YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 43

43
Jy is Myne
1Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,
deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
3want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou,
Kus en Seba in jou plek.
4Omdat jy vir My kosbaar is,
omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
5Moenie bang wees nie,
Ek is by jou.
Ek bring jou kinders van die ooste af,
Ek maak hulle bymekaar van die weste af,
6Ek sê vir die noorde: Gee!
vir die suide: Moet hulle nie terughou nie!
Bring my seuns van ver af,
my dogters van die uithoeke van die aarde af,
7elkeen wat na my Naam genoem word,
elkeen wat Ek geskep het tot my eer,
wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.
8Laat my volk hierheen kom,
die volk wat blind is, al het hulle oë,
wat doof is, al het hulle ore.
9Laat al die nasies bymekaarkom.
Al die volke moet teenwoordig wees.
Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig?
Wie kon vooraf sê wat gebeur het?
Laat hulle hulle getuies bring
dat dié hulle saak bewys,
en dié wat luister, kan sê: Dit is waar.
10Israel, julle is my getuies, sê die Here,
en ook my dienaar wat Ek uitverkies het
sodat julle My kan ken en in My kan glo
en kan besef dat Ek die Here is.
Voor My was daar geen god nie,
en na My sal daar ook nie een wees nie,
11Ek, Ek is die Here,
buiten My is daar geen redder nie.
12Ék het die redding aangekondig,
Ék het gered en dit laat verkondig,
Ek, nie 'n ander god onder julle nie.
Julle is my getuies, sê die Here,
en Ek is God.
13Ook hierná is Ek nog God.
Uit my mag kan niemand gered word nie.
Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen
14So sê die Here, julle Verlosser, die Heilige van Israel:
Om julle ontwil stuur Ek iemand teen Babel
en laat Ek al sy inwoners, die Galdeërs, vlug
met dieselfde skepe waarop hulle hulle vroeër beroem het.
15Ek is die Here, julle heilige God,
die Skepper van Israel, julle Koning.
16So sê die Here,
Hy wat 'n pad gemaak het deur die see,
'n deurgang deur die magtige waters,
17Hy wat strydwaens en perde laat optrek het,
'n leër op volle sterkte na sy ondergang toe.
Hulle kon nie weer opstaan nie,
dit was klaar met hulle,
hulle is soos 'n lamppit uitgedoof.
18Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink
en by die verlede stilstaan nie.
19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit staan op die punt om te gebeur,
julle kan dit al sien kom;
Ek maak in die woestyn 'n pad,
Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.
20Die wilde diere sal My vereer,
die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn,
riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk, se dors te les.
21Dit is die volk wat Ek vir My geskep het,
en wat my lof sal verkondig.
Ek het jou nie belas met offers nie
22Maar jy het My nie aangeroep nie, Jakob,
jy het nie moeite gedoen om My te dien nie, Israel.
23Jy het nie vir My kleinvee as brandoffers gebring,
My nie met offers vereer nie;
Ek het jou nie belas met graanoffers nie,
jou nie die moeite aangedoen
om vir My wierookoffers te bring nie.
24Jy het nie geld uitgegee
om vir My wierookoffers te koop nie,
en jy het My nie met die vet van offers verkwik nie.
Inteendeel, jý het Mý belas met jou sondes,
jy het My moeite aangedoen met jou oortredinge.
25En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe.
Ek is getrou aan Myself,
Ek dink nie meer aan jou sondes nie.
26Kla My aan,
laat ons die saak tussen ons uitmaak,
praat jy en bewys jou onskuld.
27Jou eerste voorouer het gesondig
en jou woordvoerders het teen My oortree.
28Daarom het Ek dié in beheer van die tempeldiens
ongeskik vir tempeldiens laat word.
Ek het Jakob iets gemaak wat uitgeroei moet word,
Israel iets wat bespot moet word.

Currently Selected:

JESAJA 43: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy