ROMEINE 5:1-8

ROMEINE 5:1-8 NLV

As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, het ons nou vrede met God op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. Deur Jesus Christus het ons, deurdat ons glo, toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind, en ons jubel vol verwagting oor die heerlikheid wat God aan ons gaan gee. Dis egter nie al nie – ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Ja, juis toe ons nog totaal hulpeloos was, het Christus vir ons, die goddeloses, kom sterf. ’n Persoon sal kwalik bereid wees om vir ’n regverdige mens te sterf. Miskien sal iemand nog kans sien om vir ’n besonder goeie mens te sterf. God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid