ROMEINE 5:1-15

ROMEINE 5:1-15 AFR83

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 'n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir 'n regverdige nie. Ja tog, vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het. Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie 'n wet is nie. Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid