Matteus 2

2
Sterrekykers uit die ooste kom soek na Jesus
1Jesus is gebore in die stad Betlehem in die provinsie Judea. Dit was in die tyd toe Herodes koning was. Ná Jesus se geboorte het daar sterrekykers in Jerusalem aangekom. 2Hulle het vir die mense gevra: “Waar is die Kind wat gebore is en wat koning van die Jode sal word? Ons het sy ster gesien opkom en ons het gekom om voor Hom te kniel en Hom te aanbid.”
3Toe koning Herodes dit hoor, was hy en al die mense in Jerusalem baie geskok en bekommerd. 4Koning Herodes het die priesterleiers geroep en ook die skrifgeleerdes. Hulle het 'n vergadering gehou, en koning Herodes het baie vrae vir hulle gevra. Hy wou weet waar die Christus gebore sal word. 5Hulle het vir hom gesê: “Die Christus sal gebore word in die stad Betlehem in die provinsie Judea, want dit is wat die profeet geskryf het: 6‘God het gesê:
“ ‘ Jy, Betlehem, in die land Juda,
jy is een van die belangrikste stede
in Juda.
Betlehem, daar sal 'n Leier
in jou gebore word,
en Hy sal vir my volk Israel sorg
soos 'n skaapwagter
vir sy skape sorg.’ ”
7Toe het koning Herodes die sterrekykers laat roep. Hy het gesê hulle moet na hom toe kom maar hulle moet vir niemand daarvan sê nie. Hy het lank met hulle gepraat om presies uit te vind wanneer hulle die eerste maal die ster gesien het. 8Herodes het die sterrekykers na Betlehem gestuur en gesê: “Gaan vind alles uit oor hierdie Kindjie en soek Hom. As julle Hom kry, dan moet julle vir my kom sê. Ek wil ook gaan en voor Hom kniel en Hom aanbid.”
9Nadat die sterrekykers gehoor het wat die koning gesê het, het hulle weggegaan. Die ster wat hulle in die ooste gesien het, het hulle gelei tot by die plek waar die Kindjie was. Toe het die ster gestop. 10Toe die sterrekykers sien die ster is daar, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan, en daar het hulle die Kindjie by Maria, sy ma, gesien. Toe het hulle gebuig en voor Hom gekniel en Hom aanbid. Daarna het die sterrekykers hulle sakke oopgemaak en hulle het presente uitgehaal en vir die Kindjie gegee. Dit was goud, wierook en mirre. 12God het die sterrekykers in 'n droom gewaarsku en gesê hulle moenie weer na Herodes toe gaan nie. Daarom het die sterrekykers op 'n ander pad teruggegaan na hulle land.
Josef en Maria neem vir Jesus na Egipte
13Nadat die sterrekykers weggegaan het, het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en vir hom gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy ma saam en vlug na Egipte. Bly daar totdat Ek vir jou sê om terug te kom, want koning Herodes wil die Kindjie doodmaak.”
14Josef het toe opgestaan. Hy het die Kindjie en sy ma in die nag saam met hom geneem en hulle het na Egipte gegaan. 15Hulle het in Egipte gebly totdat Herodes gesterf het. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het geskryf: “Die Here het gesê: Ek het my Seun uit Egipte geroep.”
Koning Herodes laat die seuntjies doodmaak
16Koning Herodes het uitgevind dat die sterrekykers hom gekul het, hulle het nie gedoen wat hy vir hulle gesê het nie. Hy was toe baie kwaad. Hy het soldate gestuur om al die seuntjies in Betlehem dood te maak, al die seuntjies wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was. Hulle het ook die seuntjies doodgemaak wat naby Betlehem gewoon het. Hy het die seuntjies laat doodmaak wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was, omdat die sterrekykers vir hom gesê het wanneer hulle die ster gesien opkom het. 17So het gebeur wat die profeet Jeremia gesê het:
18“ Hulle hoor hoe die mense huil,
hoe hartseer hulle is
in die stad Rama.
Ragel huil oor haar kinders.
Die mense probeer haar troos,
maar sy bly hartseer,
want haar kinders is dood.”
Josef, Maria en Jesus kom terug uit Egipte
19Later, toe koning Herodes gesterf het, was Josef nog in Egipte. 'n Engel van die Here het in 'n droom aan Josef verskyn. Die engel het vir Josef gesê: 20“Maak gereed, neem die Kindjie en sy ma en gaan terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie wou doodmaak, is nou dood.”
21Josef het toe gereedgemaak. Hy het die Kindjie en sy ma geneem en na Israel gegaan. 22Maar Josef het gehoor Argelaos was die nuwe koning van die provinsie Judea. Argelaos was koning ná sy pa Herodes. Josef was toe bang om na Judea te gaan. Die Here het vir Josef in 'n droom gewaarsku, en daarom het Josef uit Egipte na die provinsie Galilea gegaan. 23Josef het gaan woon in die stad Nasaret. So het gebeur wat die profete gesê het: “Die mense sal Jesus 'n ‘Nasarener’ noem.”

Tans Gekies:

Matteus 2: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid