YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 118

118
Danklied van die feesvierende menigte.
1 LOOF die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
2 Laat Israel dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is!
3Laat die huis van Aäron dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is!
4Laat die wat die Here vrees, dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is!
5 Uit die benoudheid het ek die Here aangeroep; die Here het my verhoor in die ruimte.
6 Die Here is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan 'n mens my doen?
7 Die Here is vír my as my helper; so sal ék dan neersien op die wat my haat.
8Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou.
9Dit is beter om by die Here te skuil as om op edeles te vertrou.
10Al die heidene het my omsingel; dit is in die Naam van die Here dat ek hulle stukkend gekap het.
11Hulle het my omsingel, ja, hulle het my omsingel; dit is in die Naam van die Here dat ek hulle stukkend gekap het.
12Hulle het my omsingel soos bye — hulle is uitgeblus soos 'n doringtakvuur; dit is in die Naam van die Here dat ek hulle stukkend gekap het.
13Jy het my hard gestamp om my te laat val, maar die Here het my gehelp.
14Die Here is my sterkte en psalm, en Hy het my tot heil geword.
15'n Stem van gejubel en van heil is in die tente van die regverdiges: die regterhand van die Here doen kragtige dade.
16 Die regterhand van die Here verhef; die regterhand van die Here doen kragtige dade.
17Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die Here vertel.
18Die Here het my hard gekasty, maar my aan die dood nie oorgegee nie.
19 Maak oop vir my die poorte van die geregtigheid; ek wil daardeur ingaan, ek wil die Here loof.
20Dit is die poort van die Here; regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof, omdat U my verhoor het en my tot heil geword het.
22 Die steen wat die bouers verwerp het, het 'n hoeksteen geword.
23Dit het van die Here gekom; dit is wonderbaar in ons oë.
24Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.
25Ag, Here, gee tog heil; ag, Here, gee tog voorspoed!
26 Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here! Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God, en Hy het vir ons lig gegee. Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar.
28U is my God, en ek wil U loof; o my God, ek wil U verhoog.
29 Loof die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!

Currently Selected:

PSALMS 118: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy