HANDELINGE 3:22-24
HANDELINGE 3:22-24 Bybel vir almal (ABA)
Moses het gesê: ‘ Julle God die Here sal vir julle 'n profeet stuur, die profeet sal wees soos ek is. Hierdie profeet sal een van julle wees. Julle moet luister na alles wat hy vir julle sal sê. Elkeen wat nie luister na daardie profeet nie, moet dit weet: Die Here sal hom wegvat van sy mense.’ En al die profete het vertel van die dinge wat nou gebeur, die profete van die tyd af toe Samuel gelewe het, die een profeet ná die ander profeet.
HANDELINGE 3:22-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek. En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word. En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig.
HANDELINGE 3:22-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê. Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.’ En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur.
HANDELINGE 3:22-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moses het immers gesê, ‘Die Here julle God sal vir julle net so 'n profeet soos ek uit julle broers laat opstaan. Na Hom moet julle luister, na alles wat Hy vir julle sê. Elkeen wat nie na daardie profeet luister nie, sal onder die volk uitgedelg word.’ Ook al die profete wat sedert Samuel en sy opvolgers geprofeteer het, het hierdie dae aangekondig.
HANDELINGE 3:22-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want Moses het waarlik aan die vaders gesê: 'n Profeet sal die Here julle God vir julle verwek uit julle broers soos ek; Hom moet julle hoor in alles wat Hy vir julle sê. En dit sal gebeur dat elke siel wat nie na daardie profeet luister nie, onder die volk verdelg sal word. Ja, en al die profete van Samuel af en dié wat daarna volg, almal wat gespreek het, het eweneens van hierdie dae voorspel.
HANDELINGE 3:22-24 Die Boodskap (DB)
Moses het al vir julle gesê: ‘God sal binnekort uit julle midde ’n profeet soos ek op die toneel laat verskyn. Julle moet na hom luister. Doen alles wat hy vir julle sê! Elkeen wat nie na hom luister nie, sal doodgemaak word. Hulle sal nie meer deel wees van God se volk nie.’ “Al die ander profete daar van Samuel se tyd af het presies dieselfde gesê.
HANDELINGE 3:22-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Moses het gesê: ‘Die Here julle God sal ’n Profeet soos ek uit julle volk vir julle laat voortkom. Luister mooi na alles wat Hy vir julle sê.’ Moses het ook nog verder gesê: ‘Elkeen wat nie na daardie Profeet luister nie, sal van die volk van God afgesny en vernietig word.’ “Van Samuel af het elke profeet gepraat oor wat vandag gebeur.