DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop预览

God se genade en oordeel
Ondanks haar verlede en die oordeel wat oor Jerigo gehang het, het Ragab die genade van God op ‘n diep en transformerende manier ervaar. Vir baie mense lyk dit onmoontlik om God se oordeel en straf te versoen met sy karakter van liefde en genade. Hoe kan ‘n liefdevolle God ‘n plek soos die hel versoen met sy wese?
Hierdie vraag is een van die kernvraagstukke van die Christelike geloof deur die eeue heen. Hoe kon Hy genade aan Ragab en haar familie bewys terwyl Hy Jerigo geoordeel en gestraf het? Die antwoord lê in wie God is: Hy is beide genadig en regverdig! Daar is geen konflik in sy wese nie en geen teenstrydigheid in sy optrede nie. Hy is volmaak barmhartig én volmaak regverdig, op dieselfde tyd.
Dit spreek duidelik in God se eie woorde aan Moses: “Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie” (Eksodus 34:6-7, 2020).
God se genade bied vergifnis en redding aan almal wat in Hom glo, maar sy heiligheid vereis dat ongeregtigheid en sonde aangespreek word. Paulus beklemtoon dit in Romeine 11:22: “Sien daarom God se goedheid sowel as sy strengheid raak: sy strengheid oor hulle wat afvallig geword het, maar sy goedheid oor jou – mits jy in sy goedheid bly” (2020).
Dit is presies wat met Ragab gebeur het: sy het gekies om in God se goedheid te bly. Die kragtige boodskap van Ragab se rooi tou is dat God se oordeel en genade volkome saamkom in Jesus Christus. Daar moet oordeel en straf vir sonde kom. Paulus beskryf hoe hierdie balans uiteindelik deur Jesus Christus aan die kruis vervul is:
“Omdat een persoon aan God ongehoorsaam was, het baie mense sondaars geword. Net so sal baie deur die gehoorsaamheid van hierdie één, ánder Mens tot regverdiges verklaar word” (Romeine 5:19, NLV).
Jesus het die volle gewig van God se oordeel gedra, sodat ons sy genade kan ervaar. In Christus sien ons hoe God beide regverdig én genadig is, ‘n bevestiging dat daar vir almal ‘n pad na lewe en vergifnis is, selfs vir iemand soos Ragab – en vir ons.
God se genade roep ons om in dankbaarheid en gehoorsaamheid te leef. Ons moenie sy genade as vanselfsprekend aanvaar nie, maar ons moet dit omhels deur weg te draai van ons sonde en in sy goedheid te bly.
Vra jouself vandag af: Aanvaar ek God se genade, of leef ek asof ek selfregverdig is? Leef ek in ‘n manier wat wys dat ek dankbaar is vir die genade wat ek ontvang het?
Gebed
Here, U is oorvloedig in genade en volmaak in geregtigheid. Dankie dat U deur Jesus Christus die weg gemaak het sodat ek vrygespreek kan word van my sonde. Help my om in u goedheid te bly en om ander die genade te wys wat ek ontvang het. Gee my die wysheid om u oordeel te respekteer en die liefde om in gehoorsaamheid te wandel. Amen.
读经计划介绍

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.
More