YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 9

9
God sluit 'n verbond met Noag
1God het vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde. 2Al die diere, al die voëls, al die diere wat kruip, en al die vis sal vir julle bang wees en vir julle skrik. Hulle word tot julle beskikking gestel. 3Alles wat roer en lewe, sal kos wees vir julle. Naas die groen plante gee Ek dit alles vir julle. 4Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in, dit is met sy bloed in nie. 5Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekenskap eis, want dit is julle lewe: van 'n dier sal Ek rekenskap eis oor die lewe van 'n mens, en van 'n mens sal Ek rekenskap eis oor die lewe van sy medemens.
6“Wie die bloed van 'n mens vergiet,
deur 'n mens sal sy bloed vergiet word.
God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger.
7Maar júlle moet vrugbaar wees en baie word.
Vermeerder op die aarde en word baie!”
8Verder het God vir Noag en sy seuns gesê: 9“Kyk, Ek sluit 'n verbond met julle en julle nageslag 10en met al die lewende wesens by julle: die voëls, die mak diere en die wilde diere by julle, naamlik met al die wilde diere wat uit die ark uitgekom het. 11Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer 'n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.”
12Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, 'n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: 13my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, 15sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. 16Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”
17God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”
18Noag se seuns wat uit die ark gekom het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die pa van Kanaän. 19Dit was Noag se drie seuns en uit hulle is die hele aarde bevolk.
Noag plant 'n wingerd
20Noag was 'n boer, die eerste wat 'n wingerd geplant het. 21Hy het wyn gedrink en dronk geword. Toe het hy kaal in sy tent gelê. 22Gam, die pa van Kanaän, het gesien sy pa is kaal en het dit buite vir sy twee broers gaan vertel. 23Sem en Jafet het toe 'n kledingstuk van Noag gevat, dit oor hulle skouers gehou en agteruit geloop en hulle pa toegemaak. Hulle het anderpad gekyk, sodat hulle nie hul pa kaal sou sien nie.
24Toe Noag uit sy roes wakker word en verneem wat Gam, sy jongste, hom aangedoen het, 25sê hy:
“Vervloek is Kanaän!
'n Nikswerd slaaf sal hy wees,
in diens van sy broers.”
26Verder het hy gesê:
“Prys die Here, die God van Sem!
Kanaän moet Sem se slaaf wees.
27Mag God aan Jafet 'n ruim woonplek gee,
mag hy welkom wees in die tente van Sem.
Kanaän moet Jafet se slaaf wees.”
28Na die oorstroming het Noag nog drie honderd en vyftig jaar geleef. 29Noag was dus nege honderd en vyftig jaar toe hy gesterf het.

Currently Selected:

GENESIS 9: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy