YouVersion Logo
Search Icon

NGK Ceres Moedergemeente

Ceres Moedergemeente: Is ek 'n Bybelmens?

Ceres Moedergemeente: Is ek 'n Bybelmens?

Die volgende 40dae gaan ons as gemeenskap saam die 42 mees gelese Bybeltekste in die gemeente hanteer. Oor die volgende 6 eredienste hanteer ons die 6 mees geliefde tekste.

Locations & Times

Owen St, Ceres, 6835, South Africa

Monday 11:35 AM

1. Maandag 7 Augustus
Psalm 16:5-11

Hierdie teksvers speel in baie gelowiges se lewe `n belangrike rol en met reg so. Maar `n mens moet eintlik by vers 11 begin, want daar staan: “U leer my hoe om te lewe...By U is daar oorvloedige blydskap!”

Die belydenis waarvan vers 6 praat, is nie iets wat in alle gevalle vanself opspring in mense se lewens nie. Dit is iets wat die Here ons deur sy Gees en deur opvoeders leer. Dankbaarheid in `n mens se lewe is `n diepe krag soos `n fontein op `n droë plaas – dit bring vreugdevolle lewe!

Die Psalmdigter se “pragtige deel” waaroor hy so dankbaar is, is allereers dat die Here sy eienaar is! (vers2). Wie die lewende Here in sy of haar lewe het, het reeds `n onbetwisbare skat. Hy kan met `n liefdesgloed erken: “Here, U is my lewe”! (vers5).

Maar die “pragtige deel” waarvan die digter so mooi praat, is ook die besef, dat hy alles van die Here ontvang het. Alles: elke molekule, elke asemteug, elke stukkie energie. Dit maak hom diep dankbaar.

Het jy al die Here gevra om jou so in ware dankbaarheid te leer? Stel jy jouself bewustelik daarop in om dankbaar te wees? Tel jy jou seëninge: selfs al moet jy dit een-vir-een doen, soos die ou Halleluja-lied ons geleer het.

Dalk is dit die grootste lewensles – sommer by die heel eerste dagstuk: dankbaarheid is `n vreugdevolle krag in die lewe!

GEBED: Leer my, Here, om die pragtige deel te sien wat U vir my gegee het.
2. Dinsdag 8 Augustus
Jesaja 41:10

Mense beleef positiewe en negatiewe emosies. Vrees en bekommernis lê aan die negatiewe kant. Dit ondermyn dikwels die positiewes, soos vrede en vreugde – selfs liefde. Wie vervul is met allerlei vrese en bekommernisse, leef soos iemand met swaar boeie aan die voete!

Die Here wil sy kinders hiervan bevry en gee 6 wonderlike “redes” hoekom ons nie vreesagtig en bekommerd hoef te leef nie!

 Ek is by jou – jy mag klein en nietig voel, maar dink bietjie WIE by jou is! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid! Dié Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons `n beskutting!
 Ek is jou God – “Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is HY wat hulle elkeen gemaak het! “Dit is Ek die Here! Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees!”
 Ek versterk jou – “maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag, hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”
 Ek help jou – Vir die een wat glo, kan alles! Die Here bekwaam die wat Hy roep.
 Ek hou jou vas - “soos `n Herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors.”
 Met my eie hand red Ek jou – God het nie net sy eie hand uitgesteek nie, maar ook sy eie Seun gestuur!

GEBED : Here, laat hierdie 6 sinne my vrese en bekommernisse vandag oorskadu!
3. Woensdag 9 Augustus
1 Korintiërs 13

Hierdie beroemde “lied” oor die liefde staan binne `n langer gedeelte waarin die apostel Paulus die gawes van die Gees behandel. Christene moet weet dat daar geen gawe groter as die liefde is nie: dat dit ook nie iets is wat iemand maar kan oorslaan nie!

Die liefde word in die laaste vers selfs met die geestelike reuse, geloof en hoop, vergelyk, en dit voer ook hier die botoon! Die liefde wat hier so besing word, is natuurlik die agape-liefde van God. Dit is die liefde waarvoor ons ook moet bid, dat die Gees dit in ons harte sal uitstort, want dit is onvoorwaardelik, m.a.w. dit vra nie eers vir een of ander mooi “eienskap” in die ander om dan op grond daarvan, lief te hê nie. Nee, hierdie liefde is die liefde wat God aan ons getoon het voor ons nog in Hom geglo het. Dit is daarom nie `n liefde wat gewek word deur iets van buite nie en ook nie `n liefde wat afkoel en verdwyn wanneer die gronde nie meer bestaan nie!

Hoe nodig het die wêreld en die kerk nie hierdie soort liefde nie!
Dit is groter as geloof en hoop, omdat geloof en hoop sal verdwyn en die liefde ewig sal bly!

Terwyl jy in die geloof worstel met allerlei vrae en soms moet berus, omdat ons in hierdie bestel nog dikwels in `n dowwe spieël kyk, kan jy steeds liefhê. Gaan lees weer die eienskappe van hierdie liefde soos dit in 1 Kor. 13 :4 -7 aangeteken is en bid die Here om jou daarin te help. Jy kan `n lewensveranderende rol vervul in `n baie deurmekaar wêreld.

GEBED: Here, gee my en gee ons as U kinders vandag U liefde sodat die wêreld iets van U in ons kan sien.
4. Donderdag 10 Augustus
Efesiërs 1:3-11

Daar is in die raadsbesluit van God oor dinge besin wat bo ons menslike begrip is, want soos die hemel hoër is as die aarde, so is God se gedagtes hoër as die mens s’n! Maar in hierdie ryke gedeelte gee die Here vir ons wel ‘n kykie in die breë lyne van sy goddelike plan – veral wanneer dit gaan oor Jesus Christus! “Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.” (vers 10).

Hierdie plan van God met Jesus kan ‘n mens reeds met die menigte engele se loflied voor die skaapwagters in die velde van Bethlehem, met die kind se geboorte, aflei. Ons lees dit ook in die beroemde Joh 3:16, waar God verklaar dat Hy die wêreld so liefgehad het, dat Hy Sy enigste Seun gegee het, maar op min ander plekke in die Bybel staan die groter goddelike doel met die Timmermanskind so duidelik soos hier in Ef. 1:10!
Jy is begenadigd om dit te kan weet.

Wat meer is, jy is deur jou geloof in Jesus, deel van die plan! Hiervoor het die Here ook vir jou en my toegerus, deurdat ons geseën is met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is! En God het ons voorbestem om deel van hierdie geestelike golf te wees wat oor die aarde moes spoel. `n Mens se lewe kan nooit weer sinneloos dan die kant toe, dan daardie kant toe, doelloos heen en weer geslinger word, nadat jy hierdie wonderlike nuus gehoor het nie.

Dit is soos die apostel Paulus hier `n paar maal verklaar: ons moet God daarvoor prys.

GEBED: Here, ek aanvaar dankbaar, dat U ook my wil gebruik om vandag Jesus se Naam op die aarde te vestig. Dankie dat U my ook daarvoor uitverkies het!
5. Vrydag 11 Augustus
Filippense 1:9-27

Vandag se teksgedeelte is eintlik ‘n uitbouing op gister se gedagte! Die apostel Paulus se wonderlike gebed in vers 9 is nie maar slegs vir persoonlike verryking nie (dit ook), maar het `n groter gerigtheid. En dit is dat die liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons deur hierdie liefde sal kan onderskei waarop dit alles aankom!

Alles kom aan op Jesus!

Ook elke Christen se lewe kom aan op Jesus!

Ons raak so maklik vasgevang in Totius se wag-`n-bietjie-bos van persoonlike pyn en lyding; van al die vrae wat dit persoonlik oproep. Ons word ook maklik meegesleur deur die dramas wat in die kerk en in die lewe afspeel.

Paulus help ons wanneer hy toon, dat selfs dit wat minder goed en baie sleg is, alles dinge is wat die evangelie kan bevorder. En Paulus weet waarvan hy praat - ons moet onthou hy skrywe vanuit die gevangenis. Hy het in die gevangenis getuig en deur sy swaarkry het die boodskap van sy getuienis soveel sterker geword! Nou kan mense sien, dat hy dit doen uit absolute oortuiging en nie om bloot menslike gewin nie!

Hy sien selfs in die mense wat die evangelie met onsuiwer bedoelings gebring het, iets positief!

Die apostel se lewensdoel was om Christus te verheerlik. Hy sê dit so aangrypend mooi: want om te lewe, is vir my Christus! Daarom is die gebed dat almal se lewens tog so deur die liefde omvorm sal word, dat elkeen se lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. Dit beteken nie slegs die vurige afwys van sonde nie, maar die absolute uitstyg in liefde tot God en teenoor die naaste!

GEBED : Laat U liefde, o Here, so in my groei dat ek elke oomblik sal kan onderskei, dat my lewe rondom Jesus sentreer!!
6. Saterdag 12 Augustus
Hebreërs 11:1-6

In Hebr. 11:1 staan die definisie van geloof – as ons dit opbreek kan ons sê: geloof bestaan uit twee dele nl. kennis en vertroue. Maar die kennis is nie die kennis van die wetenskap nie – ook dit is al geloofskennis. Dit is kennis wat aan ons meegedeel is deur die openbaring van God se Woord. Daarom doen ons moeite om hierdie kennis aan ons kinders en aan ander mee te deel. Ons leer uit die Woord hoe God sekere kennis aan ons meedeel en ons interpreteer dit in vandag se taal en leef dan daarmee met vertroue! Ons verkondig die evangelie van God se liefde in Christus, Sy menswording, aardse lewe, kruisdood, opstanding en hemelvaart. Die Woord bring die boodskap van die Heilige Gees wat ons bekragtig en toerus.

Maar geloof kan nooit slegs kennis wees nie, dit moet ook kom by die vertroue – soos al die geloofshelde waarvan Hebreërs 11 ons vertel. As `n mens nie so glo nie, is dit tog gewoon onmoontlik om te doen wat God wil! Dikwels is ons egter soos wat vertel word in die onderstaande verhaal:

‘n Waaghals het met `n balanseertoertjie slegs op `n kabel oor die Niagra- waterval geloop. Elke slag het hy iets meer saamgeneem. Uiteindelik het hy ‘n sak mieliemeel binne-in kruiwa bo-oor gestoot! Die skare het hom toegejuig. Hy vra hulle toe: “Glo julle ek kan iemand binne-in die kruiwa op die kabel oor die gapende afgrond stoot?” “Ja, ja, natuurlik!” skreeu hulle. Toe die waaghals egter `n vrywilliger vra, was daar niemand!

Ware geloof is egter om te weet EN dan ook te vertrou!

GEBED : Here, gee ons geloof, gee ons kennis, maar veral die vertroue om op te staan en `n verskil te maak....
7. Sondag 13 Augustus
Filippense 4:4-8

Ons ontmoet mekaar in die erediens.
8. Maandag 14 Augustus
Psalm 27:1
8. Maandag 14 Augustus
Psalms 27:1

Een van die grootste geskenke wat God ons bied, is dat ons kan wegkyk van onsself en dat Hy al ons aandag kan geniet! Dawid kyk te midde van vyande wat hom o.a. lewendig sou wou verslind, weg van homself in geloof na God. Met God kan hy sien wat ander nie kan sien nie: kan hy redding te wagte wees waar ander net gevangenskap in die oë staar: het hy êrens om hom heen te onttrek as ander wat net hulself het. Dit is wie God is, elke dag!

Dawid is doodseker van God! Alles rondom hom bring onsekerheid en selfs die dood, maar Dawid beleef God op so ’n oorweldigende manier, dat hy nie bang is nie en nie skrik nie. Maar Dawid reik uit na meer as net sekere hoedanighede van God, Hy reik uit na God self. Hy wil permanent by Hom bly om sy lieflikhede te aanskou en in die praktyk beleef dat hierdie
teenwoordige God groter is as enigiets wat oor sy aardse pad kan kom.

Jesus het ons dieper kom indra in God se teenwoordigheid: Hy was self God se teenwoordigheid. Saam met Hom kan ons God ten diepste leer ken; saam met Hom in ’n storm nie bang wees nie, want ons Vader is groter as die storm. Dis God se geskenk aan almal wat in Hom glo! Met Hom kan ons soos Dawid eerlik wees oor ons omstandighede, maar met Hom kan niks ons beheer of oorweld-ig nie. Ons bly vry om te leef!

Gebed: Dankie, Here vir hierdie wonderlike versekering: U is my lig en my redding!
8. Maandag 14 Augustus
Psalms 27:1


9. Dinsdag 15 Augustus
Johannes 3:16

God wil ons ’n ”geboorte van bo” (‘n geestelike een) gee, omdat ons net die “geboorte van onder het” (die fisiese een). Hy wil baie mense sien ingaan in Sy Koninkryk terwyl mense slawe is in ’n vyandige koninkryk. Hy wil ons die lewe gee, omdat die dood onder ons kamp opgeslaan het. God wil ons lief maak vir die lig terwyl mense se dade verklap dat hulle eintlik baie lief is vir die ver-keerde!

Hoe doen Hy dit as selfs Israel se leiers, soos Nikodemus, dit nie verstaan nie? Hy doen dit met LIEFDE! Hy doen dit in Sy Seun! God gee Homself weg in Jesus op ’n manier wat niemand nog ooit liefgehad het nie. Hy laat Sy Seun in mense se skoene en omstandighede leef, sodat Hy kan doen vir hulle wat hulle nooit vir hulleself kan doen nie. En as Hy klaar vir hulle tot in die Golgotadood sy lewe vir hulle afgelê het, kan die partytjie begin, kan hulle deur kinderlike vertroue in Hom deel kry aan die allerbeste wat Hy hulle kan gee! Hulle begin om deel te wees van ’n nuwe skepping, onder die heerskappy van Jesus en leef in die lig soos die Vader en die Seun dit doen.

Wat is die teendeel? Om verlore te gaan! Hoe verskriklik is dit nie? Om weg te wees van alles wat vir jou die lewe gee en weg te wees van God! God weier dat mense verlore gaan en in Sy Seun basuin Hy Sy ongelooflike reddende liefde uit vir die hele wêreld!

Gebed: Ons loof U Here vir u liefde vir ons! Ons bid dat elke mens u liefde sal leer ken en tot oorgawe sal kom.
10. Woensdag 16 Augustus
Psalms 119:105

Die Psalmdigter het ’n ongekende bewondering en waardering vir alles wat uit God se mond kom, hetsy Sy Woord, Sy opdragte, Sy wet, Sy gebod, Sy regverdige beslissings. Hierdie woord is baie spesiaal, want dit is GOD s’n en daarom maak dit lewend. In verbondstaal is dit wanneer die verhouding met God herstel word. Met God werk God se Woord Homself in ons lewe in: sonder God moet ons God se woorde self laat werk. Ons mag nie hierdie fout maak nie.

Daar is egter ’n bepaalde manier waarop die Psalmdigter God se Woord hanteer. Hy pas dit op in sy hart. Hy vergeet dit nie. Hy doen dit, nie net sekere tye nie, maar vir altyd, tot die einde toe! Hy kan dit doen, omdat God self in Sy woorde in die Psalmdigter se lewe werk. Hy is daarom verstandiger as al sy leermeesters: het meer insig as oumense. Hierdie woord laat hom loop waar dit veilig is vir sy voete om te trap, omdat die Woord ’n lamp is. Hy kan alles sien op die paaie waar hy loop en gereed wees, omdat die woord ’n lig is vir hom.

Jesus was nie net God se Woord in lewende lywe nie, Hy het soos niemand nog ooit elke druppel van God se Woord geleef. Hy was gehoorsaam aan daardie Woord soos niemand in die Ou Testament ooit was nie. Met hierdie Jesus wat in ons leef, kan ons meer as die Psalmdigter die krag van God se Woord beleef, dit nakom en soos Jesus daardie wonderlike Woord word. So kan ons ook altyd weet waar om te trap en nooit rigting op ons lewenspaaie verloor nie.

Gebed: Dankie, vir die lig wat u Woord bring en dankie vir Jesus, die vleesgeworde Woord.
11. Donderdag 17 Augustus
Romeine 10:9

Paulus worstel met die vraag waarom sy eie volk dit so moeilik vind om Christus te aanvaar vir wie Hy werklik is! Hy is groter as die keiser van daardie tyd: dit word die wêreld vol geproklameeer: Jesus is die HERE! Niemand het meer gesag in alle dinge, as Jesus nie! En ’n tweede magtige waarheid is dat God Hom uit die dood opgewek het. Met Jesus het die nuwe skepping begin; die dood kan onmoontlik daar inkom. Die dood is verslaan! En ons gewone mense kry deel aan daardie nuwe skepping, nou al, in Jesus. Waarom sukkel God se volk dan so?

Paulus wil dit duidelik stel dat dit fataal is om deur wat jyself doen, êrens by God uit te kom. NEE! Dis nie ingewikkeld nie. In Jesus het God naby gekom. Jesus hoef nie êrens gehaal te word nie. Dis woorde oor Jesus wat doodeenvoudig geglo moet word. Jy word nie gevra om iets te doen nie, jy word gevra om agter God aan iets as die waarheid te aanvaar.

Hierdie twee waarhede oor Jesus, dat Hy Here is en LEEF, moet egter in die openbaar uit jou mond uit kom en verteenwoordigend wees van wat in jou hart aangaan. As dit so is, is daar geen twyfel oor enigiemand wat dit bely en glo se redding nie. Die opgestane Jesus as Here misluk nooit!

Gebed: Laat hierdie lig in my hart skyn, o Here en ek wil ook vandag bid vir iemand wat tot hierdie belydenis moet kom.
12. Vrydag 18 Augustus
1 Petrus 5:7

Petrus vermeld vier dinge oor God:
1. God opponeer arrogante, hoogmoedige mense.
2. God gee genade aan nederige mense.
3. God het ’n kragtige hand.
4. God sorg vir hulle.

Dit is van waaruit ons praktiese lewe uitgewerk word. Petrus dink as volg: nederigheid is baie belangrik vir hoe gelowiges met mekaar saamlewe. Nederigheid is om jou plek te ken te midde van baie ander wat vir God ewe belangrik is. Jy leef in gelyke belangrikheid. Dis die mense vir wie God genade gee. En niemand kan sonder hierdie genade, wat ons slegte kant afhandel en ons herbore kant bemagtig, leef nie. Hulle moet dus toelaat dat God onder Sy kragtige hand hulle nederig maak! So is hulle in ’n posisie om Sy genade in oorvloed te ontvang.

Maar wat dan as bekommernis hulle fokus op ’n ander plek hou! God is nie net sterk genoeg om vir hulle nederig te maak nie, maar ook om hulle bekommernis op Hom te neem. Hulle hou niks van hulle bekommernis oor nie, dis by God. Hulle laat nie toe dat hulle gedagtes op hulle bekommernis fokus nie, want dit is nie meer húlle bekommernis nie. Hulle kan fokus op God se vermoë om hulle te vorm, vir hulle te sorg en sodoende kan hulle bruikbare instrumente in God se hand wees! God gee werklik om, dit is hulle daaglikse ervaring.

Gebed: Here, ek wil nou dadelik so maak: my bekommernisse vir U gee...
13. Saterdag 19 Augustus
Spreuke 3:5

Dis ’n kuns om wys te wees. Dis om op ’n spesifieke manier, met inagneming van die omstandighede, “slim” te wees in situasies. Dis o.a. om die regte ding op die regte tyd in die regte gesindheid te sê. Dis voorwaar ’n kuns!

Salomo het sy wysheidspreuke by God as ’n geskenk gekry. Daarom is dit logies dat hy baie oor God sal praat en spesifiek oor God as JAHWEH, die Verbonds-god. Dis die God wat Homself aan jou verbind het, selfs so ver gegaan het om by Homself te sweer, Hy los jou nie. Dis die God wat met alles wat Hy is en het, jou God is! Hy moedig ons aan om in hierdie God te glo. ”Glo” is wat ’n kind doen. Dis om al jou gewig op God te sit. Dis om toe te laat dat Hy jou vashou, al verstaan jy nie alles nie. Hoekom? Sy rekord van bekwaamheid en liefde is net te goed.

Hierdie vertroue in God kom uit jou hele hart. Daar is nie deeltjies in jou hart wat anders wil doen nie. Net soos God Homself geheel aan ons gegee het, so doen ons dieselfde. Daar moet soveel oorgawe in hierdie vertroue wees, dat volgens Salomo, jy nie op jou eie insigte vertrou nie. Hulle kom tweede. God se insigte geniet navolging.

Iemand groter as Salomo kom toe na ons toe, Jesus! Hy het hierdie vers geleef. Hy kon niks uit Sy eie doen nie. Hy het geleef vir Sy Vader se wil. Met Jesus in ons, is dit gewaarborg dat ons volkome op die Verbondsgod sal vertrou en alles in ons, kom tweede!

Gebed: Soms wonder ek wat presies my eie insigte is Here, maar vandag kom ek met alles na U toe!
14. Sondag 20 Augustus
Psalms 121:1

Ons ontmoet mekaar in die erediens.
15. Maandag 21 Augustus
Psalms 18:34-37

Die verhale en die geskiedenis van die kerk en gelowiges leer dat God be-troubaar is en dat Hy sorg. Dawid praat van ’n klomp seëninge en voorregte en beproewinge wat na sy kant toe gekom het en deur alles was God ’n lig, ’n skuilplek en is hy voorsien van krag vir elke dag.

As skaapwagter gebruik hy nou ’n beeld uit die natuur. Hy het seker meermale gesien hoe die die ratse ribbok teen die hange uithardloop en op ’n veilige afstand gaan staan op ’n hoë rots om sy omgewing te bekyk. Ook die skaapwagter moes teen sulke hange agter sy skape aanstap – versigtig en veilig om nie te val of sy enkels te verswik nie.

Nou voel hy en bely hy dat God só vir hom voorsien en versorg het. Ook sy en ons pad is nie altyd gelyk nie. Ook ons moet die bulte van die lewe uit – ook ons pad is baie keer glibberig en gevaarlik – die kanse vir val en verswik is groot. Die kanse dat ons geloofsvertroue kan breek is groot, maar God is daar. Met Hom is my voete soos dié van ribbok en sorg God dat Hy as die Rots van die eeue stewig onder my inskuif en ek met flinke tred my geloof-spad kan loop.

Kom ons dank God vir die rots wat Hy vir ons is.
Kom ons bid vir mense wat se geloofsenkels verswik het en nou swaarkry op die geloofspad.
Kom ons vra om Sy beskerming.
16. Dinsdag 22 Augustus
Johannes 1:12-18

Dit gaan om God se intree in die wêreld – dit gaan om die GROOT LIG wat die sonde-duister moes kom opklaar en mense uitlei na die Wonderbare Lig en dan in die glans van die Lig te gaan leef. In die ou bedeling het God baie kere gepraat deur die profete of sy gesante. Nou egter, is dit God se laaste Woord – Sy groot Woord – Sy Seun kom en meer as Jesus kan nie gesê word van God se liefde nie – Hy is die somtotaal van Sy liefde.

Hy kom na Sy eie mense, maar die raaiselagtige is: almal het Hom nie aangeneem nie! – nie ontvang nie! – nie ’n plek gegee nie! – nie oopgemaak nie! Maar wat nou langs die natuurlike weg onmoontlik was om kind van God te word deur geboorte of afstammeling, word moontlik deur die geloof wat God se geskenk omarm en nou het ons die volste reg om kinders van God genoem te word.

Jesus het kom woning maak onder ons op soek na ’n blyplek in my hart! En God bedoel dit weldadig – met oorvloed genade op genade om sondaars kinders van God te maak! Hulle word geroep om Hom uit liefde en dankbaar-heid te dien! God wil hê dat nie net “Sy eie mense” nie maar alle mense die Genade moet beleef. Hy soek ’n blyplekkie, sal jy oopmaak?

Kom ons dank God vir Sy onuitspreeklike liefde en genade.
Kom ons maak vir Hom oop.
Kom ons bid vir die verspreiding van die Goeie Nuus.
17. Woensdag 23 Augustus
Psalms 119:9-12

Dis ’n baie gewigtige en ernstige vraag wat hier gevra word – ’n vraag aan jongmense, want ’n lang skof of pad lê nog voor. Dis natuurlik ook ’n gepaste vraag aan alle mense. Hoe kan ek beter doen? Hoe kan ek my lewe skoon hou? Reg hou? Op koers hou? Sinvol maak? So leef dat ek God se “Mooi so!” kan hoor? Die vraag is natuurlik relevant, want jongmense en alle mense leef nie in glaskastele nie – ons leef en speel en werk hier in die regte lewe. Hier bereik baie stemme ons ore en kruis baie paaie ons pad en ons moet keuses maak en besluite neem. Ons het ’n betroubare kompas nodig en ’n goeie waterpas om te help met ons “bouery” aan ons lewe en toekoms.

Nou hoe moet ons dit doen? Die digter maak twee belangrike opmerkings: Aanvaar die Bybel as riglyn, maatstaf, kompas vir jou lewe en gedrag * besluit om gehoorsaam daarvolgens te lewe!

Nou besef hy, soos almal, dit is nie só maklik nie en nou? Hy bid vir gehoor-saamheid wat uit die hart uitkom. * Hy vra om nie op afdraaipaaie te loop nie. * Hy vra dat God hom op koers sal hou – ‘n lewe wat God behaag. * Hy vra dat God hom sal leer en hom eerbaar hou. * Hy bid om nie God se beloft-es te vergeet nie. *Hy wil dankbaar leef.

Kom ons dank God vir Sy Woord
Kom ons bid dat God ons ’n liefde sal gee vir die Bybel
Kom ons bid vir ons jongmense wat in moeilike tye en omstandighede moet leef en ’n toekoms bou.
Kom ons bid vir ouers wat hulle kinders moet leer, onderrig en voor lewe.
18. Donderdag 24 Augustus
Efesiërs 6:1

Oor die saak van gehoorsaam aan ouers kan ons lank en ingewikkeld re-deneer. Moet ek te alle tye en onder alle omstandighede gehoorsaam wees? Sê nou hulle is onredelik? Sê nou hulle verwag verkeerde dinge van my?

In hoofstuk 5:21 word van ’n man en ’n vrou gevra om uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig te wees. Hier word nou gepraat met kinders as ge-lowiges. Kinders, wat nou in ’n nuwe verhouding en gemeenskap met God leef, van hulle word gevra om aan hulle ouers gehoorsaam te wees. Hoekom? Die antwoord is eenvoudig: Dis wat God vra van Sy kinders! Gehoorsaamheid is ’n natuurlike behoefte in enige samelewing, bv. ons werk, verkeersreëls, die dokter se voorskrif, ens. Geen samelewing kan funksioneer sonder gehoorsa-me mense nie. Baie meer moet die gelowige wat reeds aan Sy Hemelse Vader gehoorsaam is, ook aan sy ouers, as God se geskenk, gehoorsaam wees. Die kind gehoorsaam op grond van sy verhouding met Christus en sy liefde en eerbied vir sy ouers. Omdat ek dan leef uit die verhouding en die riglyne van Sy Woord, sal ek kan onderskei en weet wanneer gehoorsaamheid van my te veel vra. Die gehoorsaamheid staan ook op ’n ander been, naamlik eerbied en respek vir pa en ma.

Kom ons bid vir ons gesinne – ouers en kinders.
Kom ons bid vir meer liefde , eerbied en respek in ons huise vir mekaar.
Kom ons bid vir ’n kinderlike gehoorsaamheid aan God se Woord.
19. Vrydag 25 Augustus
1 Korintiërs 10:13

Ons, as mense en ook kinders van die Here, leef in hierdie wêreld - die chris-ten en nie christen is in dieselfde bootjie. Vir baie gelowiges is die terugslae en teenspoed van die lewe te veel en dan word God vir jou ’n groot vraagteken. Ons word ook siek – ons beleef ook werkkrisisse of finansiële probleme – ons kinders stel ons ook teleur – ons bid en ons gebede word nie verhoor nie – ons dierbares sterf ook. Ons godsdiens of geloof is geen polis teen enige vorm van beproewing of teleurstelling nie. Dis die realiteit van die lewe en die Bybel onderstreep dit. Nou kom Paulus en open vir ons vensters waardeur vir ons lig opgaan. Hy noem ’n paar ankerwaarhede.

God is en bly getrou. Mense kan ontrou raak, stelsels kan ons in die steek laat, MAAR GOD IS GETROU!. Op Hom kan jy reken. Die Psalmdigter van Ps. 37:21 sê: “Ek was jonk en het oud geword, maar nooit het ek ’n regver-dige gesien wat deur God verlaat is nie”.

God is in beheer! Hy is in beheer van alles, ook van Sy kinders se lewens. Dis nie mense of omstandighede of selfs die noodlot wat in beheer is nie, maar God, my Vader, wat selfs die hare van my hoof getel het.

God sal voorsien. Hy gee die uitkoms. Hy laat alles ten goede gebeur. Wanneer die angs of nood of beproewing te groot lyk, gee Hy uitkoms, stel Hy perke, sodat ek kan voortgaan.

God gee geloofstamina. Die uitkoms wat Hy gee, gee die geloofskrag om beproewings of teenspoede te hanteer. Wat ook al my lewensomstan-dighede mag wees en kan wees: God is getrou!

Kom ons bid vir mense of jouself dat:
God geloofskrag sal gee.
God emosionele krag sal gee.
God geestes krag sal gee.
Mense se oë sal oopgaan vir Hom, die getroue en betroubare Vader.
20. Saterdag 26 Augustus
Deuteronomium 31:8

Die volk Israel het ’n lang pad gekom onder Moses se leiding en hulle moet nou die beloofde land ingaan. Moses is ’n ou man en God sê dat hy nie die voorreg sal hê om hulle die beloofde land in te lei nie. Hy moet ’n opvolger aanwys – hy moet die aflos-stokkie aangee en God beveel hom om Josua aan te wys as die nuwe leier. Van Josua lees ons dat die Gees van God op hom was en sy naam beteken : God is my hulp! Moses roep die volk bymekaar en gee oor aan Josua. Nou hoor ons hoe hy aan Josua opdrag gee en verduidelik dat hy die volk in die beloofde land moet inlei. Merkwaardig is dit wat hy vir Josua sê:

Hy herinner hom eers hoe God voorsien het en die oorwinning gegee het oor volke.
Hy verseker hom dat God sal saamgaan - dat die stryd eintlik God se stryd is vir Sy mense.
Hy verseker hom dat God die vyande sal verslaan en dié pad oop sal maak.
Hy vestig sy aandag daarop dat God eintlik vooruitgaan.
Hy herinner hom daaraan dat God hom en die volk nie in die steek sal laat nie.

Daarop sê hy: Wees sterk, moenie bang wees nie, moenie skrik nie. Vir die kind van God wat in Sy beskerming leef en gehoorsaam is, is geen saak, opdrag, toekoms of probleem te groot nie, want God gaan saam!

Die wete van Sy nabyheid, teenwoordigheid en trou maak dat ons nie moet bang wees nie – nie moet skrik nie. Die Psalmdigter het gesê : Met my God loop ek ’n bende storm en spring ek oor ’n muur. In alle omstandighede en te alle tye bly die vraag: Wie is God vir my? Wat is my verhouding met Hom? Die pad waarop ek nou is, is God by my?

Kom ons bid vir ’n intiemer belewenis van God.
Kom ons bid dat God aan ons leiers sal gee wat Hom erken, gehoorsaam en dien.
Kom ons vra God om die bang en kommer van ons weg te neem.
Kom ons bid vir geloofsmoed.
21. Sondag 27 Augustus (Nagmaal)
Psalms 91:1-2

Ons ontmoet mekaar in die erediens.
22. Maandag 28 Augustus
Psalm 8:4-5 - Nietig, maar spesiaal

Ons ken die ervaring waarvan Psalm 8 vertel.

Dit is om in die nag op te kyk na die sterre wat soos juwele oor ons skitter en te besef hoe groot en oneindig ons heelal is. En hoe klein en nietig die mens daarteenoor vertoon.

Hoewel dit altyd boeiend is om hieroor te peins en te gesels, kan hierdie kosmiese besef, soos die teoloog Antonie van Ruler dit noem, ʼn mens soms totaal oorweldig. Selfs moedeloos stem en laat wonder oor die sin van ons klein en nietige bestaan op aarde.

Tog, voer Van Ruler aan, golf daar in hierdie psalm ook ʼn onstuimige vreugde. Want, terwyl die digter van sy nietigheid bewus is, weet hy ook die mens is spesiaal. Ja, die mens, so het hy ontdek, het ʼn bepaalde skoonheid en waardigheid wat uniek en besonders is.

Hierdie eiesoortige status van die mens, so getuig Psalm 8, hang saam met die geloof dat die mens die maaksel van die groot en genadige God is. Die God wat gedurig aan die mens dink, wat die mens elke dag met aansien en eer kroon. Die God wat mense roep om iets van God se heerlikheid in hulle alledaagse lewe te weerspieël.

Sal jy dit onthou wanneer jy vandag weer voor die spieël staan? Hoewel jy klein en nietig is, selfs broos en skeef, is jy baie spesiaal en kosbaar.

Saam met die psalmdigter roep ons vandag met verwondering uit: “Wie is ons tog, Here, dat U aan ons dink?”

Here, hoe wonderlik, hoe wonderlik, voorwaar. Ja U is, ja U is wonderlik voorwaar! Amen.
23. Dinsdag 29 Augustus
Markus 11:24 - Wat glo ons?

Wat ‘n interessante gedeelte is die nie! Ons lees baie maal verby hierdie gedeelte terwyl ons net die enkele vers uithaal om onsself herinner om te glo in dit wat ons vra in gebed, maar is dit so eenvoudig?

Vroeër in die gedeelte vervloek Jesus die vyeboom omdat dit nie vrugte gedra het nie. Eienaardig, want dit was nie vye seisoen nie, die tyd was nie reg vir die boom om te dra nie, en nogtans vervloek Jesus die vyeboom. Die volgende more vroeg toe hulle weer verby die vyeboom gaan sien hulle hoe die vyeboom tot in wortel verdroog het.

Ons weet nie hoekom Jesus die vyeboom vervloek het nie, dit was immers nie vye tyd nie, maar ons sien die krag wat Hy kon uitoefen. Jesus koppel die gebeurtenis aan geloof en gebed vir die dissipels. Dit wat ons glo, dit ontvang ons.

Dit kan gevaarlik wees, soos in die vyeboom se situasie. As ons glo dat ons nie vrugte het om te dra nie, sal ons waarskynlik nooit vrugte dra nie. Maar as ons glo ons kan ‘n verskil in die lewe maak, dan sal ons waarskynlik dit regkry om ‘n verskil in die lewe te maak.

Daarom sê Jesus in alle erns vir ons: “Dit wat julle glo julle alreeds het, dit sal so wees.” Daarom dan die vraag, wat glo jy het jy reeds? Wat vra jy in gebed? Hoekom vra jy dit? Wat glo jy? Moet jy dalk anders begin glo oor hoe dinge behoort te wees?

Here, dankie dat U ons belowe dat ons dit sal ontvang wat ons glo. Help ons om U hand in dit wat ons ontvang raak te sien. Amen.
24. Woensdag 30 Augustus
Psalm 73:23-28 - Waar God ons hand vat

Dat ons in ons eensame oomblikke kan weet God is altyd by ons, beteken nie ons moet passief leef nie.

Ek ontmoet ʼn vrou wat die pyn van eensaamheid ken.

Die lewe het in vele opsigte vir haar verkeerd geloop, veral ná ʼn hartseer egskeiding. Dit het haar na ʼn aftreeoord gedryf, asook na die rand van afsondering, sinisme en eensaamheid. Tog veg sy teen die eensaamheid; sy laat nie toe dat dit haar oorweldig of verlam nie.

Uit ons gesprek leer ek toe opnuut hoe ʼn mens jou konkreet teen die eensaamheid kan verset. Want hierdie vrou het, eerstens, haar kamer as ʼn hawe van rus ingerig. Hier luister sy musiek (Beethoven se Sesde Simfonie het juis opgeklink toe ek instap), kyk sy na haar mooi skilderye, geniet sy haar DVD’s en onthaal sy af en toe vriendinne.

En wanneer haar kamer te benouend raak, beweeg sy uit. Minstens een maal per week besoek sy ʼn koffiewinkel. Weliswaar doen sy dit alleen, maar tog bely sy: “Om so tussen mense te kom gee my altyd ʼn gevoel van geborgenheid en blydskap. Boonop ken die personeel my – dit help ook.”

Vir dié vrou is hierdie uitstappies die plek waar God haar aan die hand vat.

Here, dankie dat U in ons dae van eensaamheid en sinisme ons hand kom vat. Help ons om ook ander se hande te vat. Amen.
25. Donderdag 31 Augustus
Efesiërs 4:22-24 - Wanneer die wêreld ‘n slagveld word

ʼn Mens moet altyd mooi nadink oor presies wat dit is wat jou lewe party dae so omkrap en deurmekaar laat voel.

Dit wat maak dat jy op ʼn bepaalde oggend met die spreekwoordelike verkeerde voet uit die bed opstaan. En dan, byna soos ʼn driftige krygsman, die lewe en ander mense met ongeduld en selfs woede bestorm.

Ons ken dit: dié dae dat alles en almal jou irriteer en jy die hele dag net wil baklei.

Natuurlik is daar altyd situasies en mense wat jou geduld toets en jou irritasievlakke opstoot. Tog leer ervaring ons dat die oorsake hiervan dikwels elders lê; dat dit meesal saamhang met ons onverwerkte probleme en konflik – persoonlike wroegings wat ons onbewustelik op ander projekteer. Sodat die wêreld inderdaad soos ʼn slagveld begin voel.

Tereg herinner die kerkvader Ambrosius ons dat vrede altyd in onsself begin. Trouens, sy herhaaldelike oproep aan die gelowiges van sy leeftyd is dat hulle aktief hieraan sal werk. Want dit is alleen wanneer ons tot rus en vrede in onsself kom dat ons ander met vrede kan bedien.

En dat die wêreld oornag ʼn vriendeliker gesig kry.

Here, vernuwe vandag ons gedagtes en gees sodat ons dié vrede kan ervaar wat die wêreld sal verander. Amen.
26. Vrydag 1 September
Filippense 4:19 - God voorsien ryklik

Egon Schiele word as een van die toonaangewende kunstenaars van Oostenryk beskou. Sy skilderye – deel van die sogenaamde ekspressionistiese tradisie – versier vandag die mure van Wene se bekenste kunslokale en kastele.

Maar sy roem en bekendheid het nie oornag of maklik gekom nie.

Die jong Schiele het aanvanklik glad nie op skool gevorder nie. As vyftienjarige het hy skool verlaat om, danksy die aanmoediging van familie, sy dieper passie, die skilderkuns, te gaan beoefen. Ander kunstenaars het hom onder hulle vlerk geneem en die publiek het algaande sy werk begin waardeer.

En só het hy binne 'n relatief kort tyd as een van Oostenryk se voorste skilders na vore getree.

Maar dit was inderdaad van korte duur. Want drie maande ná sy vrou se dood, het hy op die jong ouderdom van 28 jaar aan Spaanse koors gesterf.

Tog bly sy kreatiewe nalatenskap, in kwaliteit sowel as in getal, merkwaardig. ʼn Mens kan byna nie glo dat hy in sy kort leeftyd soveel kon skep en vermag nie.

