YouVersion Logo
Search Icon

Job 41

41
1“As niemand dit sal waag om die draak te pak nie, wie kan dan enigsins dink om My aan te vat? 2Wie wil My uitdaag en eise aan My stel? Alles op die aarde behoort aan My.
3“Ek wil nog verder praat oor die krag in die draak se bene en sy hele lyf. 4Wie kan deur sy dik, skubberige vel sny en wie kan sy vel aftrek? 5Wie kan sy kake ooptrek? Sy tande is iets vreesliks. 6Sy skubbe op sy rug lê styf teen mekaar en beskerm hom soos ’n skild. 7Hulle is so dig op mekaar dat lig nie eers tussenin kan kom nie. 8Die skubbe sluit so dig teen mekaar dat niks tussen hulle kan inkom nie. Hulle kan nie van mekaar losgemaak word nie.
9“As hy nies, sien ’n mens net vonke. Sy oë is so rooi soos die son wat in die oggend opkom. 10Vlamme en vonke kom by sy mond uit. 11By sy neus borrel rook uit. Dit lyk amper soos stoom wat by ’n pot uitborrel wat op ’n vuur staan. 12Sy asem is so warm dat dit kole kan laat gloei, want vlamme kom by sy mond uit.
13“Die geweldige krag in sy nek maak mense oral waar hy gaan verskriklik bang. 14Sy vleis is hard en sit baie styf aan hom vas asof dit gegiet is. 15Sy hart is so hard soos ’n klip. Dit is so hard soos ’n maalklip. 16As hy opstaan, vlug selfs die gode. Hulle is bang hy verpletter hulle met sy stert. 17Daar is geen skerp wapen wat die draak in sy spore kan laat vassteek nie. 18Hy dink niks van yster nie, hy maak asof dit ’n stukkie strooi is. Hy maak met koper of dit ’n stuk verrotte hout is. 19Hy vlug nie as mense hom met pyle skiet nie. ’n Klip wat hom tref, maak net so min indruk op hom as ’n stukkie strooi. 20Jy kan hom maar met ’n kierie slaan, dit maak hom net mooi niks nie. Hy lag met minagting as hulle hom met spiese gooi. 21Die skubbe op sy maag is so skerp soos potskerwe. Hulle skeur die grond oop as hy homself deur die modder sleep.
22“As hy in die water rondspartel, lyk dit soos water wat in ’n pot kook. Die water van die meer skuim en borrel soos kokende olie. 23Hy los ’n blink streep agter hom op die water. Dit lyk amper of die see wit geword het van al die skuim. 24Daar is op aarde nie nog so ’n dier soos hy wat geen vrees ken nie. 25Hy dink absoluut niks van die ander diere nie, nie eers dié wat groter is as hy nie. Hy het geen respek vir hulle nie. Hy is die koning van al die diere.”

Currently Selected:

Job 41: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy