Matteus 2:7-16

Matteus 2:7-16 ABA

Toe het koning Herodes die sterrekykers laat roep. Hy het gesê hulle moet na hom toe kom maar hulle moet vir niemand daarvan sê nie. Hy het lank met hulle gepraat om presies uit te vind wanneer hulle die eerste maal die ster gesien het. Herodes het die sterrekykers na Betlehem gestuur en gesê: “Gaan vind alles uit oor hierdie Kindjie en soek Hom. As julle Hom kry, dan moet julle vir my kom sê. Ek wil ook gaan en voor Hom kniel en Hom aanbid.” Nadat die sterrekykers gehoor het wat die koning gesê het, het hulle weggegaan. Die ster wat hulle in die ooste gesien het, het hulle gelei tot by die plek waar die Kindjie was. Toe het die ster gestop. Toe die sterrekykers sien die ster is daar, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan, en daar het hulle die Kindjie by Maria, sy ma, gesien. Toe het hulle gebuig en voor Hom gekniel en Hom aanbid. Daarna het die sterrekykers hulle sakke oopgemaak en hulle het presente uitgehaal en vir die Kindjie gegee. Dit was goud, wierook en mirre. God het die sterrekykers in 'n droom gewaarsku en gesê hulle moenie weer na Herodes toe gaan nie. Daarom het die sterrekykers op 'n ander pad teruggegaan na hulle land. Nadat die sterrekykers weggegaan het, het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en vir hom gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy ma saam en vlug na Egipte. Bly daar totdat Ek vir jou sê om terug te kom, want koning Herodes wil die Kindjie doodmaak.” Josef het toe opgestaan. Hy het die Kindjie en sy ma in die nag saam met hom geneem en hulle het na Egipte gegaan. Hulle het in Egipte gebly totdat Herodes gesterf het. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het geskryf: “Die Here het gesê: Ek het my Seun uit Egipte geroep.” Koning Herodes het uitgevind dat die sterrekykers hom gekul het, hulle het nie gedoen wat hy vir hulle gesê het nie. Hy was toe baie kwaad. Hy het soldate gestuur om al die seuntjies in Betlehem dood te maak, al die seuntjies wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was. Hulle het ook die seuntjies doodgemaak wat naby Betlehem gewoon het. Hy het die seuntjies laat doodmaak wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was, omdat die sterrekykers vir hom gesê het wanneer hulle die ster gesien opkom het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid