YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 106

106
Ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig
1Julle moet die Here prys.
Julle moet vir die Here dankie sê,
want Hy is goed,
ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.
2Niemand kan sê hoe sterk die Here is nie,
niemand kan Hom reg prys nie.
3Dit gaan goed met mense
wat aanhou om reg te oordeel,
met mense wat altyd reg doen.
4Here, wanneer U goed is vir u volk,
dan moet U ook aan my dink.
Wanneer U hulle red,
dan moet U my nie vergeet nie.
5Dan sal ek sien hoe goed gaan dit
met u mense, U het hulle gekies.
Ek sal bly wees wanneer u volk bly is,
ek sal juig saam met die mense wat aan U behoort.
6Ons het sonde gedoen soos ons voorvaders,
ons het verkeerde dinge gedoen, ons is skuldig.
7Ons voorvaders het in Egipte
nie u wonderwerke verstaan nie,
hulle het nie onthou dat U altyd
doen wat U belowe het nie.
Hulle was opstandig by die see, die Riet-see.
8Maar Hy het hulle gered omdat Hy God is,
omdat Hy wou hê hulle moet weet
dat Hy sterk is.
9Hy het hard gepraat met die Riet-see,
en die see het droog geword.
Hy het ons voorvaders laat deurloop
op die plek waar daar voorheen diep water was,
hulle het deurgeloop soos in 'n woestyn.
10Hy het hulle gered van die mense
wat vir hulle gehaat het,
Hy het hulle vrygemaak van hulle vyande.
11Die water het bo-oor hulle vyande gespoel,
nie een van hulle het aangehou lewe nie.
12Toe het ons voorvaders geweet
dat die Here doen wat Hy sê,
hulle het gesing en Hom geprys.
13Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het,
hulle het nie gewag totdat Hy vir hulle sê
wat hulle moet doen nie.
14Hulle was honger vrate in die woestyn,
hulle het God getoets in die woestyn.
15En Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het,
maar Hy het hulle ook siek gemaak en maer laat word.
16Hulle was in die kamp baie kwaad vir Moses
en vir Aäron wat aan die Here gewy was.
17Toe het die aarde oopgegaan en vir Datan ingesluk,
dit het toegegaan oor Abiram en sy vriende.
18'n Vuur het hulle almal gebrand,
'n vlam het die mense verbrand
wat verkeerd gedoen het.
19Hulle het by Horeb 'n kalfbeeld gemaak,
hulle het gebuig voor 'n beeld.
20Hulle het hulle Koning gelos en hulle het 'n beeld aanbid,
'n beeld van 'n bul wat gras vreet.
21Hulle het vir God vergeet, God wat vir hulle gered het,
God wat groot dinge gedoen het in Egipte,
22wonderwerke in die land van Gam,
en dinge by die Riet-see, dit het die mense bang laat word.
23Die Here het besluit om hulle almal te laat sterf,
en Hy sou dit gedoen het, maar Moses het vir Hom gesoebat
om dit nie te doen nie.
Die Here het voorheen vir Moses gekies,
en Moses het nou gekeer dat die Here
hulle nie almal doodmaak nie.
24Die mense het gemaak of die mooi land niks beteken nie,
hulle het nie geglo dat die Here sal doen wat Hy gesê het nie.
25Hulle het in hulle tente gesit en kla,
hulle wou nie luister na wat die Here sê nie.
26Die Here het vas besluit dat Hy hulle sou laat sterf
in die woestyn,
27dat Hy hulle nageslag sou laat sterf tussen heidene,
dat Hy hulle oral na ander lande sou jaag.
28Hulle het vir Baäl-Peor begin dien,
hulle het vleis geëet wat die mense ge-offer het vir dooie afgode.
29Hulle het die Here kwaad gemaak
omdat hulle verkeerde dinge gedoen het,
en hulle het baie siek geword.
30Maar Pinehas het opgestaan
en hy het die mense gestraf wat skuldig was,
en toe het die mense nie meer siek geword nie.
31Mense sal altyd en altyd onthou
dat Pinehas gedoen het wat reg was.
32 Die volk het die Here kwaad gemaak
by die Meriba-water,
en dit het sleg gegaan met Moses
omdat hulle dit gedoen het.
33Hulle het Moses baie kwaad gemaak,
hy het nie gedink wat hy sê nie,
en hy het dinge gesê wat baie verkeerd was.
34Die Here het vir die volk gesê
hulle moet die volke wat heidene was,
almal doodmaak,
maar hulle het dit nie gedoen nie.
35Hulle het met heidene getrou
en hulle het geleer om te doen wat die heidene doen.
36Hulle het die heidene se afgode begin dien,
en dit het hulle vasgevang
soos 'n vangstrik 'n voël vasvang.
37Hulle het hulle seuns en hulle dogters
vir die veldgode ge-offer.
38Hulle het onskuldige mense vermoor,
hulle het hulle eie seuns en dogters
ge-offer vir die afgode van Kanaän.
Hulle het die land vuil gemaak met bloed.
39Hulle het onrein geword oor die dinge
wat hulle gedoen het,
hulle was ontrou aan God,
hulle het baie verkeerde dinge gedoen.
40Die Here het baie kwaad geword vir sy volk,
Hy het nie meer gehou van die mense
wat aan Hom behoort nie.
41Toe het Hy sy volk vir die heidene gegee,
sodat die heidene oor hulle kon regeer,
die heidene wat vir hulle gehaat het.
42Die volk se vyande het hulle verdruk
en laat swaarkry.
43Die Here het hulle baie maal gered,
maar hulle het besluit om opstandig te bly,
hulle het altyd meer verkeerde dinge gedoen.
44Die Here het gesien dat dit sleg gaan met hulle
en Hy het gehoor hoe hulle soebat dat Hy hulle moet help.
45Hy het toe gedink aan sy verbond met hulle
en Hy het dit beter laat gaan met hulle,
Hy het onthou dat hulle sý mense is.
46Hy het hulle vyande se harte verander,
die vyande wat vir hulle gevang en weggevat het.
Die vyande was toe jammer vir die volk van die Here.
47Ons God die Here, U moet ons red,
U moet ons bymekaarmaak tussen die volke,
sodat ons u heilige Naam kan sê
en vir U dankie kan sê,
sodat ons dit sal geniet om U te prys.
48 Almal moet die Here, die God van Israel, prys,
hulle moet Hom altyd en altyd prys.
En die hele volk moet sê: Amen.
Julle moet die Here prys!

Currently Selected:

Psalms 106: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy