Handelinge 3

3
'n Lam man kan weer loop
1Eendag het Petrus en Johannes na die tempel gegaan. Dit was die tyd toe die mense na die tempel gekom het om te bid, omtrent drie-uur in die middag. 2Daar was mense wat besig was om 'n lam man nader te dra. Hy was lam vandat hy gebore is. Sy mense het hom elke dag by een van die poorte van die tempel neergesit. Die poort se naam was Mooi-poort. Die man het elke dag geld gevra vir die mense wat by die tempel ingaan. 3Die man het vir Petrus en Johannes gesien toe hulle by die tempel wou ingaan, en hy het vir hulle geld gevra. 4Petrus en Johannes het reguit na hom gekyk. Toe sê Petrus: “Kyk na ons.”
5Die man het na hulle gekyk en hy het gehoop dat hulle iets vir hom sal gee. 6Toe sê Petrus: “Ek het nie geld nie, maar ek gee vir jou wat ek het. Jesus Christus van Nasaret het my gestuur. Daarom mag ek sy Naam sê en vir jou sê: Staan op en loop.”
7Toe neem Petrus die man se regter-hand en hy help hom om op te staan. Die man se voete en enkels het dadelik sterk geword 8en hy het opgespring en regop gestaan. Toe begin hy rondloop en hy gaan saam met Petrus en Johannes in die tempel in terwyl hy loop en spring en vir God prys. 9Al die mense het gesien dat hy rondloop en dat hy vir God prys. 10Hulle het hom geken, hulle het geweet dat hy die man was wat by die Mooi-poort van die tempel gesit het en geld gevra het. En hulle was baie verbaas oor wat met hom gebeur het.
Petrus praat in die Pilaargang van Salomo
11Die man het vasgehou aan Petrus en Johannes. Hulle het gestaan in die Pilaargang van Salomo en al die mense het na hulle toe gehardloop. Die mense was baie verbaas. 12Toe Petrus die mense sien, het hy met hulle begin praat en gesê:
“Israeliete, hoekom is julle so verbaas oor hierdie wonderwerk? En hoekom kyk julle so na ons? Dink julle ons het met ons eie krag hierdie man weer laat loop? Of dink julle ons kon dit doen omdat ons so godsdienstig is? 13Nee, dit is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob wat dit gedoen het. Ja, die God van ons voorvaders het dit gedoen. God het gesê sy Dienaar Jesus moet die Koning wees. Toe Jesus voor Pilatus gestaan het, wou Pilatus vir Jesus vry laat weggaan. Maar julle het Hom vir die Romeine gegee sodat hulle Hom kan doodmaak, julle wou Hom nie aanvaar nie. 14Julle wou nie die Heilige en Regverdige aanvaar nie. Julle het gevra dat Pilatus 'n moordenaar vry moet laat weggaan. 15Maar julle het die Leier doodgemaak wat vir mense die lewe wil gee. God het Hom weer laat lewe, en ons is die getuies daarvan. 16Hierdie lam man het in Jesus geglo toe hy sy Naam hoor, daarom het Jesus die man se bene sterk gemaak. Julle sien hierdie man en julle ken hom. Jesus het vir die man die geloof gegee en hierdie geloof het hom heeltemal gesond gemaak, julle almal het dit gesien. 17Ja, vriende, ek weet julle het nie besef wat julle doen nie, julle leiers het ook nie besef wat hulle doen nie. 18Maar God het lank gelede vir al die profete gesê hulle moet die boodskap bring dat die Christus van God sal swaarkry en sal ly. En nou het God dit alles waar laat word. 19Daarom moet julle nou julle lewe verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle moet na God toe gaan sodat Hy julle sondes heeltemal kan wegneem. 20Dan sal julle weet dat die Christus regeer en julle sal kalm en rustig wees. En die Here sal vir Jesus stuur, Hy het vir Jesus gekies en aangestel om die Christus te wees. 21Jesus moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. God het al hierdie dinge lank gelede gesê toe Hy vir sy gewyde profete gesê het om dit te sê. 22Moses het gesê: ‘ Julle God die Here sal vir julle 'n profeet stuur, die profeet sal wees soos ek is. Hierdie profeet sal een van julle wees. Julle moet luister na alles wat hy vir julle sal sê. 23Elkeen wat nie luister na daardie profeet nie, moet dit weet: Die Here sal hom wegvat van sy mense.’ 24En al die profete het vertel van die dinge wat nou gebeur, die profete van die tyd af toe Samuel gelewe het, die een profeet ná die ander profeet. 25Julle is die kinders van die profete en van die verbond wat God gemaak het met julle voorvaders. God het vir Abraham gesê: ‘ Al die volke van die aarde sal My vra om hulle te seën soos Ek jou nageslag sal seën.’ 26Daarom het God sy Dienaar Jesus gestuur. God het Hom eerste na julle toe laat kom. Die Dienaar wil julle seën, Hy wil elkeen van julle laat ophou om verkeerde dinge te doen.”

Tans Gekies:

Handelinge 3: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid