YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 9

9
’n Nuwe begin
1God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Word baie en maak die aarde van voor af vol mense. 2Alle diere op aarde en voëls in die lug asook alles wat op die aarde kruip, sal vir julle bang wees. Selfs die visse in die see sal julle vrees. Ek gee al hierdie diere in julle mag. Julle kan met hulle doen wat julle wil. 3Julle kan alles eet wat leef, ook alle groenigheid in die veld. 4Julle mag net nie bloederige rou vleis eet nie, want in die bloed lê die lewe. 5Net so is julle lewe ook vir My belangrik. Wie julle bloed laat vloei, sal moet rekenskap gee, of dit nou ’n dier of ’n mens is. As ’n mens iemand doodmaak, sal Ek van hom rekenskap eis.
6“Wie iemand doodmaak, sal doodgemaak word. God het die mens so gemaak dat hy na God lyk. Daarom mag mense mekaar nie doodmaak nie.
7“Wees vrugbaar en vermeerder. Maak die aarde vol mense en onderwerp dit.”
8God het toe vir Noag en sy seuns gesê: 9“Ek maak ’n ooreenkoms met julle en julle kinders 10en met al die diere wat saam met jou in die ark was: die voëls, die vee en elke wilde dier, met al die diere wat saam met jou by die ark uitgestap het en op aarde leef. 11Nooit weer sal ’n watervloed alle mense en diere doodmaak nie. Nooit weer sal ’n vloed die hele aarde heeltemal verwoes nie. Ek sal my ooreenkoms met julle hou.”
12God het verder gesê: “Ek gee vir julle ’n teken van my ooreenkoms, die ooreenkoms wat Ek sluit met alle mense en diere tot in die verre toekoms. 13Kyk, hoog bo in die wolke sit Ek ’n reënboog. Dit is die teken van die ooreenkoms tussen My en die aarde. 14Elke keer wanneer dit reën en jy die boog in die wolke sien, 15sal Ek aan die ooreenkoms dink tussen My en jou en elke lewende wese, dat hulle nooit weer deur ’n watermassa vernietig sal word nie. 16Telkens wanneer die boog verskyn, sal Ek dit sien en onthou van die ewige ooreenkoms tussen God en elke lewende wese op aarde.”
17God het toe vir Noag gesê: “Hierdie helder boog is dan die teken van die ooreenkoms wat Ek met almal op aarde gemaak het.”
Noag en sy seuns
18Noag se drie seuns, Sem, Gam en Jafet, het saam met hom uit die ark gekom. Gam was die voorvader van al die Kanaäniete. 19Uit hierdie drie seuns van Noag het al die mense op aarde ontstaan.
20Noag was ’n boer en hy was die eerste mens wat ná die vloed weer ’n wingerd geplant het. 21Hy het wyn gemaak en daarvan gedrink. Hy het te veel gedrink en dronk geword. Toe het hy sonder klere op sy bed in die tent gaan lê. 22Toe Gam, die voorvader van al die Kanaäniete, sien dat sy pa kaal in die tent lê, het hy sy twee broers daarvan vertel. 23Sem en Jafet wou nie hulle pa kaal sien nie en het toe klere gevat, dit oor hulle skouers gegooi en die tent agteruit binnegestap. Terwyl hulle anderpad kyk, het hulle die klere oor hulle pa gegooi.
24Toe Noag weer nugter was, het hy gehoor wat sy jongste kind aan hom gedoen het. 25Hy het toe vir hom gesê: “Gam, oor jou sal dit met die Kanaäniete sleg gaan. Hulle sal nog eendag vir jou broers werk.”
26Van Sem het hy gesê: “Loof die Here, die God van Sem. Kanaän sal nog Sem se vuilwerk doen.”
27Van Jafet het Noag gesê: “Mag Jafet se nageslag groot wees. Mag sy kinders saam met Sem se nageslag woon. Kanaän sal ook nog aan Jafet onderhorig wees.”
28Na die vloed het Noag nog 350 jaar geleef. 29Noag het gesterf toe hy 950 jaar oud was.

Currently Selected:

Genesis 9: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy