YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 7

7
U moet my Regter wees
1'n Klaaglied van Dawid. Hy het hierdie lied vir die Here gesing oor iets wat Kus, van die Benjamin-stam, vir hom gesê het.
2My God die Here, ek vra vir Ú om my te beskerm.
Mense jaag my en hulle wil my vang,
U moet my red en my vrymaak.
3As U dit nie doen nie,
dan sal hulle my doodbyt
soos 'n leeu 'n dier doodbyt
wanneer daar niemand is
wat die dier kan red nie.
4My God die Here, my vyande sê
ek het verkeerde dinge gedoen,
5hulle sê ek het my vriende verraai
en ek het my vyande se goed gevat
toe hulle niks verkeerd gedoen het aan my nie.
6As dit waar is dat ek dit gedoen het,
dan moet my vyande my vang
en my doodtrap en in die stof laat lê.
Sela
7Here, U moet kwaad word,
U moet my vyande aanval
wat so kwaad is vir my,
U moet my nou help.
U het gesê mense moet reg doen aan mekaar.
8U moet al die volke bymekaarbring by U
en U moet hoog bo hulle gaan sit op u troon.
9Here, dit is U wat die volke sal oordeel,
U moet my Regter wees,
U weet ek het reg gedoen
en ek is onskuldig.
10U toets 'n mens,
U weet wat hy in sy hart voel en wat hy dink,
U is die Regverdige God.
Asseblief, U moet die mense wat verkeerd doen,
laat ophou verkeerd doen,
U moet dit goed laat gaan met die mense wat reg doen.
11U is my skild, o God, U beskerm mense wat eerlik is.
12U is 'n regverdige Regter, o God,
U is 'n God wat altyd mense straf wat skuldig is.
13Die vyand hou nie op nie, hy maak sy swaard skerp,
hy trek sy boog styf, hy wil my skiet.
14Maar sy eie wapens sal hom doodmaak,
die pyle wat hy maak, sal sy eie huis aan die brand steek.
15Almal kan sien hy hou aan om verkeerde dinge te doen,
hy laat mense swaarkry en hy lieg.
16Maar hy sal self val in die diep gat
wat hy vir my gegrawe het.
17Hy wil my laat swaarkry en my seermaak,
maar hy sal self swaarkry en seerkry.
18Ek sal die Here prys wat reg sal doen aan my.
Ek sal sing oor die Naam van die Here,
die Hoogste God.

Currently Selected:

Psalms 7: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy