YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 2

2
1My seun, neem aan wat ek jou sê,
maak wat ek jou voorskryf jou eie,
2hou jou ore oop vir die wysheid,
span jou in om te verstaan.
3Roep insig by,
vra na gesonde begrip.
4Soek dit soos jy silwer sou soek,
spoor dit op soos 'n verborge skat.
5Dan sal jy weet hoe om die Here te dien,
sal jy ontdek wat dit is om God te ken.
6Dit is die Here wat die wysheid gee,
uit sy mond kom die kennis en die insig.
7Hy laat eerlike mense sukses behaal
en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.
8Hy sien toe dat reg geskied,
Hy hou wag oor die pad van sy troue dienaars.
9As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry
in wat regverdig en reg en billik is
en sal jy op die goeie pad bly.
10Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem,
kennis sal vir jou iets aangenaams word,
11oordeelkundigheid sal oor jou wag hou
en verstandigheid sal jou bewaak.
12Dit sal jou weghou van die verkeerde pad af
en van mense af wat verkeerde dinge verkondig,
13van dié af wat die regte paaie verlaat
om op donker paaie te loop.
14Hulle verheug hulle daarin om te doen wat sleg is
en juig die wandade van die slegte mens toe;
15hulle paaie is krom
en hulle koers is verkeerd.
16Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af,
die vrou met die verleidelike praatjies,
17wat haar eie man verlaat
en die verbond van haar God vergeet het.
18Haar huis lei 'n mens na die dood toe,
haar spore bring jou by die dooies uit.
19Mense wat na haar toe gaan, kom nie een terug nie;
hulle kom nie weer op die paaie van die lewe nie.
20Loop jy liewer die pad van die goeie mense,
bly op die paaie van die regverdiges,
21want die opregtes sal die land bly bewoon,
dié wat onberispelik leef, sal ongehinderd gelaat word,
22maar slegte mense sal weggevee word uit die land,
bedrieërs sal uitgeroei word.

Currently Selected:

SPREUKE 2: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy