YouVersion Logo
Search Icon

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopSample

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAY 28 OF 40

Die grootheid van God

Die val van Jerigo se mure is een van die mees dramatiese oomblikke in die Bybel. In Josua 6:20 lees ons: “Toe die priesters die ramshorings blaas, het die hele volk hard geskreeu en die muur het op sy plek ingeval. Die volk het toe die stad ingegaan, elkeen reg vorentoe, en hulle het die stad ingeneem” (NLV).

Die mure van Jerigo was indrukwekkend– tot 10 meter hoog en 3 meter breed, en in menslike terme feitlik ondeurdringbaar. Tog het hulle ineengestort onder die kragtige werking van God – nie deur oorlogswapens nie, maar deur gehoorsaamheid aan sy opdragte.

Hierdie verhaal herinner ons daaraan dat geen struikelblok vir die Here te groot is nie. In ons eie lewens kom ons dikwels struikelblokke teë wat net so intimiderend soos Jerigo se mure kan voel, finansiële krisisse, verhoudingsprobleme, gesondheidsuitdagings of selfs innerlike twyfel.

Hierdie "mure" kan ons geloof toets en ons laat wonder of ons ooit ‘n deurbraak sal beleef. Maar net soos in die geval van Jerigo, het God die krag om hierdie mure af te breek. Ons deel is om sy stem te hoor, Hom te vertrou en gehoorsaam te wees selfs wanneer sy opdragte vreemd of teenintuïtief lyk.

Die val van Jerigo se mure herinner ons dat God nie beperk word deur menslike logika nie. Sy krag is groter as enige struikelblok wat ons mag ervaar en sy planne is altyd vir ons beswil.

Dink aan die mure in jou lewe – die struikelblokke wat jou ontmoedig of jou geloof toets. Hoe kan jy jou vertroue in God plaas om hierdie hindernisse te oorwin?

Miskien vra dit van jou om te luister na sy stem, ‘n stap in gehoorsaamheid te neem of eenvoudig te wag op sy goddelike tydsberekening. Wees verseker: net soos die mure van Jerigo geval het, kan jou struikelblokke ook val as jy op God vertrou.

Gebed

Here, Dankie dat U groter is as enige struikelblok wat ek in die gesig staar. Ek bring die mure van my lewe na U toe – die dinge wat te groot en onmoontlik voel om self af te breek. Gee my die geloof en moed om op U te vertrou en u stem te gehoorsaam, al verstaan ek nie altyd u plan nie. Laat u krag in my lewe openbaar word en verbreek hierdie mure op u eie tyd. Amen.

Scripture

About this Plan

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More