YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Jy kán God vertrou deur Nina Smit Sample

Jy kán God vertrou deur Nina Smit

DAY 4 OF 5

God kan doen wat Hy belowe Wanneer ’n mens ouer word, is dit soms nogal moeilik om te aanvaar dat jy nie meer so skerp soos voorheen is nie. Jy word toenemend vergeetagtig, ongeduldig met jouself en dan word jy angstig omdat jy nie weet wat vorentoe vir jou wag nie. Boonop het jy doodeenvoudig nie meer die lus of krag om die dinge te doen wat voorheen vir jou kinderspeletjies was nie. God wil ouer mense steeds in sy koninkryk gebruik. Abraham was immers 75 toe hy God se belofte van ’n groot nageslag ontvang het. En Hy moes nóg 24 jaar wag voordat die belofte vervul is. Teen daardie tyd was dit menslik onmoontlik vir hom en sy vrou om kinders te kry – tog word Isak gebore toe hy 100 en Sara 90 jaar oud was. (Ek is net baie dankbaar ek moes nie daardie uitdaging aanvaar nie!) God kan steeds die onmoontlike moontlik maak – glo dit, omdat dit soveel keer in die verlede bewys is. Hou styf vas aan sy beloftes vir jou. Hulle sal op God se tyd en op sy manier vir jou waar word. Geloof in Jesus maak dit vir jou en my moontlik om hier op aarde met geloof en optimisme te leef, ten spyte van ons omstandighede, omdat ons weet dat die hemel op ons wag. Onthou die goeie nuus van die evangelie hierdie Paasfees: dat vir elke gelowige die hemel nou reeds joune is. Gebed Hemelse Vader, U weet ek twyfel maklik. Gee my die geloof van ’n Abraham sodat ek absoluut oortuig kan wees dat U enigiets kan doen wat U belowe het. Amen.

Scripture

Day 3Day 5

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy