YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 107 OF 364

Wat is afgodery? – Levitikus 19:4

Dit is insiggewend dat Levitikus 19 ingebed is tussen die voorskrifte oor allerhande ongeoorloofde seksuele verhoudings in Levitikus 18 en die soortgelyke ongeoorloofde seksuele verhoudings met hulle strawwe in Levitikus 20. Dit dra die betekenis dat heiligheid in die huwelik van onskatbare belang is vir die geloofsgemeenskap in die lig van die volle boodskap van die Tien Gebooie uit Eksodus 20, want ons vind elke enkele een van die Tien Gebooie hier gereflekteer. Daarom begin Levitikus 19 met die oorhoofse beginsel: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.

Die hele uitleg van die Tien Gebooie in hierdie hoofstuk word dus op God se heiligheid gebaseer. Die voorskrifte word egter nie in die volgorde van die Tien Gebooie gegee nie. Trouens, dit is baie moeilik om die hantering van die voorskrifte in ‘n sinvolle struktuur te orden.

Dit wil voorkom asof daar ‘n losserige tematiese samehang is rondom voorskrifte vir:

  1. aanbidding – eerste tafel van die wet rondom afgode, sabbat en die skuldoffers van Levitikus;
  2. verhoudings – tweede tafel van die wet rondom steel, leuens, bedrog, berowing, haat, wraak, armes, vreemdelinge, en selfs landbou;
  3. regspraak – wat onpartydig, regverdig, en billik moet wees (Hartley).

Maar selfs in só ‘n indeling is dit eintlik die verbintenis aan die Tien Gebooie wat deurslaggewend is, soos gesien kan word dat die regspraak eintlik ook met die tweede tafel van die wet te make het.

Miskien moet ‘n mens daarom aan Levitikus 19 dink as ‘n uitgebreide toepassing van die Tien Gebooie wat duidelik as die basis hiervoor gedien het, maar in ‘n soort “preek” oor die Tien Gebooie gelewer is.

1. Levitikus 19 bevat 32 riglyne wat met elke gebod in die Tien Gebooie verbind kan word. Vers 4 kan met die eerste twee gebooie verbind word: 1) geen ander gode; 2) geen afbeelding van God mag aanbid word nie. Hoekom dink jy is dit steeds só ‘n belangrike voorskrif?

2. Jesus sluit by hierdie gebod aan in die eerste liefdesgebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (Matteus 22:37). Hoe kan ‘n mens dit positief nakom?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die feit dat die Here jou God is, en geen kompetisie in jou lewe duld nie.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Levitikus 19 met die tema: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More