Handelinge 3

3
Genesing van die verlamde
1Op die negende uur, die uur van gebed, was •Petrus en Johannes na die tempelterrein op pad. 2'n Man, verlam van sy geboorte af, is daarheen gedra. Hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort bekend as Mooipoort, om by die mense wat die tempelterrein binnegaan, om 'n aalmoes te vra. 3Toe hy sien dat Petrus en Johannes op die punt was om die tempelterrein binne te gaan, het hy gevra om 'n aalmoes te ontvang. 4Petrus, vergesel van Johannes, het stip na hom gekyk en gesê: “Kyk na ons!” 5Hy het toe na hulle gekyk in die verwagting om iets van hulle te ontvang. 6Maar Petrus het gesê: “Silwer en goud het ek nie, maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop! ” 7Hy het hom aan sy regterhand gegryp en opgehelp. Onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. 8Hy het opgespring, regop bly staan, rondgestap, en toe saam met hulle die tempelterrein binnegegaan, terwyl hy loop en spring en God prys. 9Die hele volk het gesien hoe hy God loop en prys. 10Hulle het hom herken as die een wat by die Mooipoort van die tempelterrein gesit het met die oog op aalmoese, en hulle was vol verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het.
Petrus se toespraak by die tempel
11Terwyl die man aan •Petrus en Johannes bly vashou, het die hele volk stomgeslaan om hulle saamgedrom in die pilaargang bekend as die Pilaargang van Salomo. 12Toe Petrus dit sien, het hy die volk toegespreek: “Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd? Waarom staar julle ons aan asof ons hom deur ons eie krag of godvresendheid laat loop het? 13Die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het sy Dienskneg Jesus verheerlik – Hom wat julle oorgelewer het en voor •Pilatus verloën het, al het hy beslis dat Hy vrygelaat word. 14 Julle, egter, het die Heilige en Regverdige verloën, en geëis dat 'n moordenaar vir julle begenadig word; 15maar julle het die Leidsman tot die lewe doodgemaak. God het Hom uit die dood opgewek – daarvan is ons getuies. 16Dit was op grond van geloof in die Naam van Jesus dat sy Naam hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak het. En die geloof wat deur Jesus kom, het in julle almal se teenwoordigheid hierdie volkome genesing aan hom gegee. 17 En nou, broers, ek weet dat julle uit onkunde opgetree het, soos ook julle leiers; 18 maar op hierdie manier het God in vervulling laat gaan wat Hy vroeër by monde van al sy profete aangekondig het, naamlik dat sy Christus sou ly. 19 Bekeer julle en draai terug, sodat julle sondes uitgewis kan word, 20en vanaf die Here self tye van verkwikking kan aanbreek, en Hy die Christus wat vir julle aangewys is, kan stuur, naamlik Jesus. 21Die hemel moet Hom verwelkom tot op die tyd van die herstel van alle dinge, waarvan God lank gelede by monde van sy heilige profete gepraat het. 22Moses het immers gesê, ‘Die Here julle God sal vir julle net so 'n profeet soos ek uit julle broers laat opstaan. Na Hom moet julle luister, na alles wat Hy vir julle sê. 23 Elkeen wat nie na daardie profeet luister nie, sal onder die volk uitgedelg word.’ 24 Ook al die profete wat sedert Samuel en sy opvolgers geprofeteer het, het hierdie dae aangekondig. 25Julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met julle vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het, ‘In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.’ 26God het, nadat Hy sy Dienskneg Jesus laat opstaan het, Hom heel eerste na julle gestuur om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid