YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 24

24
1Teen hierdie tyd het Bileam besef dat die Here die Israeliete wil seën met sy goedheid. Daarom het hy nie soos die vorige kere eenkant toe gegaan om te hoor of die Here iets anders wil sê nie. Al wat hy gedoen het, was om om te draai en na die woestyn se kant toe te kyk. 2Toe hy die Israeliete se kamp so voor hom sien met al die stamme so bymekaar, het God se Gees oor hom gekom, 3en hy het die volgende gesê: “Hierdie is wat Bileam die seun van Beor gesien het nadat die Here sy oë oopgemaak het. 4Dit is hy wat die Almagtige in ’n visioen sien met sy oë wawyd oop en wat voor Hom in gebed neerval.
“Hierdie is sy woorde: 5Hoe mooi lyk julle tente, Jakob, en hoe pragtig is julle kampplek, Israel. 6Dit lyk soos lanings palmbome, soos ’n tuin langs ’n rivier. Soos rye aalwyne wat deur die Here geplant is of sederbome wat by waterryke plekke groei.
7“Hulle het reën in oorvloed, daar is oorgenoeg water vir gesaaides. Hulle koning is belangriker as Agag en sy koninkryk sal oral bekend wees.
8“God het hulle uit Egipte uit laat trek en Hy veg vir hulle met sy reusekrag wat g’n gelyke het nie. Die Israeliete vee hulle vyande voor hulle weg en breek hulle bene en hulle pyle in stukkies. 9Israel is soos ’n leeu wat gaan lê het om te rus. Wie waag dit om so ’n leeu op te jaag? Gelukkig is elkeen wat jou seën, o Israel, en vervloek is elkeen wat jou vervloek! Die Here sal hulle straf.”
10Teen dié tyd was Balak al woedend vir Bileam. Hy het sy vuiste in die lug voor hom geswaai en gesê: “Wat dink jy doen jy? Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, maar jy het hulle nou al drie keer na mekaar geseën! 11Maak dat jy hier wegkom! Gaan terug na jou huis toe. Ek was van plan om jou goed te betaal, maar die Here het gesorg dat jy niks kry nie!”
12Toe sê Bileam vir Balak: “Onthou jy nie wat ek vir jou laat weet het nie? Ek het gesê: 13Selfs al sou Balak vir my sy paleis vol silwer en goud gee, kan ek nog steeds net doen wat die Here my God my toelaat. Niks anders as dit nie. 14Ek gaan nou terug na my eie mense toe. Maar net voordat ek gaan, laat ek net eers vir jou vertel wat die Israeliete met jou volk gaan doen.”
Bileam se vierde uitspraak, dié keer oor Balak en sy volk
15Hierdie is wat Bileam die seun van Beor gesien het nadat die Here sy oë oopgemaak het. 16Dit is hy wat die Almagtige in ’n visioen sien met sy oë wawyd oop en wat voor Hom in gebed neerval.
17“Ek sien die toekoms, en ek sien die volk Israel. Daar sal ’n koning uit hierdie volk gebore word en hy sal soos ’n ster wees wat helder skyn. Hy sal Moab se leiers verslaan en Set se mense vernietig. 18Hy sal Edom verower en Seïr, wat nog altyd sy vyand was, se gebied inneem. Hy sal Israel op ’n triomftog lei.
19“Die regeerder kom uit Jakob. Hy sal die mense uit die stede wat oorgebly het, doodmaak.”
20Bileam het ook ’n woord vir die Amalekiete gehad: “Amalek was die magtigste nasie van almal, maar sy vernietiging is voor die deur.”
21Vir die Keniete het Bileam gesê: “Julle bly op ’n baie veilige plek; soos ’n voël wat op ’n rots nes gemaak het. 22Maar Kain se nageslag sal verdwyn wanneer die Assiriërs hulle as gevangenes wegvoer.”
23Hierdie was Bileam se laaste uitspraak: “Wie kan bly lewe as God dit nie wil hê nie? 24Daar kom skepe van Siprus af, hulle sal vir Assirië en Heber aanval, maar hulle sal self ook vernietig word.”
25Toe is Bileam huis toe en Balak het sy eie koers ingeslaan.

Currently Selected:

Numeri 24: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy