YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 2

2
Die geboorte van Jesus Christus
(Ook Matt 1:18-25)
1In daardie tyd het keiser Augustus gesê al die mense oor wie hy regeer, moet hulle laat registreer. 2Sirenius was die goewerneur wat in daardie tyd oor die provinsie Sirië regeer het. 3Al die mense het gegaan om te registreer, elkeen het gegaan na die stad waar sy familie altyd gewoon het. 4Josef het in Nasaret in Galilea gewoon, maar hy moes na Betlehem gaan om te registreer. Betlehem was die stad van koning Dawid, en Josef was van die nageslag van koning Dawid. 5Josef was verloof aan Maria. Sy was swanger en sy het saam met Josef gegaan. 6Toe hulle in Betlehem was, het dit tyd geword dat Maria haar baba moes kry. 7Haar Seun is gebore. Hy was haar eerste kind. Sy het Hom toegedraai in doeke en Hom neergesit in 'n krip, want daar was nie vir Josef en Maria plek waar die ander mense gebly het nie.
Die skaapwagters en die engele
8Daar was skaapwagters buite in die veld naby Betlehem. Hulle het in die nag hulle skape opgepas. 9'n Engel van die Here het by hulle kom staan, en die lig van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle was baie bang. 10Die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want ek bring vir julle 'n goeie boodskap. Al die mense sal baie bly wees daaroor. 11Vandag is julle Redder in die stad van Dawid gebore. Hy is Christus die Here. 12Julle sal weet dit is Hy wanneer julle 'n baba sien wat toegedraai is en in 'n krip lê.”
13Skielik was daar saam met die engel nog baie ander engele uit die hemel. Hulle het God geprys en gesê:
14Prys God in die hoogste hemel.
By die mense op die aarde
sal daar vrede wees,
by die mense vir wie Hy lief is.
15Die engele het van die skaapwagters weggegaan na die hemel. Toe het die skaapwagters vir mekaar gesê: “Kom ons gaan dadelik na Betlehem sodat ons kan sien wat gebeur het. Dan sal ons sien wat die Here vir ons vertel het.”
16Die skaapwagters het haastig daarnatoe gegaan en hulle het vir Maria en Josef gekry en ook die baba wat in die krip lê. 17Toe die skaapwagters dit alles sien, het hulle vir die mense vertel wat die engel vir hulle gesê het oor hierdie Kindjie. 18Almal wat dit gehoor het, was verbaas oor wat die skaapwagters vir hulle vertel het. 19Maar Maria het alles onthou en baie maal daaroor gedink. 20Die skaapwagters het teruggegaan. Hulle het God geloof en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit het alles gebeur soos die engel vir hulle vertel het.
Jesus word besny
21Toe Jesus ag dae oud was, was dit die tyd om Hom te besny, en toe het hulle Hom Jesus genoem. Dit was die naam wat die engel vir Maria gesê het voordat sy swanger geword het. 22Moses het in sy wette geskryf wat 'n vrou moet doen om weer rein te word nadat sy 'n kind gekry het. Maria het dit alles gedoen en daarna het sy en Josef vir Jesus na Jerusalem gebring om Hom aan die Here te wy.
23Die wet van die Here sê:
Julle moet die eerste seun
van elke vrou aan die Here wy.
24Josef en Maria het ook 'n offer gebring, want die wet van die Here sê ook:
Die vrou moet 'n offer
vir die Here bring.
Sy moet twee tortelduiwe
of twee jong duiwe offer.
Simeon en Anna by die tempel
25Daar was 'n man in Jerusalem, sy naam was Simeon. Hy het gedoen wat die Here wil hê, en hy het die Here elke dag gedien. Hy het geweet die Here sal Iemand stuur om sy volk te kom red, en hy het elke dag vir Hom gewag. Die Heilige Gees was in Simeon. 26Die Heilige Gees het voorheen vir hom gesê hy sal Christus die Here sien voordat hy sterf. 27Die Heilige Gees het eendag vir Simeon gesê hy moet na die tempel gaan. Dit was toe Josef en Maria vir Jesus gebring het om met Hom te doen soos die Wette van Moses sê. 28Simeon het die Kindjie in sy arms gehou en hy het God geprys en gesê:
29Here, U het gedoen
wat U vir my gesê het.
Nou kan ek sterf, ek is tevrede,
30want ek het self
die Redder gesien.
31U het Hom vir ons gestuur,
en al die volke sal Hom sien.
32Al die volke sal sien Hy is die lig
en hulle sal u volk Israel eer.
33Josef en Maria was baie verbaas oor wat Simeon gesê het oor Jesus. 34Simeon het hulle geseën en hy het vir Maria, Jesus se ma, gesê: “Hierdie Kind het gekom, Hy sal wees soos 'n klip waaroor baie mense val, maar Hy sal ook baie mense red. Hy is die Redder, maar nie al die mense sal dit glo nie. 35Daarom, Maria, sal jy baie swaar kry. Die mense sal oor Hom stry en so sal almal weet wat die mense oor hierdie Kind dink.”
36Dieselfde dag was daar ook 'n profeet in die tempel. Haar naam was Anna en sy was baie oud. Sy was 'n dogter van Fanuel, uit die Aser-stam. Sy het getrou toe sy jonk was, en haar man het ná sewe jaar gesterf. 37Nadat hy gesterf het, het sy nie weer getrou nie. Sy was nou 84 jaar oud en sy was elke dag by die tempel. Sy het God elke dag en nag gedien en gevas en gebid. 38Anna het by Josef en Maria gaan staan en sy het God gedank. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat geweet het dat God Jerusalem wil vrymaak, almal wat daarvoor gewag het.
Josef en Maria gaan terug na Nasaret
(Ook Matt 2:22-23)
39Josef en Maria het alles gedoen wat die wette van die Here gesê het en toe het hulle teruggegaan na hulle stad Nasaret in Galilea. 40Die Kindjie het groot en sterk geword. God het vir Hom baie wysheid gegee en God was goed vir Hom.
Jesus by die tempel
41Jesus se ouers het elke jaar na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier. 42Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle weer, soos altyd, na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier. 43Toe die fees verby was, het Josef en Maria teruggegaan na Nasaret, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly, en sy ouers het dit nie geweet nie. 44Toe hulle sien Jesus is nie by hulle nie, het hulle gedink Hy is by die ander mense wat saam teruggegaan het. Hulle het 'n dag lank geloop en toe het hulle vir Jesus begin soek by hulle familie en vriende. 45Hulle kon Hom nie kry nie en hulle het teruggegaan na Jerusalem om Hom daar te gaan soek. 46Ná drie dae het hulle Hom in die tempel gekry. Hy het tussen die slim mense gesit en Hy het na hulle geluister en vir hulle vrae gevra. 47Almal wat na Jesus geluister het, was baie verbaas omdat Hy so slim was en so goed kon antwoord. 48Toe Jesus se ouers Hom sien, was hulle baie bly, en sy ma het vir Hom gesê: “My Kind, hoekom het jy dit gedoen? Jou pa en ek het jou gesoek en ons was baie bekommerd.”
49Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom het julle My gesoek? Het julle nie geweet nie? Ek moet hier wees, Ek moet oor my Vader praat.”
50Hy het dit vir hulle gesê, maar hulle het dit nie verstaan nie. 51Jesus het toe saam met sy ouers na Nasaret gegaan, en Hy was gehoorsaam aan sy ouers. Sy ma het alles onthou wat gebeur het, en sy het baie maal daaroor gedink. 52Jesus het groot geword en nog meer wysheid gekry. God en die mense was lief vir Hom.

Currently Selected:

Lukas 2: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy