Handelinge 3

3
’n Verlamde loop
1Op ’n dag het Petrus en Johannes tempel toe gegaan om te bid. Dit was teen drie-uur die middag. 2Hulle het by een van die tempel se ingange met die naam Mooipoort ingestap. Daar het ’n man elke dag gesit en bedel. Hy was van sy geboorte af verlam. 3Toe Petrus en Johannes by hom verbystap, vra hy hulle of hulle nie ’n geldjie vir hom het nie.
4Petrus het gaan staan. “Kyk na my!” het hy vir die verlamde gesê wat daar voor hom op die grond gesit en staar het. 5Die man was dadelik die ene oë en ore. 6“Ek het nie ’n sent op my naam nie,” het Petrus gesê. “Maar ek gaan vir jou iets baie beters gee. Ek sê nou vir jou in die Naam van Jesus Christus: staan op en loop!”
7Petrus vat toe die man se regterhand en trek hom op. Onmiddellik het sy voete en enkels nuwe lewe gekry sodat hy kon opstaan en loop. 8Hy het toe saam met hulle by die tempel ingegaan. Hy was so bly dat hy rondgespring het van vreugde terwyl hy hardop lag en huil. 9Hy het God se Naam aanmekaar grootgemaak. Sy vreugdedanse het gou die ander mense se aandag getrek. 10Toe hulle agterkom dat dit hy was wat elke dag by die Mooipoort gesit en bedel het, kon hulle hulle oë nie glo nie. 11Toe die mense ook nog sien hoe die man sy arms om Petrus en Johannes gooi, het hulle almal begin stroom na die Pilaargang van Salomo, waar Petrus-hulle gestaan het.
Petrus vertel hoe Jesus doodgemaak is
12Petrus het toe met die groot skare begin praat wat om hulle saamgedrom het: “Vriende, volksgenote, hoekom is julle so verbaas oor wat so pas gebeur het? Dink julle dalk dat ons hierdie man uit ons eie krag gesond gemaak het? Het dit gebeur omdat ons so godsdienstig is? 13Natuurlik nie. Al wat gebeur het, is dat die God van Abraham en Isak en Jakob vir Jesus, sy eie Seun, op hierdie manier eer kom aandoen het. Hy het hier voor julle almal kom wys hoe groot en sterk Jesus regtig is.
14“Onthou julle nog hoe julle nou die dag vir Jesus soos ’n misdadiger aan Pilatus uitgelewer het? Julle het julle rug vir Hom gedraai toe Pilatus julle die keuse gegee het om Hom los te laat. Julle het selfs gevra dat ’n moordenaar losgelaat word eerder as Hy. 15So het julle Hom wat aan julle die ware lewe kan gee, gaan staan en doodmaak. Maar gelukkig het God Jesus weer lewendig gemaak. Ons het dit met ons eie oë gesien.
16“Wel, Jesus het nou deur ons hierdie verlamde man gesond gemaak. Julle almal kan dit tog sien. Sy geloof in Jesus was genoeg om hom te laat opstaan en loop.”
Jesus is God se antwoord aan ’n stukkende wêreld
17“Vriende, ek weet dat julle en julle leiers glad nie besef het waarmee julle besig was toe julle Jesus doodgemaak het nie. 18Tog het God lankal deur sy boodskappers gesê dat die Messias sou kom ly. Daarom het Hy julle onkunde gebruik om hulle woorde waar te laat word.
19“Nou moet julle julle sondes laat staan. Kom terug na God toe. Hy sal al julle sondes wat tussen julle en Hom staan, uit die pad vat. Hy sal nooit weer daaraan dink nie.
20“God se feestyd sal dan in julle lewe aanbreek. Hy gaan vir Jesus Christus binnekort na julle toe terugstuur. 21Totdat dit gebeur, bly Hy in sy hemelse woonplek. Dit is hoekom julle Hom nie nou kan sien nie. Maar Jesus sal sekerlik terugkom om alles hier op aarde nuut te maak. Dit het God lank gelede deur sy profete belowe. 22Moses het al vir julle gesê:
‘God sal binnekort uit julle midde ’n profeet soos ek op die toneel laat verskyn. Julle moet na hom luister. 23Doen alles wat hy vir julle sê! Elkeen wat nie na hom luister nie, sal doodgemaak word. Hulle sal nie meer deel wees van God se volk nie.’
24“Al die ander profete daar van Samuel se tyd af het presies dieselfde gesê.
25“Julle is mos die nageslag van die profete. God het sy groot ooreenkoms met julle voorvaders gesluit. Hy het vir Abraham gesê: ‘Baie mense hier op aarde sal nog my goedheid beleef omdat Ek hierdie ooreenkoms met jou en jou nageslag gesluit het.’
26“Julle staan vandag heel voor in die ry. Nadat God Jesus weer lewendig gemaak het, het Hy Hom heel eerste na julle toe gestuur om te wys hoeveel Hy vir julle omgee. Daarom moet julle julle sondes laat staan.”

Tans Gekies:

Handelinge 3: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid