Matteus 2:7-16

Matteus 2:7-16 AFR20

Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.” Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, het hulle 'n onbeskryflike groot vreugde ervaar. Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. En omdat hulle in 'n droom 'n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad langs na hulle land teruggegaan. Die sterrekenners het teruggekeer, en kyk, daar het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” Josef het toe gereedgemaak en gedurende die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte vertrek. Hy het daar gebly tot Herodes se dood, sodat die woorde vervul sou word wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat hy deur die sterrekenners om die bos gelei is, was hy briesend. En hy het in Betlehem en die hele omliggende gebied al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe laat bring, in ooreenstemming met die tyd wat hy noukeurig van die sterrekenners verneem het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid