YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 44

44
Ek sal my seën uitgiet op jou kinders
1Maar luister nou, my dienaar Jakob,
Israel wat Ek uitverkies het:
2So sê die Here wat jou gemaak het,
Hy wat jou gevorm het in die moederskoot
en jou nou nog help:
Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob,
Jesurun wat Ek uitverkies het.
3Ek sal volop water gee op die dorsland,
strome op die droë grond.
Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders,
my seën op jou nakomelinge.
4Hulle sal uitspruit soos gras in die veld,
soos wilgerbome langs waterlope.
5Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here,”
en homself 'n nakomeling van Jakob noem;
die ander sal op sy hand skryf: Die Here S'n
en homself 'n lid van die volk Israel noem.
Buiten My is daar geen God nie
6So sê die Here, die Koning van Israel,
sy Verlosser, die Here die Almagtige:
Ek is die eerste en Ek is die laaste,
buiten My is daar geen God nie.
7Wie soos Ek is, laat hom dit sê,
laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê;
laat hom 'n verklaring gee van wat gebeur het
vandat Ek my volk lank gelede gemaak het
en ook van wat sal gebeur;
laat hy vertel van die dinge wat kom.
8Moenie skrik nie, moenie bang wees nie!
Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig,
dit vir julle gesê nie?
Julle is my getuies: is daar 'n God buiten My?
Daar is geen ander Rots nie;
Ek weet van geeneen nie.
9Dié wat afgodsbeelde maak, is self almal niks;
die dierbare gode van hulle kan nie help nie.
Dié wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie,
kan nie verstaan nie;
dié wat sulke gode het, word teleurgestel.
10Wie maak nou 'n god, giet 'n beeld
wat nie kan help nie!
11Almal wat so 'n god aanhang, word teleurgestel:
dit is gode wat deur mense gemaak is.
Wanneer dié wat hulle aanhang, bymekaarkom vir 'n beslissing,
staan hulle verbyster en verleë.
12Die ystersmid vat 'n stuk gereedskap
en werskaf in die gloeiende kole.
Met hamers vorm hy die beeld,
met sy gespierde arm maak hy die beeld:
die smid eet nie en word swak,
hy drink nie water nie en raak uitgeput.
13Die ambagsman wat hout gebruik, meet met sy maatlyn
en merk die beeld se buitelyne af.
Hy bewerk hom met beitels
en trek sy mate met 'n passer af.
Hy maak hom in die vorm van 'n mens,
'n pragtige mens wat in 'n huis moet woon.
14Die ambagsman kap vir hom seders af,
of hy kies sipresse of eike
en laat hulle groot word in die bos,
of hy plant 'n lourierboom,
en die reën laat dit groot word.
15Dit dien as vuurmaakhout vir die mens;
iemand vat daarvan en maak hom warm,
of hy maak 'n vuur om brood te bak,
of hy maak 'n god en aanbid dit,
hy maak 'n beeld en buig daarvoor.
16'n Deel van die hout verbrand hy:
hy maak kos daarmee gaar,
hy braai vleis en eet tot hy genoeg het;
hy maak hom ook warm en sê: “Dis lekker!
Ek is warm, ek geniet die vuur!”
17Van die hout wat oorbly, maak hy 'n god, 'n beeld,
hy buig voor hom en aanbid hom,
hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!”
18Sulke mense weet nie wat hulle doen nie,
hulle het nie insig nie,
hulle oë is toegepleister, hulle sien nie,
niks dring tot hulle verstand deur nie.
19Hulle kom nie tot besinning nie,
hulle het te min kennis en verstand om te sê:
“'n Gedeelte van die hout het ek verbrand,
ek het op die kole kos gaar gemaak,
ek het vleis gebraai en geëet,
en moet ek nou van wat oor is 'n afskuwelike afgod maak,
moet ek voor 'n stuk hout buig?”
20Iemand wat hom met as besig hou,
laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings.
Hy kan homself nie red nie,
hy vra homself nie af:
“Is dit nie 'n leuen waarmee ek my besig hou nie?”
21Dink hieraan, Jakob,
dink hieraan, Israel, want jy is my dienaar;
Ek het jou gemaak, jy is my dienaar.
Ek sal jou nie verlaat nie, Israel.
22Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis,
hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.
Kom terug na My toe,
want Ek het jou verlos.
23Juig, hemel, oor wat die Here gedoen het,
jubel, dieptes van die aarde,
wees bly en juig, berge en bosse,
want die Here het vir Jakob, vir Israel, verlos,
die Here het sy mag laat blyk.
Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge
24So sê die Here jou Verlosser
wat jou in die moederskoot gevorm het:
Ek is die Here, Ek het alles geskep,
Ek alleen het die hemel oopgespan,
Ek het die aarde gevorm; daar was niemand by nie.
25Ek stel die toekomsvoorspellers aan die kaak,
Ek maak die waarsêers belaglik.
Ek weerlê dié geleerde mense,
Ek ontmasker hulle kennis as dwaasheid.
26Ek bevestig die woorde van my dienaar,
Ek bring wat my boodskappers aangekondig het, tot vervulling.
Ek sê van Jerusalem: Hy moet weer bewoon word,
en van die stede van Juda: Hulle moet weer opgebou word,
en Ek self bou Jerusalem se ruïnes weer op.
27Ek sê vir die diep waters van Babel: Droog op!
Ek sal jou riviere laat opdroog.
28Ek sê vir Kores: Ek het jou as herder aangestel,
jy moet my wil uitvoer,
jy moet van Jerusalem sê:
“Hy moet weer opgebou word
en die tempel moet herstel word.”

Currently Selected:

JESAJA 44: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy