middel van die nag uit die dorp padgegee. Hulle het na Egipte toe gegaan. Daar het hulle gebly tot na Herodes se dood. Op hierdie manier het ’n belangrike uitspraak van Hosea waar geword. Die Here het vroeër deur hom gesê: “Uit Egipte het Ek my Seun laat haal.” Intussen het Herodes agtergekom dat die geleerdes uit die ooste hom in die steek gelaat het. Hy was baie kwaad daaroor. Hy het dadelik sy soldate na Betlehem toe gestuur. Hulle moes alle seuntjies jonger as twee jaar vang en hulle doodmaak. (Herodes het die ouderdom van die seuntjies bereken aan die hand van die inligting wat hy vroeër van die geleerdes uit die ooste gekry het.)

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid