PSALMS 45
45
Gedig vir 'n koning
1Vir die koorleier: op die wysie van “Lelies”. Van die Koragiete. 'n Gedig. 'n Lied van die liefde.
2Mooi woorde roer in my hart;
ek dra my gedig voor aan die koning;
my tong is soos die pen van 'n vaardige skrywer.
3U is mooier as alle mense;
oor u lippe vloei net vriendelike woorde,
want u hele lewe lank seën God u.
4Kom, held, maak u reg vir die stryd,
kom in u koninklike luister.
5Mag u oorwin!
Knoop die stryd aan vir die waarheid
en vir die reg van die hulpelose!
U is geroepe tot magtige dade.
6U skerp pyle laat volke voor u voete val;
hulle deurboor die hart van die koning se vyande.
7U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas,
met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied.
8U het die reg lief en u haat die onreg,
want, verhewe wese, onder groot vreugde het u God u bo u tydgenote tot koning gesalf.
9Die geur van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere;
musiek uit u ivoorversierde paleis maak u bly.
10Voor u staan prinsesse, getooi met u juwele,
en aan u regterhand die koningin, versier met goud van Ofir.
11Luister, dogter, luister goed:
neem afskeid van u volk en u familie,
12want u skoonheid bekoor die koning.
U behoort aan hom, u moet hom eer.
13Dogter van Tirus, die rykes van die volk sal u guns soek met geskenke.
14In louter prag staan die koningin daar
in haar kleed van goudbrokaat;
15in haar veelkleurige rok word sy na die koning toe gelei;
sy en haar gevolg van jong meisies, haar vriendinne, word na u toe gebring.
16Onder uitbundige vreugde word hulle ingelei,
betree hulle die paleis van die koning!
17Mag u seuns hê om u geslag voort te sit
dat u hulle kan aanstel as regeerders in die hele land!
18Mag deur my lied die roem van u naam oor geslagte strek,
sodat volke u vir altyd sal prys.
اکنون انتخاب شده:
PSALMS 45: AFR83
هایلایت
به اشتراک گذاشتن
مقایسه
کپی
می خواهید نکات برجسته خود را در همه دستگاه های خود ذخیره کنید؟ برای ورودثبت نام کنید یا اگر ثبت نام کرده اید وارد شوید
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.