Maar dit is wat gebeur wanneer jy jou Godgegewe gawe en passie, ja, jou ware roeping in die lewe ontdek en omhels. Dan kom daar fokus en rigting. Ook ouderdom en tyd maak dan nie meer saak nie.

Dan besef jy dat deur jou roeping uit te leef dat God aan elke behoefte voorsien in lyn met jou roeping. Daar waar die Here jou stuur, sal Hy jou onderhou.

Here, gee dat ek die gawes wat U my gegee het, sal ontdek en met oorgawe sal uitleef. Dankie dat U ryklik aan my voorsien. Amen
27. Saterdag 2 September
Jakobus 1:12 - Staan Standvastig

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly.” Wat interessant is van hierdie vers is dat nie sê: “Gelukkig is die mens wat nie versoeking kom nie.” In die Onse Vader bid ons tog gereeld: “…laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose…”. Interessant, want in die lig van Jakobus 1:12 wil dit eerder vir my wys dat versoeking gaan kom.

Daarom wanneer ons bid: “…laat ons nie in versoeking kom nie…” moet ons verstaan dat ons standvastig moet bly wanneer versoekings oor ons pad kom, want dit gaan. Wat wel van belang is, is of ons gaan toelaat of die versoekings in ons binneste gaan kom lê. Gaan ons toelaat dat allerhande verleiding ons aandag van Jesus aftrek? Of gaan ons volhard in gebed as leefwyse en standvastig staan?

Wanneer ons standvastig staan teenoor versoekings wat oor ons pad kom en nie toelaat dat dit in ons binneste kom lê nie, sal ons as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here aan ons beloof het. ‘n Lewe wat getuig van die Here se liefdevolle nabyheid in alle omstandighede. Wanneer ons versoeking weerstaan ontvang ons die lewe in oorvloed, soos die Here belowe het.

Here, help my om vandag die versoekings wat oor my pad kom te wen, help my om standvastig te bly. Dankie dat U die lewe in oorvloed as oorwinningsprys reeds vir my gereed het. Amen.
28. Sondag 3 September
Psalm 23 - Erediensteks

Ons ontmoet mekaar in die erediens.
29. Maandag 4 September
Psalms 33:18-20

Dis ‘n wonderlike Psalm wat ‘n mens help om die almag en grootheid van die Here God te bedink. Hoe meer jy die Psalm lees en oordink, hoe meer besef jy die andersheid van ons Here. Alles wat ons ken, sien, geniet en ervaar is alles deur die Woord van die Here.

Daarom kan ons nie in die skepping of in enige skepsel ons vertroue stel nie. Die Here is oneindig groter en sterker selfs as die grootste krag en wysheid van die wêreld. Die wyse mens is die een wie se God die Here is. Dis ook die nasie wat Hom dien en vertrou met wie dit goed gaan. Die Here kyk, Hy sien en weet presies waar ons hart is. 2 Kron. 16:9: “Die Here het Sy oë oral op die aarde so-dat Hy die kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” Amp. Bible Ps. 33:18 “Behold the Lord’s eye is upon those who fear Him – who revere and wor-ship Him with awe; who wait for Him and hope in His mercy and loving kind-ness.”

Dink hieroor na: die Here sien my. My lewe is kosbaar in Sy Vader se oë. Hy het alles ter wille van my prysgegee. Sy liefde is grensloos en niks is te veel, te boos of te moeilik om my te help nie.

Gebed:
Here, rig my gedagtes op U almag. Dankie dat ek met alles na U kan kom. Help my om dit by U te laat. Dit wat my moedeloos maak, bang maak, beangs maak: Here U weet alles – ek werp my las en myself voor U voete neer.
30. Dinsdag 5 September
Jakobus 1:2-5

'n Mens se hele lewe word beïnvloed deur dit waarna jy streef. Die marathon-atleet is bly vir baie opdraandes en steil bulte in sy oefenroete. Dit brei sy lig-gaam, elke spier word geoefen, sodat sy strewe om te wen kan waar word. Die student wat die hoogste sport in die professionele lewe wil behaal, sien sy moeilike studies as ‘n middel tot ‘n doel. Hy weet dat as hy sy graad behaal, daar baie goeie geleenthede op hom wag.

Die man van God weet swaarkry en beproewing louter sy geloof en maak hom standvastig. Maar om in die toetsfase bly te wees, is baie moeilik en meesal onmoontlik. Ons vlees hou nie van moeilike tye nie en selfs gelowiges wat nie meer babas in die geloof is nie, sukkel soms.

Gelukkig weet ons as ons ons onvermoë en afhanklikheid ten volle besef, die Here Sy werk in ons kan doen. In die donker tye moet ons tot die Here bid en roep, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Hoe moeilik die beproewing ook is, as ons die toets deurstaan, kan ons seker wees van geestelike groei en geestelike rypheid.

Gebed:
Here leer my dat U in my swaarkrytye my wil help. Seën my met ‘n geloofshart en -oog om U Goddelike teenwoordigheid te ervaar. Dankie dat die moeilike tye my juis nader aan U bring. Here, ek wil die geloofspad volhardend stap; dankie dat U my die krag daartoe gee.
31. Woensdag 6 September
Psalms 139:1-24

Dawid, die Psalmdigter, is oorweldigend bewus van die Here se grootheid en Sy almag. Die Here ken hom en is bekend met elke gedagte en alles wat hy doen. Trouens die Here ken hom van voor sy geboorte en het self kunstig sy liggaam gemaak van die begin af. Sy hele lewe is verweef met die Here en op geen plek op aarde kan jy van Hom ontsnap nie. Dit is goed om te weet dat niks in my lig-gaam en my lewe is toevallig nie. Ek is uniek gevorm om vandag die Here met algehele oorgawe te dien.

Die Psalmdigter erken dat al weet die Here so alles van hom, is Sy gedagtes wonderlik, maar kan ook vertaal word, dat Sy gedagtes moeilik is. Die Here maak wel ons juk sag en ons las lig, maar Hy werp dit nie af nie. Kinders van die Here het dikwels uitsonderlike moeilike uitdagings. Dink maar aan Dawid se lewe toe Saul en sy leërmag hom wou doodmaak.

Die Here se grootheid en almag is aan Dawid goed bekend, maar hy besef hy het ook ‘n wil wat nie noodwendig in harmonie is met die van die Here nie. Trouens hy besef hy kan homself mislei en dink hy is veilig, terwyl hy dalk op ‘n verkeerde pad is.

'n Gelowige moet altyd 'n leerbare gees behou, gebroke en nederig wees en in staat wees om te luister.

Matt. 5:3: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk vandie hemel.” Christus self waarsku ons, dat ons moet seker maak die lig in ons, die oortuiging wat ons volg, is nie duister nie.

Gebed:
Kom ons bid saam met die Psalmdigter Ps. 139:23 en 24
“Deurgrond my, o God, deurgrond my hart ,
ondersoek my, sien tog my onrus raak.
Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie
en lei my op die beproefde pad.”
32. Donderdag 7 September
Klaagliedere 3:22-23

Oor die eeue heen is Klaagliedere 3 ‘n hoofstuk wat Christene in beproewing met kosbare beloftes bemoedig het. In tye van swaarkry en beproewing, gaan lees en leer by die skrywer en ontdek die hart van die Here wat by jou in jou donker situasie is.

Klaagliedere 3:56: “U het gehoor hoe ek smeek.”
3:57: “U het na my toe gekom.”
3:58: “U verdedig my saak.”

Lees dit en oordink dit en bid dit. Ons ken ons tye van swaarkry en benoudheid, die kruis wat ons moet dra. As jy net dit ken en heeldag daaroor dink sal jy alle hoop op ‘n beter lewe verloor. Lewe ek met hoop, of is alles vir my moeite en verdriet? Klaag. 3:21: “Ek sal dit ter harte neem (ek eien dit, ek bedink dit) en om die rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. Daar is geen einde aan Sy ontferming nie.” Dit hou nie op nie, dis onuitputlik, ewigdurend, elke môre nuut; U trou is groot. Kyk weg van jouself en jou om-standighede, weg na Hom in wie jy geanker is.

Elke oggend as ek die dag sien breek, kan ek nuwe krag kry, want dit dui op die Here se getrouheid. Jer. 23: 20: “So sê die Here: As jy die verbond wat Ek met die dag en die nag gesluit het, kan verbreek, sodat die dag en die nag nie meer op die regte tyd kom nie, sal die verbond verbreek word wat Ek met My dienaar Dawid gesluit het." Die Here het steeds ‘n wonderlike plan met jou lewe, ten spyte van moeilike tye.

Gebed:
Here, ek sink ook soos Petrus as ek die golwe van die lewe sien. Rig my hart en oog op U wat in die lewensstorms ware uitkoms gee. Help my as verbond-skind om my vertroue elke oggend in U te bevestig.
33. Vrydag 8 September
Josua 1:5-9

Naas die uittog uit Egipte is die intog 40 jaar later een van die grootste opdragte wat ou Israel ontvang het. Josua is hulle nuwe leier. Hy is direk in diens van God, maar ook in diens van Israel om hulle in te lei om die beloofde land in besit te neem. Die land was egter nie onbewoon en leeg nie. Die inwoners was groot, sterk en vyandiggesind teenoor die Israeliete en hulle God.

Dit was 'n geweldige opdrag en 'n geloofsdaad. Die Here belowe Josua, niemand sal bestand wees teen hom nie. Soos die Here Moses ondersteun het, so sal Hy ook Josua bystaan. Jos. 1:9: "Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan." Die teenwoodigheid van die Here in ons lewens moet altyd ‘n groter krag en werklikheid wees as ons vyande wat ons geestelike lewe bedreig.

Die opdrag aan Josua toon duidelik watter karaktereienskappe vir die Here bel-angrik is. Wees sterk , wees vasberade in die uitvoering van die wet. Moenie afwyk van wat die Here beveel nie. Oordink die wet dag en nag en voer die bevele sorgvuldig uit. Kinders van die Here se uitstaande kenmerk moet hulle liefde vir die Woord van die Here wees. Maak elke dag tyd om dit te lees, maar meer nog om dit te oordink.

Gebed:
Here, U beveel ook my om die land waar U alles in almal is in besit te neem. Dankie dat Uself my daartoe inspireer. Mag ek so met U Woord omgaan, dat dit die Woord uit U mond is wat nie onverrigter sake na U terugkeer nie, maar dit sal doen wat U gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor U dit gestuur het. (Jes. 55:11)
34. Saterdag 9 September
Eksodus 20:1-17

Wat ‘n ontsagwekkende hoofstuk! Dit het ‘n kort aanhef, dan die tien gebooie en ‘n uitgebreide slot. Eersgenoemde twee is ons mee bekend, die slot minder bekend.

Die tien gebooie is nie vir alle mense bedoel nie, maar God is aan die woord met ‘n duidelike opdrag aan almal wat Hy uit Egipte, plek van slawerny, bevry het. Verlossing en bekering is nie mensewerk nie, maar altyd ’n ingrype van Bo. Fil. 2: 12-13: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verlo-ste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.

Israel ontvang die tien gebooie via Moses op twee kliptafels . Die gebooie as sulks gee nie lewe nie, daarom kom die Here self met Israel praat. Elke keer as die Here Hom openbaar, is die gelowiges oorweldig deur Sy grootheid en heiligheid: Moses by die brandende bos, Jesaja se roeping (Jes. 6:5), Paulus se bekering, die openbaring van Jesus aan Johannes by Patmos (Op. 1:17) en vele meer.

In Eks. 20 is die hele gemeente oorweldig en beangs deur God se openbaring. Hulle het van angs gebewe en op ‘n afstand bly staan. Dit is nooit God se plan om Hom so te openbaar dat ons van Hom af wegvlug nie. Sy doel is dat ge-lowiges Hom moet eerbiedig en vrees en nie sondig nie. Dit is ook waar van Nuwe Testamentiese gelowiges. Christus vergewe die vrou wat owerspel pleeg en sê: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan en sondig nie meer nie.”

Gebed:
Dankie, Here, dat U van die begin af meer van U kinders verlang as om net wet-te te gehoorsaam. Dankie dat die Heilige Gees nou in my woon om my in die waarheid te lei. Leer my om U lief te hê en te gehoorsaam.
35. Sondag 10 September
Filippense 4:13

Ons ontmoet mekaar in die erediens.
36. Maandag 11 September
Psalms 37:3-5

Vandag, die 11 de September, staan in Amerika se geskiedenis ingekerf as die datum waarop godsdienstige fanatici met groot vliegtuie in die Twin Towers vasgevlieg het. Regoor die wêreld het gewone mense in afgryse aanskou hoe hierdie bakens van Westerse beskawing in duie stort en hoe vreesbevange mense uit die geboue na hulle dood gespring het!

As mense word ons aan verskriklike dinge op hierdie aarde blootgestel! Ons kan ons verskriklik onstel oor wat ander mense doen, want mense doen angswekkende goed. Ons kan ook nie uit hierdie wêreld ontvlug nie!

Maar Psalm 37 roep ons op om ons aandag te verskuif.
Vertrou liewer op die Here
Doen wat goed is
Woon en werk rustig voort
Vind jou vreugde in die Here
Hy sal jou gee wat jou hart begeer, want HY sal sorg!

Wil jy nie vanoggend net jou gedagtes laat gaan oor elkeen van hierdie punte hierbo nie? Dink oor wat dit vir jou op die oomblik beteken om op die Here te vertrou, wat jy vandag moet doen om “goed” te doen – selfs al beteken dit vir jou gewoon om jou werk eerlik en ordentlik te doen. Woon en werk rustig voort...

Vind jou vreugde in die Here, oordink Sy wonderlike grootheid en genade, sy handewerk in die natuur en sy liefdes-openbaring in Jesus Christus. Hiervoor moet jy dalk bietjie buite rondbeweeg en sommer net `n bietjie gaan staar na `n blom. Jy sal ook deur die Bybel kan blaai. Die Here openbaar Homself soms deur interessante mense...

Mag die Here jou gedagtes vul met Sy goedheid en mag jy vind: jou hartsbegeerte is te midde van baie kwellinge, vervul met God se vrede!

GEBED: Here, ek laat ook vandag my lewe aan U oor.
37. Dinsdag 12 September
Jesaja 43:1-4

In uiters onredderde situasies soos waarin die volk Israel hulle bevind het, waar die mistige skemerte van wanhoop op jou toesak en die toekoms uitsigloos raak, is daar in die geloofslewe `n diepe gemoedsrus. Jes. 43 tref die angstige mens so diep, omdat die grote God op so `n naby-manier met jou praat. Jy is nie die verworpe vreemdeling wat net `n speelbal geraak het in ander mense se hande nie.

Jy is :
iemand deur die Here geskep;
iemand deur die Here gevorm;
iemand wie se naam die Here goed ken!

Hoe wonderlik is hierdie gedagtes nie vir iemand wat in uiters ontredderde situasies beland nie – daar is Iemand wat my deur en deur ken, beter as wat ek myself ken en dit is die Een wat alles in sy hand het!

Kan jy vandag jou eerste dae op skool onthou? Miskien was dit vir jou net een groot vreugde, maar vir baie mense was dit ‘n angstige ervaring – vir sommige eintlik `n nagmerrie. Om vir die eerste keer weg te gaan uit die veilige en bekende ruimte van jou ouerhuis, was en is maar vir meeste mense iets ontstellend! Maar daar was altyd iets wat gehelp het in sulke omstandighede - iemand bekend!! Hoe wonderlik was dit nie om tussen `n paar maatjies te wees, of selfs groter kinders wat jou geken het en dan te hoor hoe hulle op die speelgronde jou naam roep nie! En as die onderwyser eers jou naam ken en jou op jou naam begin noem het!

Die ontbering waaraan jy vandag blootgestel is, kan baie erg wees. Dalk voel jy soos net `n nommer. Weet dan : die Here ken jou op jou voornaam!

GEBED : Dankie Here, ek is by U bekend en dat U dit aan my bekend gemaak het! Dankie dat U by my is – ook binne vandag se vrese.
38. Woensdag 13 September
Psalms 46:1-12

Psalm 46 moet in die Ceres omgewing eintlik op 29 September gelees word, want dit was die nag toe die vaste aarde met die 1969-aardbewing onder Ceres beweeg het!

“God is vir ons `n toevlug en beskerming...al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al skud die berge deur sy ontstuimigheid.” Die psalmdigter verklaar : dan is ons nie bang nie omdat die Here die Almagtige by ons is!

Dan is ons nie bang nie!

Emosionele reaksie op iets so verskrikliks wat op jou lewenspad, kom eintlik spontaan. Dit is selfs nodig om jou te beweeg, sodat jou lewe gered kan word!

Maar soos dit met die meeste dinge werk, is dit ook hier nie noodwendig die eerste reaksie wat tel nie, maar die tweede en derde. Dis wanneer jy, dit wat die ontsaglike vrees bewerk het, kan verwerk met jou geloof.

Wanneer `n sekerheid so vas soos die aarde, onder jou begin beweeg, iets so veilig soos jou eie huis inmekaar begin tuimel, dan weet die gelowige deur die ontsaglike skrik deur : alleen God is vir my `n toevlug, ja, my enigste ware vaste toevlug. My enigste waarlike troos in hierdie lewe is dat ek nie aan myself verbind is nie, maar met liggaam en siel behoort aan my getroue Verlosser, Jesus Christus (H.K Ant 1)

“Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.”
Wanneer jy só tot bedaring gekom het, kan jy binne die onsteltenis, sinvol beweeg, sinvol dink en planne beraam om die krisis die hoof te bied. Mag die Here, ons enigste ware vaste punt in hierdie lewe, ook vandag vir jou so gebruik.

GEBED : Here dankie dat U ons deur aardskuddende ervarings heen gelei het tot vandag en dat ons kan weet U sal ons ook vorentoe beskut.
39. Donderdag 14 September
Spreuke 4:10-14

Het jy al `n baie hoë konsentraat sap gekoop waaruit jy vir baie lank `n gesonde drankie kan aanmaak deur slegs water by te voeg?

Om `n goeie opvoeding te kon kry, is soos om `n konsentraat van lewenservaring te ontvang, sodat jy al jou lewensjare daaruit kan put! Die Spreukedigter dra die boodskap op allerlei maniere aan ons oor en ons weet hoe geseënd ons is om ouers, onderwysers en predikante te kan hê, wat almal vanuit die teksboek van die Bybel, die duisende jare se lewenservaring wat daarin opgesluit lê, kon toets in hulle eie lewens, en dit so aan ons kon oordra!

Hoe geseënd is ons nie wanneer ons van kleins af geleer is wat die regte ding is om te doen nie! Dit is inderdaad soos Salomo verklaar “sodat jy werklik kan lewe!” Die wysheid beskerm `n mens en maak van jou iemand van betekenis, omdat jy soos lig en sout raak wat `n verskil maak in die gemeenskap waar jy leef.

By een van ons gesinskampe het ons `n hele aantal tekste uit Spreuke gelees en gesinne moes uit karton vir hulle krone sny waarop allerlei wyshede uit die teksgedeeltes geskrywe was – dit was om uitdrukking te gee aan Spr. 4 : 9 wat verklaar dat die wysheid vir ons `n sierlike kroon sal wees wat ons lewe versier.

Miskien kan jy ook vandag bietjie blaai in Spreuke en tekste lees waarin daar wyshede oorgedra word. Is hierdie woorde ook deel van jou opvoeding, deel van die sierlike kroon wat jy as koningskind van Jesus dra? Hierdie wysheid wil `n mens nie slegs weerhou van die goddelose pad nie, maar wil ons die werklike lewe gee! In Jesus se terme : die lewe in sy oorvloed!

GEBED : Here, ek dink vandag aan hulle deur wie ek bevoorreg was om opgevoed te word en ek dink aan die konsentraat van wysheid waaruit ek nou nog kan lewe. Help my om dit steeds uit te leef en aan te gee.
40. Vrydag 15 September
Spreuke 4:23

Soos gister is ons vandag steeds besig met die saak van opvoeding! En watter goue stukkie raad kom hier nie in hierdie enkele teks na vore nie: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe!”

Wees versigtig met wat in jou hart lewe, wees versigtig wat in jou gedagtes lewe, want dit raak gesindhede, en gesindhede raak woorde en woorde raak dade!

Daar word in hierdie eeu baie geskrywe oor die krag van ons gedagtes en watter enorme invloed dit op ons lewe uitoefen, maar die Woord van God gee dit al eeue aan die mens deur.

As jy jou gedagtes voed met verkeerde dinge, met haat, vergelding, woede, leuens, ongeloof en opstand teen God, wanhoop, gaan jou lewe na alle waarskynlikheid daardie loop neem!

Maar wanneer jy mooi dink oor jou lewe, jou koers afbaken, `n keuse maak vir die positiewe en mooi in die lewe, dan voer jy jou gedagtes met gesonde kos! Dr Pieter van Jaarsveld het `n boek geskrywe “Dink jouself gelukkig”. Dit is maar net een van die baie boeke wat oor die krag van ons binne-wêreld gaan. Elke mens wat hier lees, kan self die keuse maak om binne sy of haar omstandighede anders te dink.

Daarom is die beeld van die sagteware wat in `n rekenaar gevoer word, so prakties wanneer dit by hierdie saak kom! Ook die “apps” wat ons deesdae op ons slimfone kan laai – wanneer jy dit doen, kan die rekenaar of selfoon iets doen wat dit nie voorheen kon doen nie!

Kom ons laai in ons gedagtes die regte dinge af! Sodat ons die regte dinge kan doen!

GEBED : Here, help my om ook my gedagtes te rig op die mooie, veral soos dit uit U Woord kom, en rig my lewe daaruit, sodat dit tot U eer sal wees.
41. Saterdag 16 September
Romeine 12:1-3

Wat is die wesenlike vereiste wat die Bybel aan gelowiges stel? Wat is die wesenlike wat ons moet doen? Die Bybel beantwoord hierdie vraag self uit verskillende sienswyses, maar vandag se teks gee ‘n besonder duidelike antwoord!

Rom. 12 sê ons moet onsself aan God gee as lewende en heilige offer wat vir Hom aanneemlik is.

Maar dan moet ons nie vergeet dat die christelike godsdiens eintlik op `n ander punt begin nie! Ons lees maklik by die eerste woorde van Rom. 12:1 verby en dit is : DIE GROOT ONTFERMING van God! Die aksie wat die Here van ons vra, is in sy mees suiwer vorm, slegs reaksie. Reaksie op God se groot genade en liefde!

Maar wie hom of haar daarin verdiep het en daardeur oorweldig is, kan eintlik nie anders as om te reageer met sy hele lewe nie!

Wat word dan van ons verwag? Ons moet onsself eerstens as lewende offer vir die Here gee! `n Lewende offer LEEF! Jy moet iemand wees wat met al jou gawes meelewe en `n verskil maak in Sy koninkryk. Jy moet tweedens ook heilig wees, bedoelende afgesonder vir Hom, maar ook toegewy met `n skoon en suiwer leer en lewe. Jy moet strewe na die lewe wat Paulus hier verder in Rom. 12 beskrywe!

Geen mens is sommer dadelik `n volwasse christen nie. Daarom moet jy jouself so aan die Here gee, dat Hy jou steeds kan verander deur jou denke te vernuwe (gister se dagtema!) Ja, gister se tema is vandag ook waar – die Here verander mense deur hulle denke te vernuwe! Vul daarom jou gedagtes met woorde soos wat Rom. 12 bied!

GEBED: Here God, kom verander my saam met my landgenote deur ons gedagtes te vernuwe. Help ons Here om die waarhede van Rom. 12 te leef!
42. Sondag 17 September
Habakuk 3:18

Ons ontmoet mekaar in die erediens.