PSALMS 27:1-14

PSALMS 27:1-14 AFR83

Van Dawid. Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? As misdadigers op my afstorm om my dood te maak, my teëstanders en my vyande, dan is dit juis húlle wat struikel en val. Al sou 'n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê. Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel. Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woonplek, my hoog op 'n rots laat staan; ek sal in sy woonplek onder trompetgeklank my offers bring, ek sal 'n lied sing, ek sal sing tot die eer van die Here terwyl ek neerkyk op die vyande rondom my. Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig en verhoor my gebed. Ek onthou wat U gesê het: “Julle moet My kom dien!” Ek is hier om U te dien, Here. Moet U tog nie vir my verberg nie, moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie, want U was nog altyd my hulp. Moet my tog nie verstoot en verlaat nie, want U alleen is die God wat my red. Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem. Leer my u wil, Here, en lei my op 'n gelyk pad sodat my vyande nie hulle sin kry nie. Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie, want daar staan vals getuies teenoor my en hulle blaas geweld teen my aan. As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...! Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid