YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 4

4
Die take van die Kehatgroep
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2-3“Tel al die Leviete tussen 30 en 50 jaar oud wat deel uitmaak van die Kehatgroep. Dit moet al die families van hierdie groep insluit, almal wat diens kan doen in die tent van aanbidding. 4Hulle moet werk met al die voorwerpe wat spesiaal vir my diens opsy gesit is in die tent van aanbidding.
5“Net voor die kamp opgebreek word, moet Aäron en sy seuns in die tabernakel ingaan en eers die voorste gordyn afhaal. Hulle moet dit dan oor die ark met die kliptafels daarin gooi. 6Bo-oor die gordyn moet hulle ’n seil van gebreide velle gooi. Dan moet hulle alles met ’n groot blou doek toemaak. Daarna moet hulle die pale waarmee die ark gedra word, op die regte plekke insteek.
7“Hulle moet ook ’n blou tafeldoek oor die tafel gooi waarop die offerbrood is wat aan die Here geoffer word. Saam met die offerbrood moet hulle ook die skottels, die bakke met die wierook, die offerbakke en die kanne met die wyn wat geoffer word, daarop neersit.
8“Dan moet hulle ’n bloedrooi doek oorgooi en alles met ’n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die pale insit waarmee dit gedra word.
9“Hulle moet die kandelaar met sy lampe, tange, bakkies en kanne met olyfolie in ’n blou doek toedraai. 10Daarna moet hulle hierdie bondel in ’n gebreide leerdoek toemaak en dit op die draagbaar neersit. 11Dan moet hulle ’n blou doek oor die goue wierookaltaar gooi en dit met ’n gebreide leerdoek toemaak, en die pale waarmee dit gedra word, insit.
12“Die res van die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, moet dan met ’n blou doek toegedraai word. Daarna moet dit met ’n seil van gebreide vel toegedraai en op die draagbaar neergesit word. 13Nadat hulle al die as van die altaar afgevee het, moet hulle ’n pers doek daaroor gooi. 14Dan moet hulle al die gereedskap wat vir die diens by die altaar gebruik word, daarop neersit: die vuurpanne, hake, grawe en bakke. Daarna moet hulle dit met ’n seil van gebreide vel toedraai en die pale waarmee dit gedra word, insit.
15“Wanneer dit tyd is om die kamp te verskuif, moet Aäron en sy seuns eers al die voorwerpe wat gebruik word om die Here te dien behoorlik toemaak. Eers dan kan die Kehatiete dit kom dra na die volgende kamp toe. Hulle mag nie aan hierdie voorwerpe raak nie, anders sal hulle dadelik doodgaan. Dit is die Kehatgroep se taak wanneer die tent waar die Here aanbid word, verskuif moet word.
16“Aäron se seun Eleasar is verantwoordelik vir die olie vir die kandelaar, die wierook, die graanoffer wat daagliks geoffer word en die olie waarmee alles gesalf word. Eintlik is hy verantwoordelik vir die hele tabernakel.”
17Verder het die Here vir Moses gesê: 18“Julle moet seker maak dat die Kehatgroep van die Leviete nie doodgemaak word omdat hulle aan die voorwerpe geraak het wat opsy gesit is vir my diens nie. 19Wanneer hulle kom om hierdie voorwerpe te dra, moet Aäron en sy seuns mooi vir hulle verduidelik wat om te doen sodat hulle nie dalk aan daardie voorwerpe raak nie. 20Onthou, die Kehatiete mag nie eens naby die tabernakel kom terwyl die priesters die voorwerpe gereedmaak nie. Al sou hulle net vir ’n oomblik daarna kyk, sal hulle doodgaan.”
Die take van die Gersongroep
21Die Here het vir Moses gesê: 22-23“Tel nou al die Leviete tussen 30 en 50 jaar oud in die Gersongroep. Dit moet al die families insluit, almal wat diens kan doen in die tent waar Ek aanbid word. 24Hulle werk is om algemene take te verrig en om al die swaar voorwerpe te dra. 25Dit sluit in die gordyne van die tabernakel, asook die tabernakel self met die binneseil en buiteseil van gebreide vel. Hulle moet ook die gordyne by die ingang van die tent waar Ek aanbid word, dra, 26asook die gordyne by die ingang van die voorhof en dié wat rondom die tabernakel en die altaar gespan is. Hulle is ook verantwoordelik vir al die voorwerpe wat vir hierdie doel gebruik word, soos toue en penne. 27Aäron en sy seuns moet seker maak dat die Gersoniete al hierdie pligte nakom. Dit is hulle werk om te besluit wat die groep moet doen. 28Aäron se seun Itamar moet kyk dat hulle hulle werk doen.”
Die take van die Merarigroep
29-30“Tel al die Leviete tussen 30 en 50 jaar oud in die Merarigroep. Dit moet al hulle families insluit, almal wat kan werk in die tent waar Ek aanbid word. 31Hulle pligte is om die volgende voorwerpe te dra: die rame, die dwarslatte, die hoekpale asook die voetstukke van die tabernakel. 32Verder moet hulle ook die hoekpale van die voorhof met hulle voetstukke, en ook al die penne, toue en ander toebehore dra. Maak ’n lys waarin sekere voorwerpe aan spesifieke persone toegeken word. 33Die Merarigroep val onder die toesig van Aäron se seun Itamar.”
Die totaal van al die Leviete
34-48Soos die Here beveel het, het Moses, Aäron en die leiers van die volk die drie Levitiese families, Kehat, Gerson en Merari, getel. Hulle het dit gedoen volgens al die families. Hulle het toe al die mans tussen 30 en 50 jaar oud wat diens kon doen in die tent waar God gedien word, opgeskryf. Die getalle was soos volg: Kehat 2 750, Gerson 2 630 en Merari 3 200. Die groottotaal van al die mans tussen 30 en 50 was 8 580. 49Soos die Here Moses beveel het, is hulle getel. Elke groep het ook ’n eie taak gekry om te doen.

Currently Selected:

Numeri 4: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy