Parallel
8
1Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was, en God het 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het teruggetrek. 2Die fonteine van die groot waters en die vensters van die hemel is toegemaak, en die stortreën uit die hemel het opgehou. 3Die water het al hoe meer weggesak van die aarde af. Na honderd en vyftig dae het die water so gesak 4dat die ark op die sewentiende van die sewende maand op die Araratberge tot rus gekom het. 5Die water het aangehou sak en op die eerste van die tiende maand het die bergtoppe sigbaar geword. 6Veertig dae later het Noag die venster wat hy vir die ark ingesit het, oopgemaak 7en 'n kraai losgelaat, maar dit het heen en weer gevlieg totdat die water op die aarde opgedroog het.
8Noag het toe 'n duif losgelaat om te probeer vasstel of die water al van die aarde af verdwyn het. 9Maar oral op die aarde was daar nog water, en die duif kon nie 'n rusplekkie kry vir die holte van sy voet nie en het na Noag toe in die ark teruggekom. Hy het dit toe met sy hand gevang en in die ark teruggesit. 10Noag het toe nog sewe dae gewag en weer die duif uit die ark uit losgelaat. 11Teen die aand het die duif na hom toe teruggekom, nogal met 'n varsgeplukte olyfblaar in sy bek. Toe het Noag geweet dat die water op die aarde opdroog. 12Hy het nog sewe dae gewag en die duif losgelaat, maar dit het nie weer na hom toe teruggekom nie.
13Op die eerste dag van die eerste maand van die ses honderd en eerste jaar van Noag was die water op die aarde heeltemal weggedroog. Noag het die luik van die ark oopgemaak en uitgekyk. Die hele aarde was droog. 14Op die sewe en twintigste van die tweede maand was die aarde droog, 15en toe sê God vir Noag: 16“Gaan uit die ark uit, jy en jou vrou en jou seuns en hulle vrouens, 17en al die lewende wesens wat by jou is, van watter soort hulle ook al is: voëls, diere en alles wat kruip. Hulle moet saam met jou uitgaan. Hulle moet wemel op die aarde en vrugbaar wees en baie word op die aarde.”
18Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het uitgegaan, 19en ook al die diere, al die voëls en alles wat kruip, het uit die ark uitgegaan, almal volgens hulle soorte.
20Toe het Noag 'n altaar vir die Here gebou en van al die rein vee en die rein voëls gevat en brandoffers op die altaar gebring. 21Die Here het die offer aanvaar en Hy het by Homself gesê: “Ek sal nie weer so 'n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie.
22“So lank as die aarde bly bestaan,
sal saaityd en oestyd nie ophou nie,
ook nie koue en hitte,
somer en winter,
dag en nag nie.”