YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 2:9-22

SPREUKE 2:9-22 AFR83

As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry in wat regverdig en reg en billik is en sal jy op die goeie pad bly. Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem, kennis sal vir jou iets aangenaams word, oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak. Dit sal jou weghou van die verkeerde pad af en van mense af wat verkeerde dinge verkondig, van dié af wat die regte paaie verlaat om op donker paaie te loop. Hulle verheug hulle daarin om te doen wat sleg is en juig die wandade van die slegte mens toe; hulle paaie is krom en hulle koers is verkeerd. Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af, die vrou met die verleidelike praatjies, wat haar eie man verlaat en die verbond van haar God vergeet het. Haar huis lei 'n mens na die dood toe, haar spore bring jou by die dooies uit. Mense wat na haar toe gaan, kom nie een terug nie; hulle kom nie weer op die paaie van die lewe nie. Loop jy liewer die pad van die goeie mense, bly op die paaie van die regverdiges, want die opregtes sal die land bly bewoon, dié wat onberispelik leef, sal ongehinderd gelaat word, maar slegte mense sal weggevee word uit die land, bedrieërs sal uitgeroei word.