YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 27

27
Verlossing van Israel uit die wêreldmag.
1 IN dié dag sal die Here met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is.
2In dié dag sal daar wees 'n wingerd van skuimende wyn — sing daarvan!
3 Ek, die Here, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie.
4Geen grimmigheid is by My nie. Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek daarop aanval, dit alles saam verbrand.
5Of hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak.
6In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak.
7Het Hy hom geslaan met die slag wat sy teëstander getref het? Of is hy gedood met 'n slagting soos die wat deur Hom gedood is?
8Met mate het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; Hy het hom verdrywe met sy geweldige wind op die dag van die oostewind.
9Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie.
10Want die versterkte stad is eensaam, 'n woning wat ontvolk en verlate is soos die woestyn; daar wei kalwers en daar lê hulle, en hulle eet sy takke af.
11As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die brand; want dit is 'n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie.
12En in dié dag sal die Here vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel!
13En in dié dag sal daar met 'n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem.

Currently Selected:

JESAJA 27: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy