YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 28

28
Daaglikse offers
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete om op die tye wat Ek bepaal het, offers en vuuroffers vir My te bring. Dit sal vir My aanvaarbaar en goed wees.
3“Hierdie is dan die vuuroffers wat hulle vir die Here moet bring: Daar is ’n brandoffer wat elke dag vir die Here gebring moet word. Hierdie offer bestaan uit twee jong rammetjies van ’n jaar oud. Hulle mag nie iewers ’n liggaamsgebrek hê nie. 4Offer een in die oggend en een in die aand. 5Saam met hierdie offer moet daar ook ’n graanoffer gebring word wat bestaan uit een en ’n half kilogram meel wat met ’n liter suiwer olyfolie aangemaak is. 6Dit is die brandoffer wat die Here reeds by die berg Sinai ingestel het en waarvan Hy hou. 7Die drankoffer wat by hierdie offer hoort, is ’n liter wyn wat oor die altaar uitgegooi word. 8Die tweede lam moet in die aand geoffer word met presies dieselfde graan- en drankoffers as dié van die oggend. Dit is ’n vuuroffer waarvan die Here hou.”
Offers op die sabbat
9“Op die sabbat, die sewende dag van die week waarop almal moet rus, moet daar twee jaaroud rammetjies geoffer word. Hulle moet gesond wees en niks makeer nie. Saam met hulle is die graanoffer van drie kilogram meel met olyfolie gemeng en ’n drankoffer wat daarby hoort. 10Hierdie sabbatsoffer is ’n ekstra offer wat op die sabbat gebring moet word saam met die gereelde daaglikse offer.”
Maandelikse offers
11“Op die eerste dag van die maand moet julle vir die Here die volgende brandoffer bring: twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud rammetjies wat niks makeer nie. 12Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, offer, saam met elke ram twee kilogram 13en saam met elke lam een kilogram. Dit is ’n brandoffer wat met vuur verbrand word. Dit is vir die Here ’n offer waarvan Hy hou. 14Die drankoffer wat hierby hoort, is twee liter wyn saam met elke bul, een en ’n half liter saam met die ram en een liter elk vir elke lam. Hierdie brandoffer moet elke maand van die jaar gebring word. 15Bo en behalwe hierdie offer moet die daaglikse brandoffer met die drankoffer wat daarmee saamgaan, steeds gebring word. Op die eerste dag van die maand moet daar ook ’n bokram as ’n offer vir die volk se sondes vir die Here geoffer word.”
Offers by die paasfees
16“Die paasfees, wat op die veertiende van die eerste maand gehou word, is ’n fees wat gehou word om die Here te eer. 17Op die volgende dag begin die fees van die brood wat sonder suurdeeg gemaak word. Die fees hou sewe dae lank aan en vir hierdie sewe dae mag julle net brood sonder suurdeeg eet. 18Op die eerste dag van die fees moet julle vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op dié dag mag niemand werk nie. 19Dan moet julle vir die Here ’n vuuroffer bring. Dit moet ’n brandoffer wees van twee jong bulle, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies wat heeltemal gesond is. 20Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met elke ram twee kilogram hiervan 21en saam met elke lam een kilogram hiervan. 22Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. 23Die gereelde oggendbrandoffers moet nog steeds gebring word bo en behalwe hierdie offer. 24Julle moet ook vir die volle sewe dae ’n kosoffer bring wat vir die Here verbrand kan word, want dit is die offers waarvan Hy hou en wat Hy aanvaar. Hierdie offers word geoffer bo en behalwe die gereelde brandoffer en die drankoffer. 25Op die sewende dag van die fees moet julle weer vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op daardie dag mag niemand werk nie.”
Offers by die oesfees
26“Op die eerste dag van die oesfees, sewe weke na paasfees, moet julle ’n graanoffer uit die nuwe oes bring om vir die Here dankie te sê vir die oes. Dan moet julle ’n spesiale lofprysingsgeleentheid hou. Op daardie dag mag niemand werk nie. 27Dan moet julle vir die Here ’n spesiale brandoffer bring waarvan Hy hou: twee jong bulle, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies. 28Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met elke ram twee kilogram 29en saam met elke lam een kilogram. 30Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. 31Bo en behalwe hierdie offer moet die daaglikse brandoffer en die graanoffer steeds gebring word. Sorg ook dat die diere wat geoffer word, niks makeer nie.”

Currently Selected:

Numeri 28: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy