YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 3

3
Die Leviete en hulle werk
1Toe die Here destyds met Moses op die berg Sinai gepraat het, het hy en Aäron reeds hulle eie families gehad. 2Aäron het vier seuns gehad: Nadab, hy was die oudste, Abihu, Eleasar en Itamar. 3Hulle is eers met olie gesalf en toe as priesters in diens van die Here aangestel. 4Maar die Here het vir Nadab en Abihu laat doodgaan omdat hulle sonder sy toestemming vuur na die altaar toe gebring het. Aangesien hulle nie kinders gehad het nie, was dit net Eleasar en Itamar wat saam met hulle pa as priesters opgetree het.
5Toe sê die Here vir Moses: 6“Laat die stam van Levi vir Aäron help. 7Saam met Aäron moet hulle al die dienste in die tabernakel, die spesiale tent van die Here, waarneem. 8Hulle moet al die toebehore in die tabernakel in stand hou. 9Die Leviete se verantwoordelikheid is om vir Aäron en sy seuns te help. 10Die werk van die priesters mag net deur Aäron en sy seuns gedoen word. Iemand anders wat dit sou waag om hiermee te help moet onmiddellik doodgemaak word.”
11Die Here het verder vir Moses gesê: 12-13“Die Leviete behoort aan My. Toe Ek al die oudste kinders van die Egiptenaars doodgemaak het, het Ek elke eersgebore kind in Israel, mense en diere, vir Myself opgeëis. Nou, in plaas daarvan dat Ek al die eersgebore kinders vir My vat, behoort die Leviete van nou af aan My. Dit sê Ek; Ek, die Here!”
Die Leviete word getel
14-16Die Here het weer met Moses gepraat in die Sinaiwoestyn en vir hom die opdrag gegee om al die Leviete te tel. Dit moes die mans van ’n maand en ouer van al die groepe en families insluit. Moses het dit toe gedoen.
17Levi het drie seuns gehad: Gerson, Kehat en Merari. 18Die Gersongroep was Libni en Simi. 19Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. 20Die Merarigroep was Magli en Musi. Dit was Levi se nageslag wie se familiegroepe die name van hulle voorvaders gehad het.
21Gerson se nageslag het uit die familiegroepe van Libni en Simi bestaan. 22Daar was altesaam 7 500 mans in hierdie groep. 23-24Hierdie groep het aan die westekant van die tabernakel kamp opgeslaan onder leiding van Lael se seun Eljasaf. 25Hulle werk was om die tabernakel in stand te hou: die tent met sy dekseile, die gordyn by die ingang van die tent, 26die gordyn by die ingang van die voorhof, die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar was en al die toue, met alles wat dié diens insluit.
27Die Kehatgroep het bestaan uit die familiegroepe van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. 28Daar was altesaam 8 600 mans in hierdie groep. Hulle taak was om die heiligdom waar God gedien word, in stand te hou. 29Die Kehatgroep het suid van die tabernakel kamp opgeslaan. 30Hulle leier was Ussiël se seun Elisafan. 31Hierdie groep se taak was die instandhouding van die ark, die tafel, die kandelaar, die altare, die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, sowel as die voorhangsel, met alles wat dié diens insluit. 32Aäron se seun Eleasar was die leier van die familiehoofde van Levi. Sy werk was om toesig te hou oor almal wat in die Here se heilige plek diens doen.
33Die Merarigroep is saamgestel uit die familiegroepe van Magli en Musi. 34Daar was altesaam 6 200 mans in hierdie groep. 35Die Merarigroep het noord van die tabernakel kamp opgeslaan. Hulle leier was Abigajil se seun Suriël. 36Die Merarigroep se taak was die versorging van die rame, dwarslatte, hoekpale en voetstukke van die tabernakel, en ook van al sy gereedskap, met alles wat dié diens insluit; 37ook van die hoekpale rondom die voorhof, met voetstukke, penne en toue.
38Die gebied oos van die tabernakel is vir Moses en Aäron en sy seuns opsy gesit. Hulle taak was om namens die volk in die tabernakel self diens te doen. Enigiemand anders wat dit selfs naby aan die Here se tent gewaag het, moes daar en dan doodgemaak word. 39Die totaal van al die Leviete van ’n maand en ouer was 22 000. Dit is volgens Moses en Aäron se sensus.
Die Leviete neem die plek in van die eersgeborenes
40Die Here het verder vir Moses gesê: “Tel al die oudste manlike kinders in Israel van ’n maand en ouer. Maak dan ’n lys van hulle name. 41Die Leviete moet die plaasvervangers wees vir die kinders in Israel wat eerste gebore is. Net so moet die Leviete se vee die plaasvervangers wees vir die eerstelinge van die volk se vee. So sê Ek; Ek, die Here!” 42-43Moses het toe al die oudste kinders in Israel getel soos die Here beveel het. Die getal waarop hy uitgekom het, was 22 273.
44Toe sê die Here vir Moses: 45“Vat die Leviete in die plek van die eersgebore kinders van Israel en vat hulle vee in die plek van die eerstelinge van Israel se vee. Die Leviete is my eiendom. So sê Ek; Ek, die Here. 46Aangesien daar 273 meer eersgeborenes in Israel is as wat daar Leviete is, moet hulle losgekoop word uit my diens. 47Dit gaan vyf silwerstukke kos, want dit is die standaardgewig wat in die heiligdom gebruik word. Die loskoopprys is elf gram per silwerstuk vir elke persoon wat losgekoop word. 48Gee dan hierdie geld vir Aäron en sy seuns as ’n losprys vir die ekstra eersgeborenes.”
49Moses het toe die geld ingesamel. 50Vyftien kilogram silwer is ingesamel. 51Soos die Here beveel het, het Moses dit vir Aäron en sy seuns gegee.

Currently Selected:

Numeri 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy