YouVersion Logo
Search Icon

EsterSample

Ester

DAY 17 OF 43

Week 3 / Leef Dapper met God se Krag

Soek Wyse en Getroue Raad

Lees: Ester 3:12-15; Spreuke 25:19

SOAP: Spreuke 25:19

“'n Seer tand, 'n voet wat meegee, so is dit om in gevaar staat te maak op 'n onbetroubare mens.”

Oordenking

Koning Ahasveros was vol vertroue dat Haman sy beste belange op die hart gedra het. Hy het staat gemaak op Haman se advies en het saam met hom gaan sit en drink, totaal onbewus van die verwoesting wat Haman se raad sou meebring. Spreuke 25:19 skets ‘n helder beeld van hoe dit voel om staat te maak op iemand wat nie daardie vertroue waardig is nie. Dit is soos om met ‘n seer tand te probeer kou – pynlik en onbetroubaar – of om te loop met ‘n geswikte enkel – stadig en onstabiel.

Daar was al kere in ons almal se lewens wat ons die verkeerde mense vertrou het. Miskien het hul advies op daardie tydstip wys voorgekom, ondanks ‘n mate van twyfel in ons harte. Maar net soos koning Ahasveros besef ons uiteindelik dat dit net tot pyn en spyt lei om iemand te vertrou wie se hart vals is. Ons sien weer hoe belangrik dit is om onderskeidingsvermoë te hê wanneer dit kom by die stemme waarna ons luister en die mense wat ons toelaat om ons lewens te beïnvloed.

God doen ‘n beroep op ons om ons tot wyse en betroubare raadgewers te wend – mense wat die waarheid praat, en dít terwyl hulle ons beste belange op die hart dra. En meer nog verlang Hy dat ons Hom bo alles moet vertrou. God se wysheid is standvastig en seker, nie soos die wêreld se advies wat die heeltyd verander nie. Wanneer ons vertroue in Hom gevestig is, kan ons seker wees dat Hy ons met standvastigheid sal lei, selfs in moeilike tye.

Dink na oor die mense wat jy vertrou vir raad en leiding. Lei hulle jou nader aan God of trek hulle jou weg van sy waarheid af? Vra God vir wysheid om te onderskei wie ‘n stem in jou lewe moet hê, en vertrou dat Hy jou sal help.

Gebed

Here Jesus, help my om diegene te vertrou wat my beste belange in gedagte het en U bo alles soek. Gee vir my wysheid om duidelik te sien wanneer iemand se raad nie in lyn is met u waarheid nie, en lei my om in ooreenstemming met u planne vir my lewe te wandel. Amen.

About this Plan

Ester

In 'n wêreld wat daagliks 'n uitdaging op ons geloof plaas, is dit meer belangrik as ooit om sterk en dapper te wees en op te staan vir wat reg is. Die boek Ester is tydloos en is net so toepaslik vir ons lewens vandag. Kom ons leer van Ester om te kies om dapper te wees en die regte ding te doen, te midde van onsekerheid.

More