YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 3

3
Johannes die Doper preek in die woestyn
(Ook Matt 3:1-3,7-12; 14:3-4; Mark 1:2-4,7-8; 6:17-18; Joh 1:19-28)
1Dit was in die vyftiende jaar nadat Tiberius keiser geword het. Pontius Pilatus het regeer oor Judea. Koning Herodes het regeer oor Galilea. Sy broer Filippus het regeer oor Iturea en Tragonitis. Lisanias het regeer oor Abilene. 2Annas en Kajafas was hoëpriesters. In daardie tyd het God met Johannes gepraat. Johannes was die seun van Sagaria. Johannes het in die woestyn gewoon. 3Hy het toe oral vir die mense naby die Jordaan-rivier gaan preek. Hy het gesê die mense moet verander en lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop. Dit sal beteken dat God hulle sondes vergewe het. 4Johannes het gedoen soos die profeet Jesaja in sy boek geskryf het:
Iemand skree in die woestyn.
Hy sê: Julle moet die pad
gereedmaak vir die Here.
Julle moet sy paaie reguit maak.
5Elke kloof in die berg sal toegaan,
en elke berg en heuwel
sal plat wees.
Die krom paaie sal reguit wees
en die ongelyk paaie
sal gelyk wees.
6Almal sal dan sien dat God
die mense red.
7Baie mense het na Johannes toe gekom en gevra dat hy hulle moet doop. Maar Johannes het vir hulle gesê: “Julle is so skelm soos slange! Julle sal nie kan wegvlug wanneer God se straf kom nie. 8Nee, julle moet wys julle het verander en julle lewe nou soos God wil hê. Julle moet wys julle is soos bome wat goeie vrugte dra. Julle sê vir mekaar: ‘Ons is kinders van Abraham,’ en daarom dink julle God sal julle nie straf nie. Julle moenie dit sê nie, dit is nie waar nie. Ek sê vir julle: God kan van hierdie klippe kinders vir Abraham maak. 9God het al klaar begin om te oordeel. Dit is soos wanneer iemand met 'n byl elke boom afkap wat nie goeie vrugte dra nie, en dit in die vuur gooi.”
10Die mense vra toe vir Johannes: “Wat moet ons dan doen?”
11Johannes het vir hulle gesê: “As jy twee stukke klere het, dan moet jy een gee vir iemand wat niks klere het nie. En as jy kos het, dan moet jy kos gee vir mense wat nie kos het nie.”
12Die tollenaars het ook gekom sodat Johannes hulle kan doop. Hulle het vir hom gevra: “Meneer, wat moet ons doen?”
13Johannes het vir hulle gesê: “Julle moenie meer tolgeld van die mense vat as wat julle mag vat nie.”
14Die soldate het ook vir Johannes gevra: “En óns, wat moet ons doen?”
Johannes het vir hulle gesê: “Julle moenie mense seermaak of hulle dwing om vir julle geld te gee nie. Julle moet tevrede wees met die geld wat julle kry.”
15Die mense het toe met mekaar gepraat en gevra of Johannes miskien die Christus is. 16Johannes het vir almal gesê: “Ek doop julle met water, maar later sal Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. 17Hy sal nou die mense oordeel. Dit sal wees soos wanneer iemand 'n vurk neem om die koring en die kaf op sy dorsvloer van mekaar te skei. Hy maak die koring bymekaar en bêre dit in sy stoorkamer, en Hy verbrand die kaf. Die oordeel van God sal wees soos 'n vuur wat nie ophou brand nie.”
18Johannes het aangehou om die mense oor baie dinge te waarsku, en so het hy die goeie boodskap vir hulle gebring. 19Johannes het ook ernstig met koning Herodes gepraat en vir hom gesê hy mag nie sy broer se vrou, Herodias, vir hom vat nie. Johannes het ook vir Herodes gewaarsku oor al die verkeerde dinge wat hy gedoen het. 20Maar Herodes het toe iets gedoen wat nog slegter is: Hy het vir Johannes in die tronk toegesluit.
Johannes doop vir Jesus
(Ook Matt 3:13,16-17; Mark 1:9-11; Joh 1:29,32-34)
21Johannes het al die mense gedoop, ook vir Jesus. Toe hy klaar vir Jesus gedoop het, het Jesus gebid, en toe het die hemel oopgegaan. 22Die Heilige Gees het afgekom na Jesus toe soos 'n duif uit die lug afkom. God het uit die hemel gesê: “Jy is my Seun, Ek is lief vir Jou. Jy maak My bly.”
Jesus se voorouers
(Ook Matt 1:1-17)
23Jesus was omtrent 30 jaar oud toe Hy begin het om te preek en om wondertekens te doen. Die mense het gedink Hy is die seun van Josef. Josef was die seun van Eli, 24Eli die seun van Mattat, en Mattat die seun van Levi. Levi was die seun van Melgi, en Melgi die seun van Jannai, en Jannai die seun van Josef. 25Josef was die seun van Mattatias, Mattatias die seun van Amos, Amos die seun van Nahum, Nahum die seun van Hesli, Hesli die seun van Naggai, 26Naggai die seun van Mahat, Mahat die seun van Mattatias, Mattatias die seun van Semeïn, Semeïn die seun van Josek, Josek die seun van Joda, 27Joda die seun van Johanan, Johanan die seun van Resa, Resa die seun van Serubbabel, Serubbabel die seun van Sealtiël, Sealtiël die seun van Neri, 28Neri die seun van Melgi, Melgi die seun van Addi, Addi die seun van Kosam, Kosam die seun van Elmadam, Elmadam die seun van Er, 29Er die seun van Josua, Josua die seun van Eliëser, Eliëser die seun van Jorim, Jorim die seun van Mattat, Mattat die seun van Levi, 30Levi die seun van Simeon, Simeon die seun van Juda, Juda die seun van Josef, Josef die seun van Jonam, Jonam die seun van Eljakim, 31Eljakim die seun van Melea, Melea die seun van Menna, Menna die seun van Mattata, Mattata die seun van Natan, Natan die seun van Dawid, 32Dawid die seun van Isai, Isai die seun van Obed, Obed die seun van Boas, Boas die seun van Sala, Sala die seun van Nagson, 33Nagson die seun van Amminadab, Amminadab die seun van Admin, Admin die seun van Arni, Arni die seun van Gesron, Gesron die seun van Peres, Peres die seun van Juda, 34Juda die seun van Jakob, Jakob die seun van Isak, Isak die seun van Abraham, Abraham die seun van Tera, Tera die seun van Nahor, 35Nahor die seun van Serug, Serug die seun van Rehu, Rehu die seun van Peleg, Peleg die seun van Heber, Heber die seun van Sala, 36Sala die seun van Kenan, Kenan die seun van Arpagsad, Arpagsad die seun van Sem, Sem die seun van Noag, Noag die seun van Lameg, 37Lameg die seun van Metusalag, Metusalag die seun van Henog, Henog die seun van Jered, Jered die seun van Mahalalel, Mahalalel die seun van Kenan, 38Kenan die seun van Enos, Enos die seun van Set. Set was die seun van Adam, en Adam was die seun van God.

Currently Selected:

Lukas 3: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy