Matteus 2

2
Sterrekenners uit die Ooste
1Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. 2Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” 3Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. 4En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaargeroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf,
6 “ ‘En jy, Betlehem,
in die grondgebied van Juda,
jy is glad nie die geringste
onder die regeerders van Juda nie;
want uit jou sal daar 'n leier kom
wat my volk Israel as herder sal lei. ’ ”
7Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, 8en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.”
9Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, het hulle 'n onbeskryflike groot vreugde ervaar. 11Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. 12En omdat hulle in 'n droom 'n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad langs na hulle land teruggegaan.
Die vlug na Egipte
13Die sterrekenners het teruggekeer, en kyk, daar het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” 14Josef het toe gereedgemaak en gedurende die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte vertrek. 15Hy het daar gebly tot Herodes se dood, sodat die woorde vervul sou word wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”
Die kindermoord
16Toe Herodes agterkom dat hy deur die sterrekenners om die bos gelei is, was hy briesend. En hy het in Betlehem en die hele omliggende gebied al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe laat bring, in ooreenstemming met die tyd wat hy noukeurig van die sterrekenners verneem het. 17Toe is vervul wat deur die profeet Jeremia gesê is:
18 “'n Stem is in Rama gehoor,
'n droewige gehuil en 'n luide rouklag;
Ragel huil oor haar kinders,
en sy weier om vertroos te word,
omdat hulle nie meer daar is nie.”
Terugkeer uit Egipte
19Herodes het gesterf, en kyk, daar het in Egipte 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn 20en gesê: “Staan op, neem die Kind en sy moeder en gaan na die land Israel, want die mense wat die Kind om die lewe wou bring, is dood.” 21Hy het opgestaan en die Kindjie en sy moeder saamgeneem en in die land Israel aangekom. 22Maar toe hy hoor dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was hy bang om daarheen te gaan. Nadat hy in 'n droom 'n opdrag van God ontvang het, het hy na die landstreek Galilea vertrek 23en in 'n dorp met die naam Nasaret gaan woon, sodat vervul sou word wat deur die profete gesê is: “Hy sal 'n Nasarener genoem word.”

Tans Gekies:

Matteus 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid