YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Vrug: 'n Onvergeetlike leweSample

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

DAY 5 OF 10

DIE VRUG van die Gees: Lankmoedigheid Galasiërs 5:22 AFR53: "Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid , vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing." Die vrug van die Gees is die uitvloeisel van God se karakter in ons omdat ons Hom ken en omdat ons besef dat ons na sy beeld en gelykenis geskape is. Lankmoedigheid word in Engels beskryf as "longsuffering". Die oorspronklike Grieks wys ons dat dit ook dui op geduld en deursettingsvermoë. Lankmoedige mense reageer nie vinnig om iemand terug te kry wat hulle benadeel of ontstel het nie. Lankmoedigheid werk baie nou saam met die krag van genade. Ons bestudeer elke vrug van die Gees eers in Jesus se lewe: Jesus het ‘n "lang gemoed" teenoor ander mense gehad. Ons sien hoe geduldig Hy was met die skares wat Hom oorval het. Ons sien hoe die dissipels kinders wou wegjaag, maar Jesus het geduld met hulle getoon. Ons sien hoe Hy langs die pad by die blinde man stop, al was Hy eintlik êrens anders heen op pad. Een keer toe hulle ‘n man deur die dak laat sak om by Hom uit te kom, het Hy alles gestop en eers die man genees. Ons sien hoe Hy toelaat dat Hy vals beskuldig word en ons sien hoe Hy Hom laat gésel en kruisig — alles ter wille van jou en my. Die enigste manier wat ‘n mens lankmoedig kan wees, is wanneer iets vir jou ‘n groter waarde het as om jou humeur te verloor. Jesus wys ons dat lankmoedigheid met sy dissipels die moeite werd was omdat hulle die evangelie namens Hom die wêreld sou indra. Ons sien gereeld hoe Hy hulle selfsug en verwarring moet hanteer, maar met die oog op die toekoms, gaan Hy voort om in hulle te belê. 1 Timotheus 1:16: "Juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek 'n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry." Ons God se lankmoedige karakter is ook so in ons DNS. Die Heilige Gees werk hierdie vrug in ons lewens en dit laat ons verstaan dat alles wat die moeite werd is, eintlik maar tyd vat! Die lewe is beslis ‘n langafstand wedloop. Lankmoedige mense fokus nie net op uitkomste nie, maar verstaan die krag van die proses. Dit verg uithouvermoë en deursettingsvermoë om lankmoedigheid in ons lewens te kweek. Hebreërs 12:1-3: "Terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het." Jesus se fokus op die beloning het Hom die krag gegee om vir ons deur die smarte van die kruis te gaan. Hy bid selfs vir sy mede-martelare terwyl Hy gekruisig word omdat hy lankmoedig was. Ons uitdaging vir jou vandag: Bestudeer elke stukkie ongeduld in jou lewe en identifiseer die oorsaak daarvan. Elke keer wat ek my humeur verloor sê ek hierdie belydenis hardop: "Ek is geskep na die beeld en gelykenis van ‘n lankmoedige Vader. Sy geduld met my maak my lankmoedig teenoor ander mense."
Day 4Day 6

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy